Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Narokkong: Riël Franzsen gesels oor sy debuutdigbundel, outisme en die beeld van die swartoogvoël

Riël en Karin Franzsen

 
Riël Franzsen het in April vanjaar sy debuutdigbundel, Narokkong, tydens ’n Woord en Wingerd-aand by Graffiti Lynnwood Bridge bekendgestel.

Narokkong is opgedra aan Gerhard, Franzsen se 25-jarige seun, en die verse is geskryf uit die woede en meedoënloosheid van ’n ouer van ’n outistiese kind.

Books LIVE het met die digter gesels oor die moeilike temas wat hy kaalvuis in sy poësie aanpak:

* * * * * * * *

NarokkongHallo Riël, baie dankie vir die geleentheid om met jou te kan gesels oor jou debuut. Waar het jy die eerste keer aan die idee vir Narokkong gekom?

Ek het reeds in Mei 2010 begin werk aan wat later hierdie bundel sou word en geweet wat die tema en gang sou wees, maar die “narokkong”-sleutel het ek eers in 2012 gevind terwyl ek aan my navorsing vir my MA-skripsie gewerk het.

Waar het jy groot geword en wou jy nog altyd ’n digter gewees het?

Ek het in Pretoria groot geword en was ook daar op skool. Ek het reeds op skool verse gemaak en was van kleintyd af lief vir woorde en woordspeletjies. Ek het baie laat eers bewustelik werk begin maak (en dit is inderdaad baie harde werk!) van die vreemde frases en sinne wat voortdurend by my opkom. Deesdae maak ek seker dat ek van hierdie brokke neerpen as moontlike boustene vir toekomstige gedigte.

Wie is jou gunsteling digters en skrywers? Wat lees jy op die oomblik?

Ek lees graag Antjie Krog, Johann de Lange en Johann-Lodewyk Marais se werk. Van die ouer digters is ek veral lief vir Peter Blum en DJ Opperman. Op die oomblik is daar ommenby tien bundels op my bedkassie (saam met die wat ek reeds genoem het ook Dolf van Niekerk, Charl-Pierre Naude, Henning Pieterse, Loftus Marais, Eunice Basson en Tom Gouws). Ek het onlangs Valsrivier (Dominque Botha) en Buys (Willem Anker) gelees en kon nie een van dié twee boeke neersit nie. John Irving, Bill Bryson, Louis de Bernière, Isabelle Allende, Deon Meyer, Niall Williams en Pat Conroy is almal gunstelinge.

Tydens die bekendstelling van Narokkong het Henning Pieterse jou voorgestel as ’n voëlkenner, wynkenner en wêreldreisiger. Jy is ook hoogleraar in belastingbeleid en bestuur aan die Universiteit van Pretoria. Waar kom jou uiteenlopende belangstellings vandaan?

Ek is intens lief vir die lewe en wil soveel as moontlik daarvan ervaar. Die term “kenner” maak my kriewelrig. Laat ek liewer sê dat ek ’n meer as gewone (gesonde?!) belangstelling in voëls het – ek is al vir meer as veertig jaar ’n voëlkyker. Vreemd soos dit mag klink, vind ek dat ek van hierdie belangstellingsvelde sinvol kan integreer. Wanneer ek vir navorsing of konsultasiewerk reis, vat ek meesal ’n bundel, ’n verkyker en toepaslike streeksvoëlgids saam. Ek en my vrou Karin het in die jare voor kinders en M-Net verskeie wynkursusse by die Kaapse Wynakademie voltooi. Selfs destyds, maar nou beslis, is ons eerder wyndrinkers as wynproe(w)ers. ’n Hiernamaals sonder lekker Sauvignon Blanc is haas onvoorstelbaar.

Narokkong is opgedra aan jou seun, Gerhard. Vertel ons asseblief van jou inspirasie en hoe het jy die moed bymekaar geskraap om oor so ’n persoonlike onderwerp te skryf?

Gerhard is ’n komplekse, unieke kind vir wie ons oneindig lief is, maar om saam met ’n outis te leef is nie maklik nie! Maar daar is ook baie vreugde en pret om saam met iemand te leef wat nie eintlik kan jok nie en wat presies sê wat hy ervaar. Dit kom dalk in te min van die gedigte ter sprake. Ons het van sy geboorte af geweet dat ons kind probleme sou hê. Hy is met kongenitale gloukoom gebore, en daar is binne weke ’n onbekende chromosomale afwyking geïdentifiseer. Ek het vir lank geglo dat ek nie sou vra “Hoekom?” nie. Die bundel was grotendeels terapeuties en sekerlik inderdaad ’n worsteling met presies dié vraag. Die uitdaging was om dit wat mens self persoonlik ervaar universeel te probeer maak en weg te skram van sentiment.

Die digter en jou klasmaat aan UP Eunice Basson het jou gedig “Remissie” aanbeveel. Wat is die agtergrond van hierdie gedig? Het jy ’n gunsteling gedig in jou bundel?

Ek en Eunice stem beslis saam! Ek het meer as een gunsteling, maar “Remissie” is beslis een. Einde 2008, dit wil sê twee jaar voor ek aan die bundel begin werk het, het ons ’n besonder moeilike ses maande beleef. Gerhard het ’n periode van erge angs en wroeging beleef en ’n tydperk in Denmar deurgebring. (Dit was óf hy, óf ons!) Mettertyd het ons besef dat van sy medikasie deel van die probleem was, en na die dosering oor ’n tydperk verminder is, het hy sy blymoedigheid herwin. “Remissie” handel oor die vreugde om weer dinge saam te doen, maar met die wete dat hy en jy steeds op die rand van ’n afgrond leef.

Tydens die vraag-en-antwoordsessie was daar ’n groot belangstelling in die onderwerp van outisme en April was ook outismebewusmakingsmaand. Waar kan ouers van gestremde kinders gaan vir ondersteuning of om raad te soek? Waar het jy en Karin destyds begin?

Dit begin met ’n wilsbesluit om dinge so goed as wat omstandighede dit toelaat, te maak werk. Karin het dit onlangs in ’n oggendgesprek oor Monitor mooi opgesom toe sy gemeld het dat ons vroeg reeds besluit het dat ons seun se gestremdheid nie ons lewens gaan definieer nie. Dit beteken nie dat die pad altyd maklik is nie. Ons hanteer ons persoonlike situasie met ons seun meesal op ’n “dag-vir-dag”-basis alhoewel mens natuurlik ook belangrike, moeilike toekomsbesluite moet neem; maar geld dit nie tog maar vir alle ouers nie?

Wanneer het jy besluit op die bundeltitel? Hoe het jy jou navorsing aangepak?

Soos ek vroeër gemeld het, het die “narokkong”-beeld as saambindende sleutel eers in 2012 by my opgekom. Teen hierdie tyd was meeste van die gedigte in die bundel reeds in ’n gevorderde stadium van voltooiing. Om die narokkong in te weef, was derhalwe nie te problematies nie. Ek is steeds besig om te probeer vasstel of die “narokkong” waaroor Sangiro geskryf het in sy kortverhaal “Koors” (1929) inderdaad ’n werklike voël is, of bloot ’n voël in die folklore van die Masai in noord-oos Tanzanië.

Pieterse het al by geleentheid gesê dat poësie die kamermusiek van literatuur is. Hoekom so ’n geweldige taak aanpak? Sal jy dit weer doen?

Ek hou baie van die dissipline wat poësie vereis. Wat Narokkong betref kon ek nie anders nie en ek sal dit beslis weer doen. Ek is reeds ’n geruime tyd besig met ’n nuwe projek, maar sekere deure is nog toe en van die sleutels bly soek.

Watter raad sal jy vandag aan 25-jarige Riël Franzsen wou gee?

Lewe deurentyd met oorgawe en gebruik al jou sintuie.

* * * * * * * *

Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment