Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Lesers stroom na die Erfenisstigting vir die bekendstelling van Die Dorslandtrek deur Nicol Stassen

Nicol Stassen stel Die Dorslandtrek bekend

 
Donderdagaand het ’n spesiale gebeurtenis by die Voortrekkermonument plaasgevind: Dr Nicol Stassen, skrywer, vertaler, navorser en direkteur van Protea Boekhuis het op 27 Maart sy jongste boek, Die Dorslandtrek: 1874 – 1881, voor ’n groot gehoor in die Erfenisstigting se gallery bekendgestel.

Bekendstelling: Die DorslandtrekDie DorslandtrekThe Thirstland TrekVoor Stassen meer vertel het oor sy boek het die Hollandia Mannenkoor die “Lied van die eensaamheid” gesing wat volgens legende tydens die Dorslandtrek geskryf en op ’n klip gegraveer is. Marina Coetsee was die dirigent en Chrissie-Jane Stassen het die koor op klavier begelei. Stassen het vertel dat Pieter W Grobbelaar dié lied beskryf het as “een van die merkwaardigste liedere uit die neëntiende eeu” en dat dit sover hy weet die eerste keer in 100 jaar is wat hierdie lied in die openbaar opgevoer word.

Met Die Dorslandtrek (in Engels The Thirstland Trek: 1874 – 1881) het Stassen probeer om hierdie merkwaardige trek weer in die geskiedenis in te skryf en om tekortkominge in die oorvertelling daarvan reg the stel. Stassen het die boek, waaraan hy 11 jaar lank gewerk het, opgedra aan sy vrou, Chrissie-Jane. Oor die grootte van die boek het hy geskerts dat mense gewoonlik sê ’n boek is so spannend hulle kon dit nie neersit nie, maar oor Die Dorslandtrek gaan hulle sê hulle kon dit nie optel nie. Hy het ook gesê dat as hy 11 jaar lank geskryf het aan ’n trek wat sewe jaar geduur het is hy bly hy het nie besluit om oor die Israeliete se 40-jaar tog te skryf nie.

Stassen het drie aanhalings uit die boek voorgelees uit aantekeninge deur William Worthington Jordan en Michiel Prinsloo:
 

 
Stassen het met sy navorsing gepoog om drie figure se name ter ere te herstel: President Thomas François Burgers, die vierde president van die Republiek van Suid-Afrika vanaf 1872 tot 1877, Khama, die opperhoof van die Bamangwato’s, en Jan Greyling, wat by verskeie geleenthede leiding moes neem van die halstarrige trekkers.

Op die vooraand van die trek wat tussen 1874 en 1881 plaasgevind het was die Transvaal ’n verdeelde gemeenskap en in vergelyking met ander Afrikaanse gemeenskappe was hulle ver agter in terme van ontwikkeling. Burgers was president tydens ’n tydperk van groot ontstuimighede in die Afrikaner-geskiedenis en sy onbeholpe hantering van sekere kwessies het wel aanleiding gegee tot die trek na die Portugese kolonie van Angola.

Burgers het tog probeer om positiewe instansies op te rig soos belasting en onderwys. Vroeër as die boere wou oorlog hou moes hulle donasies insamel en hul eie koeëls gebruik terwyl waens en osse na willekeur opgekommandeer kon word. “Daar was geen besef dat belasting noodsaaklik was vir die staat nie.”

Nicol Stassen stel Die Dorslandtrek bekendKhama was ’n model opperhoof van sy tyd, het Stassen vertel, en die trekboere het baie beskuldigings teen hom gemaak, onder meer dat hy hul aangeval het, watergate toegegooi het en waterputte vergiftig het. Dit was hoegenaamd nie waar nie, het Stassen gesê. Khama het voortdurend goeie raad aan die trekkers gegee en die eerste en derde groep het sy raad gevolg en veilig aan die ander kant uitgekom. Die tweede groep trekboere het hom egter gewantrou. “Die boere het gevoel dat ’n swart man se woord nie sy eer is nie,” het Stassen vertel en toe ’n brief voorgelees waarin Khama sy besware teen die trekkers aangeteken het: “There are three things I don’t understand – war, trading people and drink – and all three we get from the Boers.”

Stassen het vertel dat Greyling dikwels die skuld gegee word vir ’n besonderse rampspoedige trek, maar in sy navorsing kon hy nie een enkele verkeerde besluit kry wat Greyling in sy vier maande as kommandant gemaak het nie. Greyling was ook die eerste leier wat eers ’n ekspedisie uitgestuur het om die pad vorentoe te verken. Ander trekkers het doelloos langs die Limpopo getrek en baie is later dood aan koors en kinkhoes, maar van Greyling se trek het slegs een persoon gesterf, en dit nadat hy giftige bessies geëet het.

Erfenisstigting: VoortrekkermonumentStassen het sy vertelling afgesluit met bedankings aan al die mense wat die publikasie van Die Dorslandtrek moontlik gemaak het, onder meer die Erfenisstigting-personeel Estelle Pretorius, Cecilia Kruger, Etta Judson en Hannetjie Gerber; die afstammelinge van die Angola-boere wat inligting aan hom beskikbaar gestel het; Professor Fransjohan Pretorius vir sy hulp met die navorsing; die redakteur Kristél de Weerd en proeflesers Amelia de Vaal en Carmen Hansen-Kleyn, asook Hanli Deysel vir die bandontwerp; Ingrid Booysen vir die padkaarte en Frans Pietersen wat die merkwaardie foto’s in die boek oor ’n paar jaar herstel het. Stassen het ook die Protea-personeel bedank: Martie Eloff, Louise Smith en Louret Bell.

Na die bedankings het Stassen kopieë van sy boek geteken en die gaste het aan heerlike versnaperinge gesmul.

 

* * * * * * * *

 
Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:


 

 

* * * * * * * *

Facebook galery

http://protea.bookslive.co.za/blog/

Posted by Protea Boekhuis on Monday, 30 March 2015

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment