Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Books LIVE

Protea Boekhuis Latest

Melt Myburgh en Susan Smith neem poolshoogte van die stand van Afrikaanse skryfwerk

In die afwesigheid van sinOewerbestaanLitNet se Poolshoogte-webseminaar duur voort, waar skrywers, uitgewers, letterkundiges, boekjoernaliste en lesers genooi word om die volgende vraag te beantwoord: Waar staan die Afrikaanse letterkunde 20 jaar ná demokrasie?
Twee van Protea Boekhuis se skrywers, Melt Myburgh en Susan Smith, het ook tot die aanlyn kongres bygedra.

Smith, outeur van In die afwesigheid van sin, kyk in haar artikel na “Die tasbaarheid en die onaantasbaarheid van literatuurteorie: ekokritiek en die nuwe materialisme”. Sy skryf: “Almal is dit eens dat daar nie ’n eenvoudige korrelasie is in die verhouding tussen teks en teorie nie. Die literêre sisteem is kompleks en interaktief en laat hom nie in netjiese boksies verpak nie. Meer nog, direkte ooreenstemming tussen lewens- en ideologieveranderende tendense en gebeure in die wêreld manifesteer nie noodwendig in ’n afgebakende, gedefinieerde literêre stroming nie.”

In die postmoderne tyd waarin ons leef, is literatuurstudie voortdurend aan die verander en fluktueer. Om in die jaar 2014 poolshoogte van die stand van Afrikaanse letterkunde te neem, beteken uiteraard dat hierdie soort besinning binne ’n globale konteks moet plaasvind en dat daar ook na die stand van literatuurteorie gekyk moet word. Literatuurteorie kan gesien word as ’n heersende stel konsepte en intellektuele aannames wat die verhouding tussen die kunswerk en die samelewing op ’n gegewe tyd in die geskiedenis formuleer en reflekteer en wat inherent ’n kultuurproduk is wat die wyse waarop tekste kultuur skep, ondersoek.

Almal is dit eens dat daar nie ’n eenvoudige korrelasie is in die verhouding tussen teks en teorie nie. Die literêre sisteem is kompleks en interaktief en laat hom nie in netjiese boksies verpak nie. Meer nog, direkte ooreenstemming tussen lewens- en ideologieveranderende tendense en gebeure in die wêreld manifesteer nie noodwendig in ’n afgebakende, gedefinieerde literêre stroming nie.

Waaruit spruit literêre teorieë dan? Wanneer begin die pendulum swaai van een siening na ’n ander? En hoe onaantasbaar is die sentrale teorieë?

Myburgh, outeur van Oewerbestaan, skryf in sy artikel getiteld “Die ander 85%” oor die koms van die internet en die invloed van sosiale media op die gesprek rondom Afrikaanse letterkunde. “Die impak wat dié interessante ontwikkeling vir die literêre bedryf inhou, is nog besig om uit te speel. Hoe die literêre landskap uiteindelik sal verander (ten goede of ten kwade), moet nog gesien word.”

Die koms van die internet en sosiale media het ’n verbysterende demokratiserende effek op die stemme, opinies en uitinge van die breë samelewing tot gevolg wat interessante gevolge vir die formele letterkunde kan inhou. Voorheen het die gedrukte media, binne die beperkte spasie van papier en ink, ’n monopolie op die verspreiding van menings gehad en die eksklusiewe reg voorbehou om te besluit wie vir daardie opinies genader sou word. Die internet het daardie monopolie oornag ondermyn met die vestiging van ’n swetterjoel nuwe forums waar Jan Rap en sy maat se opinies oor allerlei sake onmiddellik in die openbare domein naas dié van “kenners” met gevestigde reputasies gepubliseer word.

Die impak wat dié interessante ontwikkeling vir die literêre bedryf inhou, is nog besig om uit te speel. Hoe die literêre landskap uiteindelik sal verander (ten goede of ten kwade), moet nog gesien word. Wat ons wel weet, is dat daar alreeds ’n uitgesproke spanning heers tussen die gepubliseerde eksponente van die gevestigde, “ernstige” literatuur en die ongepubliseerde eksponente van die informele skryfbedryf. Die verskil tussen dié produkte is dat die gevestigde of hogere literatuur in wese elitisties is, met produkte wat die ideaal van ewigheidswaarde en universaliteit in gedronge woordkonstruksies nastreef, teenoor die tuisliteratuurprodukte, waar literêre diepgang nie ’n vereiste is nie.

Boekbesonderhede