Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Vat 5 met Ena Jansen: Soos familie skuif vroeër geïgnoreerde vrouekarakters na vore

Ena Jansen en Cecilia Magadlela

 
Soos familieSoos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste deur Ena Jansen het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn en is ’n verkenning van die rol en betekenis van ongeveer ’n honderd huisbediendekarakters in stadsboeke.

  • Lees ook: “Waar staan ek?” Ena Jansen gesels oor die ambivalensie van nabyheid by die bekendstelling van Soos familie
  •  
    Books LIVE het vyf vrae aan Jansen gestel om haar beter te leer ken. Lees die onderhoud:
     

    * * * * * * * *

     
    5 huiswerker-figure wat jou geïnspireer het om die boek te skryf

    1. Nomahobe Cecilia Magadlela (gebore 1950) – oorspronklik uit die Oos-Kaap en nou weer terug in Cofimvaba met pensioen nadat sy byna 40 jaar lank in Johannesburg gewoon en gewerk het. Sy het 25 jaar op Donderdae my Melville-huis en sy mense versorg.

    2. Ou-Melitie – Alie se dierbare oppasser in Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas (1955).

    3. Klein Julia – die bekkige “Joh’burg-nuffie” oor wie Minnie Postma ’n skets geskryf het in Ek en my bediende (1955).

    4. Liesbeth – die vrou oor wie Barbara Fölscher ’n aangrypende kortverhaal “Kinders grootmaak is nie pap en melk nie” in haar bundel Reisgenoot (2002) geskryf het.

    5. Eve – wat in 1992 vir die eerste keer in die Mail & Guardian verskyn het in die Madam & Eve-strokies; altyd het sy ’n weerwoord en is sy ’n hoopgewende ikoon van verandering.

    En dan natuurlik Poppie Nongena (Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert). En Agaat.
     

    4 redes waarom die boek jou so na aan die hart lê

    1. Die onderwerp het tot ’n aangrypende jarelange ontdekkingstog deur die Suid-Afrikaanse letterkunde gelei en my laat besef dat ’n vergelykende oorkoepelende benadering van literatuurgeskiedskrywing moontlik is waarin tema’s sentraal staan: “oral history”-onderhoude, outobiografiese vertellinge en ernstiger letterkunde kan langs mekaar en deurmekaar ondersoek word. Alles vorm saam ’n argief van die gedeelde, maar veral verdeelde Suid-Afrikaanse leefwyse.

    2. Ek kon vrouekarakters wat vroeër so goed as geïgnoreer is, nou na vore skuif. Dit is ook die rede waarom onderafdelings van hoofstukke nie die titels van skrywers of boeke het nie, maar juis die huiswerker-karakters se name. Voorbeelde is Siena in Etienne Leroux se Die eerste lewe van Colet (1960), Adija in Elsa Joubert se verhaal “Kaap” (1980), Faith Mbatha in Ingrid Winterbach se Landskap met vroue en slang (1996) en KC Mhaga in Eben Venter se storie “Bettie” in Twaalf (2000).

    3. My passie vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis en stadsontwikkeling kon ek tydens die skryf van die boek kombineer met my liefde vir die letterkunde.

    4. Dit was belangrik om in die skryfproses my uitgangspunt bevestig te sien: dat huiswerkers vanweë hulle ambivalente posisie in die kontakgebied tussen ras en klas perfek geposisioneer is om belangrike tolke en vertalers in die Suid-Afrikaanse samelewing te wees: tussen ryk en arm, stad en platteland, wit en swart.
     

    3 lesse wat mens uit die boek kan leer

    1. Werkgewers beweer maklik dat ’n huiswerker “soos familie” is, maar Elsa Joubert herinner jou na aanleiding van Flora in haar storie “Agterplaas” (1980) daaraan dat selfs al beweer jy “sy is nader aan my as ’n suster”, jy háár meestal glad nie ken nie. Met veel meer moeite moet ons leer om te luister en te verstaan: soos wat Antjie Krog nog onlangs in haar gedigtereeks “bediendepraatjies” in Mede-wete (2014) demonstreer.

    2. Jy kan nooit sensitief genoeg wees vir die kompleksiteit van skryf of praat oor “die ander” nie, juis wanneer jy dit doen binne die skynbaar vertroulike maar noodwendig afstandelike “soos familie”-domein.

    3. Dat die herlees van boeke wat jy gedink het jy ken, ’n nuwe avontuur word as jy begin oplet na die huiswerker-karakters. Dit geld vir alles van die Maasdorp-boeke tot JM Coetzee se romans.
     

    2 interessante feite wat jy ontdek het tydens die skryf van Soos familie

    1. Die indiensneming van huiswerkers en alles wat daarmee saamhang is een van die oudste praktyke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, miskien selfs ’n historiese konstante wat alle ander veranderinge in die land oorleef.

    2. In ‘n Huisgenoot uit 1931 (waarin onder andere MER oor die “witmeisie”-probleem skryf) blyk dit uit onderstaande sin dat dit doodnormaal was vir swart bediendes om nie ’n eie kamer te hê nie: “Die blanke diensmeisie kan nie onder die kombuistafel op ’n sak slaap nie; daar moet vir haar ’n behoorlik-ingerigte aantreklike kamertjie beskikbaar gestel word.”
     

    1 sentrale tema waarom alles draai

    Skrywers en kunstenaars beeld uit wat hulle waarneem en hierdie voorstellings beïnvloed dan weer die manier waarop ons na “die werklikheid” kyk en hoe ons ons gedra. Stuart Hall praat van die “cycle of representation”, die sirkelgang van uitbeelding. As Kobie Malan in ’n Maasdorp-boek die bediendes hiet en gebied vind jy dit normaal juis omdat die skrywer dit so normaal aanbied. Ontwrigtende stories, geskryf deur byvoorbeeld Elsa Joubert, Kopano Matlwa, Zukiswa Wanner en Imraan Coovadia, is egter noodsaaklik omdat dit ons anders laat kyk na die per definisie “troubled” verhouding tussen werkgewer en huiswerker. Stories soos “Agterplaas” kan ons leer om ons eie bevoorregting te bevraagteken en om opnuut na te dink oor menswaardigheid en medemenslikheid oor kleur- en klasgrense heen. Soos familie probeer om hierdie moeilike kwessies so onderhoudend moontlik aan die orde te stel.
     

    * * * * * * * *

     
    Jansen het ‘n paar foto’s en boekomslae gedeel wat die teks geïnspireer het. Loer na die album:

    Soos familie deur Ena Jansen

     

     

    * * * * * * * *

     
    Lees ook:

     

    Boekbesonderhede

     

    Please register or log in to comment