Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

“Ek skryf uit ongemak” – Riël Franzsen by die bekendstelling van sy debuutdigbundel, Narokkong

Riël en Karin Franzsen

 
Henning Pieterse en Riël FranzsenNarokkongProfessor Riël Franzsen het op Dinsdag 14 April sy debuutdigbundel, Narokkong, tydens ‘n Woord en Wingerd-fees by Graffiti Lynnwood Bridge bekendgestel.

Die hoogleraar in Belastingbeleid en –bestuur aan die Universiteit van Pretoria het met sy kollega en studieleier professor Henning Pieterse gesels oor sy eerste versameling gedigte. Franzsen het, te same met Eunice Basson, sy MA in Kreatiewe Skryfwerk onder Pieterse se leiding verwerf. “Ek het geweldig baie geleer in daardie kursus,” het hy vertel en bygevoeg dat die klasmaats steeds gereeld bymekaar kom.

Pieterse het die digter voorgestel as ‘n “voëlkenner, wynkenner, wêreldreisiger en nou gepubliseerde digter”.

April is Outismebewusmakingsmaand en was die ideale tyd vir die bekendstelling van Narokkong wat opgedra is aan Gerhard, Franzsen se 25-jarige outistiese seun. Die titel “Narokking” verwys na ‘n voël wat hy die eerste keer in DJ Opperman se gedig “Koggelbos” teëgekom het. Hy het aanvanklik gedink dit is klanknabootsing en het verder in Opperman se navorsing die woord gaan naspeur: “Soos enige goeie akademikus het ek dit gaan Google.” Hy het die voël weer in Sangiro se kortverhaal “Koors” gevind wat handel oor die trek na Duits-Oos-Afrika in 1907. Die woord “narok” beteken “swart” in Swahili en “kong” beteken “oog” – die swartoog, ‘n onheilsvoël wat deurnag meedoënloos roep terwyl die seuntjie in die tent sterf aan malaria. Pieterse het gesê dat die voël dus ‘n leitmotief word vir die swaarkry, onheil en bose – al van geboorte af.

Eunice Basson het Riël Franzsen kom ondersteun“Wanneer het jy begin versies maak?” het Pieterse gevra. Franzsen het vertel dat hy al van skooldae af gedigte geskryf het, onder meer in die jaarblad van sy matriekklas, en hy het tydens sy diensplig nou en dan verse neergepen. “Ek skryf uit ongemak – uit pyn maar ook absolute vreugde – jy verstaan nie altyd wat jy besig in om te ervaar nie.”

25 jaar gelede het hy en sy vrou Karin besef hulle kind sal nie soos ander kinders wees nie en in 2010 het Franzsen die idee gekry om oor ‘n outistiese kind te skryf. Hy het die eerste gedig, “Kringloop”, neergeskep en daarmee het hy die wal gebreek. Hy het vertel dat hy geweldig baie verse geskryf het uit die woede en meedoënloosheid van ‘n ouer van ‘n outistiese kind. Op hierdie punt van die bespreking het hy “Gebed van ‘n outis” voorgelees:

1. Help hulle om te verstaan dat –
a. laaie en kasdeure nie oopgelos word nie;
b. ertjies nie aan rys mag raak nie;
c. vroeg en laat wees pynlik is; maar
d. tyd ondraaglik.
 
2. Help my om te verstaan –
a. wat leuens en takt is;
b. hoe geduld werk.
 
3. Dankie vir –
a. volmaakte, bevestigende patrone;
b. die vreugde van sirkels;
c. die vertroosting in ritme;
d. die voorreg om te herhaal en te herhaal; en
e. driehonderd en dertien.

Op Pieterse se aanvraag om driehonderd en dertien te verklaar het Franzsen gesê: “Ek wens ek kon.” Hy het ook die gedig waar alles begin het voorgelees, “Kringloop”.

Pieterse het gevra wanneer Franzsen skryf. “Ek werk op die ingewing,” het hy vertel en bygevoeg dat hy altyd ‘n notaboekie byderhand hou. Hy skryf graag naweke en dikwels op lughawens. “Dis ongelooflike harde werk.”

Franzsen het twee persone uitgesonder vir hul waardevolle kommentaar en ure se geskaaf aan sy manuskrip – die digters Martjie Bosman en Lina Spies. Daarna het hy die aand afgesluit met die lees van nog twee verse: “Wisselstroom” wat opgedra is aan sy dogter Hilde wat in die gehoor teenwoordig was en “Aflaai”.

“As mens ‘n gestremde kind het besef jy daar gaan ‘n punt kom waar mens hom of haar by ‘n sentrum of ‘n plek van bewaring moet tuismaak,” het hy oor die laaste gedig van die aand gesê.

 

* * * * * * * *

 
Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:


 

 

* * * * * * * *

Facebook galery

http://protea.bookslive.co.za/blog/

Posted by Protea Boekhuis on Tuesday, 21 April 2015

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment