Nuut: Soektog in Katoren, die vervolg op Koning van Katoren, deur Jan Terlouw
Soektog in Katoren, die lank-verwagte vervolg op Jan Terlouw se immergewilde Koning van Katoren, wat in Afrikaans vertaal is deur Daniel Hugo, verskyn vandeesmaand:
“Kom ek kyk of ek dit reg verstaan. In Knocke word wapens vervaardig. Dit word aan El-Ende verkoop, sodat die mense daar mekaar aan flarde kan skiet. ’n Deel van die geld wat in Knocke met die wapenverkope gemaak word, gaan na Spalk. Met daardie geld gaan die mense van Spalk die gewondes in El-Ende versorg en die gebombardeerde huise weer opbou. Kortom, hulle gaan die skade weer ongedaan maak. Dit is mos malligheid.”
Katoren, veertig jaar nadat koning Stach die troon bestyg het. Die sestienjarige bokoppasser Koss reis deur die land op soek na ’n man wat as seuntjie ontvoer is. Daar gaan vir hom ’n hele nuwe wêreld oop van geld, reëls en skynheiligheid. Aanvanklik is Koss net ’n toeskouer wat hom oor alles verbaas. Maar dan raak hy verlief op die meisie Vulcana en deur haar geïnspireer, teken hy op ’n drastiese manier protes aan teen ’n groot onreg. Dit laat hom diep in die moeilikheid beland.
Oor die outeur
Jan Terlouw (1931–) het in 1970 gedebuteer as jeugboekskrywer. Hy was die leier van D66, ’n liberale linksgesinde party in Nederland. Hy het ’n opwindende en lewendige skryfstyl en, gekoppel aan sy sosiale bewustheid, skep hy magiese werke wat aansien en gewildheid geniet. Hy is reeds twee maal met De Gouden Griffel-prys bekroon.
Oor die vertaler
Daniel Hugo, wat ook wyd bekend is vir sy werk as omroeper, is deesdae voltyds redakteur en vertaler. Hy is ’n gerekende digter met 14 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van o.a. Tom Lanoye, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen, Gerrit Komrij en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal.
Boekbesonderhede
- Soektog in Katoren deur Jan Terlouw, vertaal deur Daniel Hugo
EAN: 9781869198152
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!














Please register or log in to comment