Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

“Waar staan ek?” Ena Jansen gesels oor die ambivalensie van nabyheid by die bekendstelling van Soos familie

Ena Jansen

 
Ena Jansen het onlangs haar boek Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste by Love Books in Johannesburg bekendgestel. Professor Gerrit Olivier, samesteller van Penny Siopis: Time and Again en Jansen se oud-student en kollega, het die gesprek gelei.

Jansen het talle Suid-Afrikaanse stadstekste ontleed en gevind dat huiswerkers die belangrikste tolke en vertalers is in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hierdie vrouens word op die voorgrond geplaas in Soos familie.

 
Gerrit Rautenbach, Ena Jansen en Kate RoganSoos familieOp Olivier se vraag oor die aansporing tot die boek, het Jansen vertel dat Soos familie geïnspireer is deur die figuur van Eva Krotoa wat in Jan van Riebeeck se huishouding gewerk het en met haar kennis van Nederlands en Portugees as tolk opgetree het. In haar navorsing het Jansen gevind dat hierdie selfde tipe verhouding deur die eeue voortgesit is deur swart werkers in wit mense se huise. Die huiswerkerfiguur word dus ‘n skakel tussen wit en swart, ryk en arm, die stad en die platteland. Hierdie gegewens het Jansen so geboei dat sy oral in die letterkunde huiswerkerfigure begin raaksien het.

‘n Tweede faktor wat Jansen se studie beïnvloed het was haar verhouding met haar huiswerker, Nomahobe Cecilia Magadlela. “Cecilia was vir my die skakel na kennis van die Oos-Kaap,” het sy vertel en bygevoeg dat ons elkeen so ‘n skakelpersoon in ons lewens het.

Olivier het opgemerk dat Soos familie ‘n projek was van fenominale omgang – “van die 17de eeu aan die Kaap tot die dag toe die boek drukkers toe gegaan het”.

Die titel van die boek dui op die kompleksiteit en teenstrydigheid van die verhouding tussen werkgewer en werknemer in Suid-Afrika. Die sleutel tot die teks lê in die woord “soos”, die huiswerker is soos familie, maar sy is nie familie nié. Dit vergestalt die ambivalensie van nabyheid, het Jansen vertel. Die huiswerker is iemand wat jou intieme lewe van naby ken, tog is daar ‘n afstand.

Ena Jansen en Shireen AllyDie feit dat die huiswerker nié familie is nie word blootgestel wanneer daar skielik iets van die werkgewer verwag word. Jansen het stories gekies soos byvoorbeeld Barbara Fölscher se kortverhaal, “Kinders grootmaak is nie pap en melk nie” (Reisgenoot 2002) waarin hierdie soort keuses of grensmomente gemaak word; wanneer die waarheid oor die verhouding ontbloot word.

Op Olivier se vraag oor waarom sy slegs op stadstories fokus, het Jansen die digter Loftus Marais aangehaal: “Wat is apartheid? Apartheid is om uit te vind dat Grieta ook ‘n man en kinders het.” Jansen is veral gefassineer deur die kultuur van dubbelbevoorregting in die stad: swart vrouens se migrasie na die stad en die eensaamheid van die enkeling-huiswerker wat wit mense se kinders op pas terwyl haar eie kinders by haar ma of suster ver weg woon.

Die stad is egter nie net negatief nie, het Jansen gesê. Vir baie swart vrouens is Johannesburg ‘n stad van selfstandigheid, ‘n wegkoms van hul onderdanige bestaan in ‘n patriargale samelewing en ‘n plek waar hulle vaardighede kan ontwikkel. In stadsboeke word die aandag dikwels gevestig op die wandelaar, die flaneur, terwyl in Johannesburg is die belangrikste figure wat jy op straat sien die domestic worker haastig op pad werk toe, het sy vertel.

In haar ontleding van verskeie stadstekste het Jansen byvoorbeeld gevind dat in die gemoedelike, anekdotiese verhale van Audrey Blignault is daar geen twyfel oor die vanselfsprekenheid dat ‘n swart vrou die huiswerker is nie, terwyl Zukiswa Wanner se boek Maid in SA aannames oor ras en klas aan die kaak stel. Jansen het ook melding gemaak van Mede-wete deur Antjie Krog en From Servants to Workers deur Shireen Ally wat in Soos familie bespreek word.

In Soos familie het Jansen doelbewus tipografiese klem gelê op die swart vrou in ‘n poging om haar te individualiseer. Die hoofstukopskrifte is vernoem na die vroue, die datum en die plek in die letterkunde waar Jansen hulle teëgekom het.

Oor haar eie verhouding tot die teks het Jansen gesê: “Ek het besef jy kan nie oor die onderwerp skryf sonder om self oor die persoonlike stories te skryf nie. Dis baie belangrik dat jy jouself rekenskap gee terwyl jy skryf – waar staan ek?”
 

* * * * * * * *

 
Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die geleentheid met #livebooks getwiet:


 

 
Facebook galery
 

 

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment