Nuut vir kinders: En toe kom Tom deur Edward van de Vendel, vertaal deur Daniel Hugo
Edward van de Vendel se hartverwarmende verhaal, En toe kom Tom, vertaal deur Daniel Hugo, is nou beskikbaar by Protea Boekhuis:
Vir Kix het alles verander toe daar eendag ’n pragtige wit berghond by hulle aankom. Hy maak vriende met dié geheimsinnige hond, wat hy Tom noem. Tom hou daarvan om heeltyd by Kix te wees en dit is vir hom lekker om gedurig gestreel te word. Maar Kix is bekommerd, want sê nou net die eienaar wil Tom terughê? Tydens ’n spanningsvolle nag moet Kix bewys hoe lief hy vir sy hond is.
Hierdie boek is gebaseer op ’n ware verhaal. Toe Van de Vendel by familie in Kanada was, het daar ’n groot, wit hond uit die niet verskyn. Die avontuur wat hulle met dié hond beleef het, staan nou in hierdie boek.
“Hierdie hartverwarmende verhaal is een van Edward van de Vendel se beste boeke.” – Trouw
Oor die outeur
Edward van de Vendel (1964) het in Beesd grootgeword, ’n dorpie in Betuwe. Hy het in Culemborg skoolgegaan, waarna hy aan die Pedagogische Academie studeer en saam met ander stigterslede ’n skool in Heemstede opgerig het. Hy publiseer in 1996 sy eerste kinderboek en skryf sedert 2001 voltyds. Sy oeuvre sluit in: poësie, jeugromans, dramas en nie-fiksie. Hy hou hom ook besig met lied- en prenteboektekste en publiseer hoofsaaklik by Querido in Amsterdam en die Belgiese uitgewer De Eenhoorn. Sy werk is onder andere in Duits, Spaans, Frans, Italiaans, Noors, Deens, Chinees en Portugees vertaal.
In 2013 verskyn die prenteboek Een miljoen vlinders (met illustrasies deur Carll Cneut) in Afrikaans by Protea Boekhuis, en in 2015 verskyn Toen kwam Sam (met illustrasies deur Philip Hopman) as En toe kom Tom.
Oor die vertaler
Daniel Hugo was ’n spesialisomroeper by RSG en verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ’n gerekende digter met 13 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van onder andere Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal.
Boekbesonderhede
- En toe kom Tom deur Edward van de Vendel, vertaal deur Daniel Hugo, geïllustreer deur Philip Hopman
Boek se tuisblad
EAN: 9781485301967
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment