Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Wie is Joanne Macgregor? Sielkundige, skrywer, John Steinbeck-aanhanger, kimchi-guru en nog meer

Joanne Macgregor

SkadustemmeDark WhispersSkadustemme het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn en is die Afrikaanse vertaling van Joanne Macgregor se angswekkende roman, Dark Whispers. Die skrywer het ook twee jeugverhale by Protea Boekhuis uitgegee, Rock Steady en Turtle Walk.

In Skadustemme ontmoet ons die beeldskone en vurige Megan Wright, ‘n rooikop sielkundige in die private praktyk wat snuf in die neus kry omtrent ‘n dokter wat in dieselfde hospitaal as sy praktiseer, Dokter Trotteur. Een van haar trauma-pasiënte onthul tydens hipnose dat die ginekoloog haar fisies en emosioneel geteister het terwyl sy onder narkose was. Megan is vasberade om reg te laat geskied, maar sy het etlike etiese dilemmas wat sy moet oorkom. Dan besef sy die dokter is op haar spoor, en soos hy self sê, “Dokter weet die beste”.

Books LIVE het onlangs met Macgregor gesels oor die vertaling van haar roman, skewe magsverhoudings en wat die misdaadfiksiegenre vir die samelewing beteken.

Lees deel 1 van die onderhoud, in Engels:

Ons het ook by die skrywer uitgevind wie sy is, wat sy graag lees, hoe haar werkspasie lyk en nog meer.

Lees deel 2 van die onderhoud met Macgregor:

* * * * * * * *

In ’n neutedop, wie is Joanne Macgregor?

Ek is ’n skrywer, ’n sielkundige in die private praktyk, ’n opleier in die sakewêreld, ’n moeder en vrou, en ’n eksentrieke. Een van die redes waarom ek lief is om stories te skryf is omdat dit my toelaat om baie lewens en persoonlikhede in my kop en my hart te ervaar.

Wat is jou belangstellings buiten skryf?

Ek is nogal ’n goeie tuiskok. Ek is altyd besig om nuwe kombuisvaardighede te bemeester, soos om suurdeegbrood te bak met “wilde gis”, my eie kimchi (’n Koreaanse kooldis) te fermenteer, jogurt te maak, of geurige pesto voor te berei van die bosse basieliekruid wat in my tuin groei. Ek het ‘n florerende organiese kruie- en groentetuin, wat met erdwurmtee gevoed word en ek sien uit daarna om my eerste reuse bos pienk knoffel volgende jaar te oes.

Wie is jou gunsteling skrywer?

Ek het baie gunstelinge, maar ek moet sê dat die skrywer wie se styl ek die meeste bewonder is John Steinbeck. Sy boeke pak gewigtige argetipiese temas en karakters, maar sy skryfwerk is karig – seermaakmooi. As skrywer, sal ek tevrede daarmee wees as ek ’n sin so perfek soos “Die middag was silwer met reën” (The Grapes of Wrath<) geskryf het.

En jou gunsteling boek?

Ek dink East of Eden deur John Steinbeck is die beste boek wat ek al ooit gelees het, maar vir pure genot, en vir my innerlike tiener, lees ek ook graag die Harry Potter-reeks.

Wanneer skryf jy die graagste? Oggend, middag of saans?

Ek is meer produktief in die oggende. Om te slaap is een van my verborge talente – ek hou daarvan om ’n goeie agt tot tien ure in droomland te spandeer. Daarom skryf ek maar selde in die aande. Ek doen my skryfwerk en brood-en-botter-werk op verskillende dae en op verskillende plekke.

Watter wenke het jy vir nuwe skrywers?

Lees! En terwyl jy lees, probeer om te bepaal wat die skrywer doen, hoe sy dit doen en waarom. Daar is wonderlike skryfkursusse beskikbaar en baie hulpbronne op die internet wat jou skryfvaardige kan help slyp. Maak jou stories klaar en wanneer dit afgehandel is, redigeer dit deeglik voordat jy dit na uitgewers stuur. Jy sal ’n dik vel moet ontwikkel omdat jy beslis onder die “slings and arrows of outrageous fortune” (ook bekend as verwerpings) sal ly. Twee goeie eienskappe om te hê as jy ’n skrywer wil wees is volharding en vasberadenheid. Moenie dink jy gaan ryk word deur te skryf nie. Moenie tyd mors op die internet nie. Op die ou eind kom dit neer op BOCHOK (bum on chair, hands on keyboard).

Volg jy jou eie raad?

Beslis ;)

Waar skryf jy graag? Hoe lyk jou werkspasie?

My huis is maar klein en ek het nie my eie skryfspasie nie, so ek neem maar gewoonlik die etenstafel oor. In die winter sit ek soms op my bed en skryf.

My werkspasie lyk so: Oral is daar stukkies papier en post-it’s; groot stukke karton met my storieuitleg daarop neergeskryf, pers en groen kokie-penne (ek sukkel om met ’n pen te skryf). Daar is ook hordes afgerolde felle fakspapier wat baie nuttig is vir die ontwikkeling van storielyne. Sommige mense sal sê dis ’n deurmekaarspul, maar ek noem dit my kreatiewe kwekery.

Laastens, watter lewenslesse het jy geleer met die skryf van jou boeke?

My skryfvaardighede het geweldig verbeter. Ek ook baie geleer van gewere, gifstowwe wat vinnig werk, lykskouings, ploftoestelle, terrorisme en kuberkrakery. Ek sien al hoe daag een or ander intelligensieburo eendag op my voorstoep op om ondersoek in te stel oor my navorsing op Google!

Wanneer dit kom by lewenslesse reken ek dat ek geleer het om meer geduldig te wees. Nee wag ek jok, ek is nog steeds ongeduldig. Maar ten minste het die boekbedryf my geleer dat skryf, net soos die lewe, ’n marathon is en nie ’n wedstryd nie. Jou lewe verander nie oornag net omdat jy een, of meer, van jou boeke gepubliseer het nie. Jy kan dit nie glo voordat jy gepubliseer is nie, maar dis waar.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment