Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Karel Schoeman toon die intensiteit van klein menslike gebare in Die vrou wat alleen bly: Twee draaiboeke

Die vrou wat alleen bly: Twee draaiboekeDie vrou wat alleen bly: Twee draaiboeke deur Karel Schoeman verskyn eersdaags op Protea Boekhuis se rakke:

By geleentheid van die gevierde skrywer Karel Schoeman se 75ste verjaardag in Oktober 2014 publiseer Protea Boekhuis twee televisiedraaiboeke, wat, hoewel hulle geruime tyd gelede reeds geskryf is, nie voorheen gepubliseer is nie. In die voorwoord tot die twee draaiboeke meld Karel Schoeman dat die twee draaiboeke in 1985 ontstaan het, toe daar bewerkings van sy romans verfilm is. Die twee dramatekste sou miskien eerder as leestekste en nie as speeltekste nie beskou kon word, maar Schoeman sluit nie die moontlikheid van verfilming uit nie. Hy skryf verder: “Die betrokke manuskripte het onlangs aan die lig gekom nadat ek gemeen het dat dit lankal nie meer bestaan nie, en word nou gepubliseer soos hulle geskryf is, aangesien dit nie sinvol gelyk het om ná verloop van meer as ’n kwarteeu nog daaraan te probeer verander of verbeter nie.”

Die eerste van die twee tekste, “’n Vrou wat alleen bly”, speel op ’n klein plattelandse dorpie af. Dit handel oor die raaiselagtige skietdood van ’n geliefde dominee en oor die versteuring van verhoudings tussen mense wat mekaar reeds lank ken wanneer ’n nuweling die gemeenskap binnekom. Die tweede teks, “Hiér was huise, hiér ’n pad” speel in 1908 af in en om ’n hotelletjie aan die Suid-Kaapse kus. In hierdie draaiboek bevind ’n aantal uiteenlopende karakters hulle toevallig en kortstondig in mekaar se geselskap. Sommige van die karakters reik huiwerig na mekaar uit, maar die verhoudings wat ontstaan, bly vervlietend.

Soos in ’n Tsjechow-drama toon Karel Schoeman in hierdie twee tekste watter intensiteit daar in klein menslike gebare, huiwerende gesprek en versigtige uitreik na ander kan lê.

Die vrou wat alleen bly: Twee draaiboeke is geskik vir alle lesers wat reeds bekend is met Karel Schoeman se meesterlike fiksie. Vir diegene wat nog nie een van Schoeman se groot romans gelees het nie, kan hierdie tekste ’n besondere kennismaking met die werk van een van Afrikaans se grootste skrywers inhou.

Oor die outeur

Karel Schoeman, een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers, het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is reeds talle male bekroon, o.a. met die Hertzogprys en die Recht Malan-prys. Hy is nie vir onderhoude beskikbaar nie.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment