Melt Myburgh wen Ingrid Jonker-prys 2011 vir Oewerbestaan
Protea Boekhuis kondig met trots aan dat Melt Myburgh se bundel, Oewersbestaan, bekroon is met die Ingrid Jonker-prys vir 2011.
Dié prestigeprys is in die lewe geroep deur vriende van Jonker. Dit word al om die ander jaar aan Afrikaanse debuutbundels toegeken en gedurende die alternatiewe jare word Engelse debuutbundels bekroon.
Verlede jaar het Tania van Schalkwyk die prys ontvang vir Hyphen.
Iets oor Oewerbestaan:
’n Groot aantal van die gedigte het te make met die landskap van die Noord-Kaap aan die oewers van die Oranjerivier waar die digter groot geword het. In die eerste afdeling word die tema “refleksies” ontgin en verwys na sowel die weerkaatsings van die lewe in dié droë, warm wêreld as na die besinning oor die betekenis wat die gebied en sy mense vir die digter ingehou het. In die afdeling “om federico” is ’n aantal gedigte oor Spanje, waar die landskap sterk herinner aan dié van die Noord-Kaap, maar wat terselfdertyd ook onmiskenbaar die tekswêreld van die Spaanse digter Federico García Lorca oproep. In die afdeling “gesigte” is daar gedigte oor visioene, onverwagse insigte en ook ontluistering, soos die gedig “’n beeld raak los” waarin een van die sementbeelde in die Uilhuis op Nieu-Bethesda afgetakel word tot net die skelet van bloudraad oorbly. Die laaste afdeling, “inkdood”, bevat gedigte oor dood en verval wat die digter met sy skryfwerk probeer besweer.
Die gedigte oor die Noord-Kaap vul ’n leemte oor ’n landskap wat nie dikwels in die Afrikaanse poësie aandag kry nie. Die homoërotiese gedigte behoort aanklank by gay lesers te vind, maar dis beslis meer as ’n bundel gay poësie.
Iets oor Melt Myburgh:
Melt Myburgh is tans die Woordkunsprojekbestuurder wat vir die jaarlikse Woordfees op Stellenbosch verantwoordelik is en het voorheen as redakteur van LitNet se briewe- en blogforum gewerk.
Lees ook:
Boekbesonderhede
- Oewerbestaan deur Melt Myburgh
Boek se tuisblad
EAN: 9781869193690
Find this book with BOOK Finder!