Carla-Marié Spies gesels oor Lina Spies se vertaling van Die agterhuis deur Anne Frank
Die Agterhuis, Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek in Afrikaans (waarvoor sy onlangs die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Akademieprys vir Vertaalde Werk onvang het), is die onderwerp van ‘n artikel wat Carla-Marié Spies vir LitNet Akademies geskryf het. Hennie van Coller het op LitNet ‘n onderhoud met haar oor die artikel gevoer.
Spies sê dat alhoewel Lina Spies nie ’n “teoreties-geskoolde vertaler” is nie, het sy “in Afrikaans baie sistematies en konsekwent te werk gegaan en binne teoretiese raamwerke vertaal”. Lina Spies het byvoorbeeld die oorspronklike teks en die konteks en kultuur waarin dit geskryf is in gedagte gehou tydens die vertalingsproses. Sy het ook die besluite wat sy tydens die vertaling geneem het in ‘n inleiding tot die boek verduidelik.
Spies raak ook in die onderhoud aan die proses wat Cas Vos en Leon de Kock met die vertaling van die digbundel Duskant die donker gevolg het.
Dink jy dat daar iets soos ’n “ideale” vertaalteorie bestaan?
Dit is eintlik onmoontlik om ’n ideale vertaalteorie te bepaal, aangesien verskillende vertaalteorieë verskillende aspekte van vertaling uitlig. Van hulle postuleer maniere om vertaling prakties te benader; ander hoe om vertalings te evalueer; ander beskryf weer die faktore wat ’n rol speel by vertaling; en so meer. Daar het wel in die vertaalteorie ontwikkeling plaasgevind in die sin dat daar in vroeër teorieë meer gefokus is op slegs die taalaspek van vertaling en eers later begin is om ook al die ander aspekte wat vertaling beïnvloed, onder die loep te neem. Dit sluit onder andere kultuur, politiek en agente betrokke by die vertaling in.
Boekbesonderhede
- Die agterhuis deur Anne Frank, vertaal deur Lina Spies
EAN: 9781869191887
Find this book with BOOK Finder!
- Duskant die donker/Before it darkens deur Cas Vos, vertaal deur Leon de Kock
EAN: 9781869194123
Find this book with BOOK Finder!
Foto van Carla-Marie Spies te danke aan LitNet en foto van Lina Spies te danke aan Versindaba















Please register or log in to comment