Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Marco Viale se Gaap is ’n uitstekende boek vir ouers wat sukkel om kleintjies aan die slaap te maak!

Het jy al ooit probeer om op te hou gaap? Dis onmoontlik!
Dis soos om te probeer om die reën te laat ophou val. Of soos om jou ouers te oorreed dat sjokolade jou vinniger sal laat groei as groenbone.
As ’n gaap kom, moet dit nie onderdruk nie, want netnou raak jy aan die slaap!

Hierdie is ’n uitstekende boek vir ouers wat sukkel om kleintjies aan die slaap te maak! Niemand kan met hierdie boek ’n GAAP onderdruk nie!

Marco Viale is in ’n klein Italiaanse kusdorpie gebore. Hy is outeur en illustreerder, skilder, en het veel van sy werke in hoofkunsgalerye in Italië en Suid-Frankryk uitgestal. Die uitgewerye met wie hy al gewerk het, sluit in DeAgostini, Mondadori, Einaudi, Ravensburger, Pearson en Usborne. In 2013 is die nasionale Italiaanse prys “Nati per Leggere 2013″ aan hom toegeken en in 2014 wen hy die “Il Mangialibro 2014″-kompetisie vir La città dei lupi blu.

Boekbesonderhede

Jan De Kinder se Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? is ’n pragtig geïllustreerde en humoristiese prenteboek met verwysing na die bekende sprokie Rooikappie

Pappa Wolf en Wolfie gaan verken die bos. Pappa Wolf is glad nie op sy gemak nie, hy sien oral gevaar! Wolfie probeer om sy pappa moed in te praat en hardloop vrolik vooruit.

’n Pragtig geïllustreerde en humoristiese prenteboek met verwysing na die bekende sprokie Rooikappie.

OOR DIE OUTEUR & ILLUSTREERDER
Die Belgiese skrywer en kunstenaar Jan De Kinder het in 2002 gedebuteer met die prenteboek Mathilde. Sedertdien is sy werk al in 14 tale vertaal. Naas skrywer, kunstenaar, spreker en voorleser is Jan ook ’n passievolle eenwielfietsryer met belangstelling in professionele hansworsery, sirkus, improvisasie en straatteater. Sy gunstelingkleur is rooi – in elke denkbare skakering. Hy woon in die Vlaamse stad Tienen saam met sy vrou, drie dogters en ’n mannetjieskat.

Boekbesonderhede

’n Drie-in-een Afrikaanse vertaling van Paddington – die oulike beertjie uit Donker Peru – is nou beskikbaar!

Paddington 2
Hierdie is ’n drie-in-een boek! Afrikaanse vertaling van Paddington. (Paddington die kunstenaar; Paddington in die hospitaal & Paddington by die dieretuin).

Paddington – die beertjie uit Donker Peru – en sy vriend besoek ’n kunsuitstalling, wat Paddington daar en dan laat besluit om ook te skilder. Hy hoop dat iemand sy skilderye sal koop, maar wag so lank dat hy uiteindelik aan die slaap raak. Toe hy wakker word, wag daar egter vir hom ’n groot verrassing.

Op ’n dag beland Paddington in die hospitaal, maar hy lei aan geheueverlies en kan glad nie onthou hoe hy seergekry het nie. Sal hy ooit weer sy geheue herwin?

Paddington, Jonathan en Judy gaan dieretuin toe. Maar o wee: “Troeteldiere” word nie toegelaat nie! Paddington is tog nie ’n troeteldier nie? Hy is dan deel van die Brown-gesin!
Paddington-beer se stories vermaak kinders regoor die wêreld al vir meer as vyf dekades.

OOR DIE OUTEUR
Thomas Michael Bond is ‘n bekroonde Engelse skrywer, die beste bekend vir sy Paddington-reeks.

OOR DIE ILLUSTREERDER
R. W. Alley het die Paddington-reeks geïllustreer. Hy woon in Barrington, Rhode Island, saam met sy vrou, skrywer Zoë B. Alley

Boekbesonderhede

Hiérdie versameling stuitige strokies deur Philip de Vos en Piet Grobler sal jou wildste, stoutste verwagtinge oortref…


’n Versameling stuitige strokies deur Philip de Vos en Piet Grobler wat die wildste, stoutste verwagtinge oortref. Dit het oorspronklik telkens op De Kat se agterblad verskyn.

Philip de Vos is ’n bekroonde skrywer, fotograaf en versiemaker van formaat en is in 2015 beloon met ’n KykNET Fiësta Lewensbydrae vir Musiek, Woord- en Visuele kuns in Suid-Afrika. As kind wou hy dolgraag sirkusnar word – en vandag laat hy met die humor in sy werk ’n ieder en ’n elk glimlag. Hy is baie lief vir diere en goggas, en het nog nooit eens ’n mier met opset doodgetrap nie.

Piet Grobler is ’n bekroonde illustreerder wat met sy kunswerke stories vertel. Hy het al meer as 80 boeke geïllustreer en illustrasiewerk vir verskeie tydskrifte en koerante gedoen insluitende Sunday Times, De Kat, Insig, Sarie en Taalgenoot. Hy was senior dosent en kursusleier in Illustrasie aan die Universiteit van Worcester in England.

Boekbesonderhede

’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq is nou in Afrikaans beskikbaar

Tussen die abjekte en die eterieseTussen die abjekte en die eterieseTussen die abjekte en die eteriese

Michel Houellebecq, wie se poësie as melankolies, pynlik selfbewus en bytend satiries teenoor die lewe en die verbruikersamelewing beskryf kan word, is al die “Baudelaire van die supermark”, of “Baudelaire gekruis met Philip Larkin” genoem. Benewens die liriese en melancholiese aard van sy werk, is talle van die sy gedigte ook uiters kompleks weens die diep en ryk filosofies-teologiese en kosmologiese idees wat dit onderlê.

Ek het op die rivier gedobber
Naby die Italiaanse karnivore
In die oggend was die gras vars,
Ek het koers gekry na die goeie.

Die bloed van klein soogdiere
Is nodig vir balans,
Hul beendere en hul ingewande
Is die voorwaardes vir ’n vrye lewe.

’n Mens vind hul weer onder die gras,
Jy hoef net die oppervlak te krap
Die plantegroei is manjifiek,
Dis so kragtig soos die graf.

Ek het tussen die wolke gedryf
Absoluut desperaat
Tussen die hemel en die slagting,
Tussen die abjekte en die eteriese.

OOR DIE OUTEUR
Michel Houellebecq (gebore Michel Thomas), wat in 1956 op die Franse eiland Réunion gebore is, is ’n kontroversiële en veelbekroonde Franse romanskrywer en digter. Vir aanhangers herinner sy werk aan die tradisie van literêre provokasie soos gevind by Markies de Sade en Baudelaire terwyl kritici soms sy werk as aanstootlik en gemaak-skokkend afmaak. Hoewel Houellebecq sy grootste bekendheid (en berugtheid) met sy romans verwerf het, is dit in sy poësie waar die spanning tussen die verhewe (eteriese) en verwerplike (abjekte) ten diepste ondersoek word. Houellebecq is in 2010 met Frankryk se hoogste literêre toekenning, die Goncourt-prys, vereer vir sy roman La Carte et le Territoire (in Engels vertaal as The Map and the Territory).

OOR DIE VERTALER
Henning Pieterse was reeds as kind bekoor deur die verse en klanke van digters soos Thomas Elliot, Breyten Breytenbach en Lina Spies. Henning is vanaf die begin van 2016 professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. Al behaal hy in 1994 ’n doktorsgraad in taalkunde, is dit veral kreatiewe skryfkuns wat hom na aan die hart lê. Hy debuteer in 1989 as digter met die bundel Alruin wat bekroon word met die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerprys. Hy publiseer verskeie akademiese artikels en resensies oor aspekte van die linguistiek, letterkunde en kreatiewe skryfkuns, lewer referate by verskeie nasionale en internasionale kongresse en fasiliteer meer as 150 werkswinkels oor skryfkuns landswyd. Hy was voorheen ook direkteur van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Musiek is die ander groot liefde in sy lewe en hy het onder meer klavier en klarinet gespeel. Deesdae slaan hy tromme en speel ook die eiesoortige didjeridoe. Hy woon saam met sy lewensmaat, Karen Lazenby, en twee kinders in Bloemfontein.

Boekbesonderhede

Die keweravontuur duur voort in die finale boek van M.G. Leonard se gewilde Kewertrilogie

Die keweravontuur duur voort soos Darkus en sy vriende opsoek gaan na die wrede Lucretia Cutter se geheime bioom in die Amasone. As hulle haar nie kan stop om haar wrede robot- en reusekewers vry te laat nie, sal die planeet nooit weer dieselfde wees nie.

Hierdie is die finale boek van die kewertrilogie en volg op Kewerknaap en Kewerkoningin. Die eerste hiervan was die wenner van die Branford Boase Toekenning in 2017.

M.G. Leonard is ’n skrywer van boeke, gedigte en draaiboeke en is ’n opkomende ster in kinderboeklektuur. Sy het ’n honneursgraad in Engelse letterkunde en ’n MA in Shakespeare Studies van King College in Londen.

Sy werk in Londen as ’n senior digitale regisseur vir die Nasionale Teater, en was voorheen werksaam by die Royal Opera House en Shakespeare’s Globe. Sy woon in Brighton saam met haar man en twee seuns.

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboekvertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl.

In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015).

Boekbesonderhede

Herdenk Adam Small met hierdie uitgawe van Kitaar my kruis

Adam Small is een van enkele bruin Afrikaanse skrywers wat in die kanon van die Afrikaanse letterkunde opgeneem is.

Hy was, met die gebruik van Kaaps, ’n voorloper van ’n hele generasie bruin Afrikaanse digters, wat ’n opbloei in protespoësie in die jare tagtig teweeggebring het.

In 2012 het die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys aan Small toegeken vir sy drama-oeuvre, met spesifieke verwysing na Kanna hy kô hystoe wat as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramatiese kuns beskou word.

In 2009 is hy ook met die SA Akademie se Eeufeesmedalje bekroon vir sy hele oeuvre.

Kitaar my kruis is vir die eerste keer in 1962 deur H.A.U.M. gepubliseer, en die tweede uitgawe het sewe herdrukke beleef.

In sy huldeblyk getiteld “Die Groot Small”, gelewer te Stellenbosch op 7 Maart 2006 (op LitNet beskikbaar), maak Steward van Wyk die volgende opmerkings oor Small se werk:
 
 

“’n Deurlopende tema in Small se werk is die uitbeelding van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap onder die beleid van apartheid. In die digbundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet loods hy ’n fel aanval op kwessies soos gedwonge verskuiwing, rasseklassifikasie en -diskriminasie en aparte geriewe. Hy maak veral gebruik van satire om die onhoudbaarheid van die stelsel en die valse waardes van gesagsfigure uit te wys.”

Small se identifikasie met sy karakters vind neerslag in sy gebruik van Kaaps – volgens hom ’n volwaardige taal waarin mense hul eerste skreeu en hul laaste doodsroggel gee. Wat in heelparty gedigte opval, is die gebruik van refreine en herhaling, wat as ’t ware die gemeenskap se vrese waarskuwings en aanklagte van die tyd eggo (Van Wyk, 2006). Verder is daar ’n sterk Ou Testamentiese inslag, maar ook talle verwysings na die geboorte en wederkoms van Christus. Volgens Van Wyk word dié gegewe op die lotgevalle van onderdruktes van toepassing gemaak, o.a. die geskiedenis van Moses en die Israelitiese volk onder Egiptiese slawerny: Soos Moses met sy staf, moet die digter met sy kitaar sy mense lei, maar omdat die taak so moeilik is, word die kitaar ironies ook sy kruis. Só lui die openingsgedig byvoorbeeld:

KÔ, LAT ONS SING

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –

toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sê: ’n staf

nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
’n staf
’n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptanaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing

Boekbesonderhede

Lees: ’n tienjarige-boekliefhebber resenseer Hoe om ’n draak se toorn te tem vir LitNet

Die tienjarige Aden van Niekerk het onlangs die 12de boek in Cressida Cowell se gewilde Hoe om jou draak te tem-reeks (vertaal deur Kobus Geldenhuys) vir LitNet geresenseer. Hiér is wat die kranige leser (en knap skrywer!) van Cowell se nuutste aflewering gedink het:

Die heel eerste keer wat ek kennis gemaak het met hierdie stories van Cressida Cowell was deur die fliek How to train your dragon. Die boeke het eintlik al in 2003 in Engels verskyn, maar dis eers later in Afrikaans vertaal. Ek het die Hoe om jou draak te tem-boeke begin lees in April 2016 toe ek agt jaar oud was. Dis presies twee jaar gelede, ek is nou tien jaar oud en het dié naweek die laaste boek in die reeks gelees.

Boek twaalf se naam is Hoe om ’n draak se toorn te tem. Dit is ’n skreeusnaakse boek met ’n goeie storielyn en ek het regtig baie daarvan gehou. Dit is ’n konkelende storie, ’n mens-weet-nie-wat-gaan-gebeur-nie-tipe storie en die grappe is regtig snaaks. Dit speel in die Vikinglande af. Ek weet nie presies waar nie, maar dit is fiksie wat probeer om iewers naby Finland in te pas – dis mos die naaste Vikingland aan die Noordpool. Die Barbaarse Argipel (dit word ook die Wilderweste genoem) is vol eilande waar mense aanmekaar oorlog teen mekaar voer. Daar is ook wilde drake en mak drake. Mak drake is drake wat as babas gesteel is en opgelei is om te werk vir mense as slawe of om skootdiere (troeteldiere) te wees.

Die hoofkarakter van die storie is Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde. Hy kan Drakonees praat, die taal van drake. Hy is die enigste mens wat dit kan praat. Harwarrus veg daarteen dat die Wilderweste menslike en draaklike slawe sal aanhou en die enigste manier om dit reg te kry, is om self ’n koning te word. Maar daar is nie elke generasie ’n koning nie. Net as hy genoeg volgelinge kan kry en Grombaard die Gruwelike (die vorige koning van die Wilderweste) se tien verlore toebehore kan opspoor, kan hy as koning gekroon word. Deur die loop van die reeks boeke spoor Harwarrus die verlore toebehore op – dit is skatte soos ’n tandlose draak, Grombaard se tweede beste swaard, die Romeinse skild, die tik-tak-ding, die robynhartsteen, die pyl uit die land-wat-nie-bestaan-nie, die sleutel wat alle slotte oopsluit, die troon en die kroon. Die belangrikste toebehoorsel is die draakjuweel wat die mag het om alle drake vir ewig uit te wis.

Die grootste menslike vyand is Alvin die Verraderlike wat probeer om koning te word, en sy ma, die heks Excellinor. Dan is daar ’n draakvyand, die draak Verwoed. Hy is die leier van die draakrebellie en hulle is vol van die Rooi Raserny – dis wat die boeke dit noem. Hulle hou ’n rebellie omdat hulle wil hê daar moet nie meer draakslawe wees nie. Aan die begin van die twaalfde boek het Alvin die Verraderlike amper koning geword van die Wilderweste én Harwarrus het geen van die toebehore meer nie én die draakrebelle maak jag op Harwarrus!

Die twaalfde boek is so geskryf dat hy op sy eie kan staan sonder die ander boeke, maar dit sal baie beter wees as jy dit in die volgorde van die reeks lees, want dan verstaan mens hoe Harwarrus hiér uitgekom het en hoe hy dáár uitgekom het, waar dít vandaan kom en waar dát vandaan kom. Dis die dikste boek wat ek nog ooit gelees het (dis 471 bladsye lank), maar wat my laat aanhou lees het, is dat daar die heeltyd hoogtepunte is.

Lees Aden se volledige resensie hier.

Boekbesonderhede

Die intrige loop hoog in Chris Marnewick se nuutste aflewering – die regsdrama, Redelike twyfel

Manon Viljoen is ’n jong advokaat en ywerige motorfietsryer. Sy word ingeroep om as amicus curiae die regter by te staan in ’n moordsaak om ’n regverdige uitspraak te lewer.

Die beskuldigde is Charles Mouton, ’n suksesvolle senior advokaat wat een oggend wakker word langs die bebloede lyk van sy vrou en van haar moord aangekla word. Hy weet nie wat gebeur het nie. Of so beweer hy. Hy weier om aan die verhoor deel te neem omdat hy glo die hof moet die waarheid soek.

Dit val dus op Manon se skouers om die waarheid te soek en voor die hof te lê.

Manon se aanstelling word bemoeilik deur die feit dat sy en regter Nantes Castel ’n geskiedenis het. Die verhoor loop allerande draaie terwyl Manon na redelike twyfel soek en terselfdertyd haar gevoelens vir Nantes bevraagteken. Stel hy nog belang, of terg hy haar sommer net?

Vind Manon die waarheid waarna sy soek ‒ oor die identiteit van die moordenaar en ook oor Nantes se gevoelens vir haar? Of is daar redelike twyfel?

Chris Marnewick het as senior advokaat afgetree en bly nou in Nieu-Seeland. Shepherds & Butchers was sy eerste roman en hy het op die kortlys verskyn van die M-Net Litêrere toekennings en die Sunday Times-toekennings en het die K Sello Duiker-prys gewen. Dit het in 2016 verskyn as In die laksman se skoot. Hy is ook die skrywer van Engelse titels The soldier who said No (2010), A Sailor’s Honour (2011) en die roman Clarence van Buuren: Knew the Words, but not the Music (2012) wat deur Protea Boekhuis gepubliseer is met die Afrikaanse vertaling daarvan Clarence van Buuren: Die man agter die donkerbril wat ’n jaar later verskyn.

Boekbesonderhede

Die Afrikaanse vertaling van Paulo Coelho se The Spy het sopas die rakke getref!

Toe Mata Hari in Parys aangekom het, was sy platsak. Kort daarna is sy gevier as die elegantste vrou in die stad.

As ’n danseres het sy gehore geskok en verruk, as ’n vertroueling en courtisane het sy die rykste en magtigste mans van haar era betower.

Maar paranoia as gevolg van die oorlog het Frankryk verteer, en Mata Hari se leefstyl het haar onder verdenking geplaas. In 1917 is sy gearresteer in haar hotelkamer aan die Champs-Élysées en van spioenasie aangekla.

Die Spioen is die onvergeetlike verhaal van ’n vrou wat dit gewaag het om die konvensies van haar tyd uit te daag en die prys daarvoor betaal het, soos vertel in Mata Hari se stem in haar finale brief.

OOR DIE OUTEUR
Paulo Coelho is in 1947 in Rio de Janeiro gebore. Hy is ’n topverkoper en een van die wêreld se mees invloedryke skrywers. Meer as 215 miljoen eksemplare van sy romans is al in meer as 170 lande verkoop en sy werk is in 81 tale vertaal. Besoek die skrywer aanlyn by www.paulocoelho.com.
 
 
“Hierdie Brasiliaanse towenaar laat boeke van die winkelrakke af verdwyn.”
New York Times

“[Coelho se] boeke gee nuwe betekenis aan miljoene mense se lewens.”
London Times

OOR DIE VERTALER
Kobus Geldenhuys het in 2015 die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015). Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Boekbesonderhede