Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Eksklusiewe onderhoud: Keina Swart deel die storie agter “Die potlooddief se bruid”

 
Keina Swart het onlangs haar jongste boek, Die potlooddief se bruid en ander stories, by Protea Boekwinkel in Hatfield bekendgestel. Books LIVE het met die skrywer gesels oor haar liefde vir stories en Swart het die bostaande kiekie met ons gedeel waar sy die kunswerk vashou van Christo Breedt, die Downsinddroom-seun oor wie sy “Die potlooddief se bruid” geskryf het.
 
Die potlooddief se bruid en ander stories1. Hallo Keina, baie dankie vir die onderhoud. Hoe voel dit om jou bundel rubrieke uiteindelik in jou hande vas te hou?

Dis ’n lekker gevoel, hoewel die skryfproses vir my heelwat vreesloser as die boekbekendstellings was! Ek hou baie van wat Protea Boekhuis met die voorblad gedoen het. Dis vir my só ’n mooi illustrasie — die een van die outydse potlood — dat ek dit sou koop as dit ’n skildery was.

2. Ek wil graag meer weet oor die titelstorie, “Die potlooddief se bruid”. Wanneer het jy dit geskryf en hoekom het jy besluit om dit die titelstorie te maak?

Ek het die storie verlede jaar geskryf toe groot dele van die Waterberge oorstroom het ná die ergste vloede in jare. ’n Bejaarde vrou wat ek goed geken het, is dood in die vloed. Haar boetie was ’n Downsinddroomlyer vir wie ek baie lief was. Hulle ma het ’n klerewinkel reg langs die kantoor van die plaaslike koerant, waar ek werk, gehad. Hy het baie keer in my kantoor kom sit terwyl ek stories tik en die mooiste prente van bruide geteken. Dan het hy uitgeglip, die prent op my tafel gelos en my potlode gegaps! Hy was ’n ou man met ’n kinderhart. Die rubriek oor hom het aanvanklik in Die Burger verskyn. Ons het regtig lank gesukkel om die regte titel te kry. Die boek was al op pad drukkers toe, toe wonder ons nog. Ek het aanvanklik die titel “Voete op die Dashboard” (een van die ander rubriektitels in die bundel) voorgestel, maar dr Nicol Stassen, grootbaas van Protea, het nie van die Engelse woord gehou nie. Die Potlooddief-titel was ’n spanpoging en nou is ek natuurlik baie bly Nicol het voet by stuk gehou, want dié titel wérk.

3. Jy sit verskriklik baie van jouself in jou stories, is dit ’n manier om die joernalistieke idee van objektiwiteit nek om te draai?

Ek skryf myself soms in ’n hoek in met hardenuus en misdaad by die werk aan die een kant, en menslike nuus en kinderboeke aan die anderkant. Koerantskryfwerk het my begin vang, hoewel dit steeds my brood en botter is. Ek kon net nie meer misdaadtonele besoek, ellelange munisipale verslae deurlees en ure sit en wag vir gassprekers om op te daag nie. Die mense agter die stories het vir my harder begin praat as die feite van ’n gebeurtenis, en ek wou eerder dáároor skryf. Dis lekker om ’n vir ’n slag subjektief te mag wees in die goed wat ek skryf!

4. Waar het jou loopbaan begin? Waar het jy grootgeword, geswot, begin skryf?

Ek het die grootste deel van my kinderjare in die destydse tuisland, Gazankulu, deurgebring. Dit was wonderlike kaalvoetjare in ’n kartonhuisie waar ses mense ’n badkamer moes deel. Ek was altyd besig met hoogs geheime briewe en dagboeke. Ek het onder die bed, bo in die kas of hoog in die huilboerboonboom in ons erf gesit en my verkneukel daarin as almal my soek. Ek het baie van my briewe in daardie boom weggesteek. Ek was een van daardie kinders wat altyd geweet het ek wil eendag “iets” word, maar ek het nie geweet wát nie. Ek het heeltemal die verkeerde vakke op hoërskool geneem en bloedgesweet met die wiskunde. Uiteindelik het ek ’n tale-draai op Tukkies gaan maak met onder meer Duits, Frans en Engels as vakke.

Daarna is ek Maties toe om joernalistiek te swot, en dis dáár waar die woorde-gogga my behoorlik gebyt het. My eerste “regte werk” was as Beeld se landdroshofverslaggewer in hul Pretoria-kantoor. Ek het later Waterberge toe verhuis agter die liefde aan. Die afgelope 14 jaar is ek en ’n vennoot mede-eienaars van die gemeenskapskoerant, Die Pos. Die koerant het kantore op vier dorpe in die Waterberg en sowat 20 personeellede.

5. Wou jy altyd ’n joernalis en redakteur wees of was dit ’n manier om die skryfwêreld te betree?

Nee, ek wou skryf, maar het altyd geweet ek is nie regtig in die wieg gelê vir hardenuus nie. Ek kan hardenuus beoordeel vir kompetisies en tekortkominge optel as ek dit proeflees, maar ek het nie meer die moed om daardie stories self te gaan haal nie. Die redakteurskoen pas my goed. Ek proeflees al die berigte, kies die foto’s, hanteer die bladuitleg en skryf die redakteursbrief, maar los die hardenuus vir my goeie span verslaggewers wat dit baie beter as ek kan doen. Rubrieke en veral kinderboeke is my kreatiewe uitlaatklep.

6. Wie is jou gunsteling skrywers en wat is die een boek wat jy oor en oor kan lees?

Ek het nie regtig gunsteling skrywers nie, eerder gunsteling boeke. In die jeugboek-genre het ek baie lekker gelees aan Benny Lindelauf se twee boeke, Nege oop arms, en Die hemel van Heivisj. Ek het ook gehou van Lilli Thal se Joran Noordewind. Ek versamel kinderboeke uit verskillende lande en vintage Afrikaanse kinderboeke. My gunsteling van alle tye is Pietervlie van Pieter W Grobbelaar. Dis die storie van ’n vlieër wat nie aan ’n tou wou vas wees nie.

7. Die verhale oor jou pa het my veral aangegryp. Hoe het sy dood jou werk verander?

In retrospek weet ek dit is nie sy dood wat my gesin so erg getref het nie, maar wel sy jarelange, uitgerekte siekbed. Ek het in ’n huis grootgeword waar daar heeltyd gevrees is dat die hart van die huis uitgeruk sou word. Maar ons het nie daaroor gepraat nie, want daardie jare het mense nie oor seks of politiek of kanker gepraat nie. My jeugboek, Bloujaar, is my grootwordstorie. My pa was ’n vrolike mens, ’n meesterstorieverteller, ’n joviale woordemens wat drie swart tale vlot kon praat. Hy was jarelank aan die hoof van Radio Tsonga in Gazankulu. Ek besef eers vandag hoe baie hy my beïnvloed het.

8. Jy skryf met soveel deernis oor ou mense, jong mense, mense met gebreke. Hoe kry jy dit reg om in die alledaagse ’n storie te vind?

Soms is dit net een sin wat iemand sê wat bly vassteek. Ek skryf mooi goed wat ek sien en hoor neer, en gebruik dit baie keer eers jare later in stories. Ek dink die meeste stories uit terwyl ons iewers op verlate grondpaaie ry en ek — voete op die dashboard — by die venster uitkyk. Onder druk skryf ek koerantstories, maar vir rubrieke het ek stilte nodig; dinktyd.

9. Jou verhale is bedrieglik eenvoudig en subtiel. Watter tegnieke gebruik jy om ’n goeie rubriek te skryf?

Ek onthou een van my dosente op Stellenbosch het gesê ’n mens moet jou koerantberigte só skryf dat ’n gemiddelde vyftienjarige dit sal verstaan. Dit het iewers by my vasgesteek en ek pas dit in al my skryfwerk toe. Dis vir my lekker dat volwassenes my jeugboek geniet, en kinders my grootmensboek ook lees. Ek lewer nie literêre kragtoere met my skryfwerk nie, want dit is nie wie ek is nie.

10. Ly jy ooit aan skrywersblok en hoe voorkom jy dit? Wat is jou raad vir aspirantskrywers?

Ek ly baie keer aan skrywersblok! Die sangeres Amanda Strydom het vanjaar by die US Woordfees op Stellenbosch so mooi vertel hoe Hennie Aucamp haar in sulke tye altyd gemaan het om te bedaar en die “windstiltes” te geniet, want die woorde sal weer kom. Dit is raad wat ek in die toekoms gaan volg. My beste raad vir aspirantskrywers is om nie so woes te fokus op publiseer nie, maar vir eers verwoed aan die lees te gaan in die genre waarin hul graag wil skryf. Almal wil skryf, maar min wil lees. En dis ’n jammerte.

Boekbesonderhede

Foto met dank aan Keina Swart

 

Please register or log in to comment