Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Gesprekke met meer as 600 mense in 12 jaar: Nicol Stassen gesels oor Die Dorslandtrek

Nicol Stassen

 
Die DorslandtrekThe Thirstland TrekDie Dorslandtrek: 1874 – 1881 deur Nicol Stassen vertel die aangrypende verhaal van die Afrikaners wat tussen 1874 en 1881 uit die Transvaal na Angola getrek het.

Die Dorslandtrek het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn en is ook in Engels beskikbaar as The Thirstland Trek: 1874 – 1881.

Books LIVE het met die outeur gesels oor sy soektog na kennis oor die Dorslandtrekkers. Stassen het twaalf jaar lank aan hierdie projek gewerk waartydens hy met meer as 600 mense gesels het oor dié merkwaardige tydperk in ons geskiedenis.

Lees die onderhoud:
 

* * * * * * * *

 
Wat was dit omtrent die geskiedenis van die Dorslandtrekkers wat jou belangstelling geprikkel het?

Die Dorslandtrek is sekerlik een van die fassinerendste hoofstukke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die geheel. Dit leen hom boonop uitstekend tot die vertel van ’n verhaal. Talle lesers het my daarop gewys dat hulle die boek nie as ’n stuk “geskiedenis” ervaar het nie, maar as die aangrypende verhaal van gewone mense wat buitengewone tye beleef het. Ek dink dis veral hierdie menslike aspek van hulle ongelooflike lyding, en hulle ongelooflike ootmoed, wat my so aangegryp het. Ek het hulle boonop probeer verstaan, nie as buitengewone mense met buitengewone eienskappe nie, maar as doodgewone mense met hulle goeie en minder goeie, vir ons selfs onaangename, hoedanighede.

Hoe het jy die navorsing vir dié grootse projek aangepak? Waar het jy begin en watter vrae het jy gevra?

Dis ’n interaktiewe proses wat begin is met die insameling van inligting in talle argiewe in verskeie lande, die voer van onderhoude met mense wat gebeurtenisse nog persoonlik beleef het, die opvolg van nuwe brokkies inligting op die Internet, die uitruil van genealogiese inligting en foto’s met afstammelinge van Angola-Boere en die ontdekking van nuwe inligtingsbronne soos die Facebook-groep “Dorslandtrekker Afstammelinge”.

Dit was vir my interessant om in navolging van FA van Jaarsveld die volgende vrae te vra en hopelik te probeer beantwoord:

  • Wat het die Dorslandtrekkers beweeg en hoe is die verloop van die trek deur natuurlike omstandighede bepaal?
  • Wat het hulle geglo en hoe het hulle geleef, by hulle omgewing aangepas, gedink, gewerk, geveg, gely en beskaaf gebly?
  • Watter karaktereienskappe het hulle gedurende die trek ontwikkel en hoe het hulle hul teenoor mekaar en ander gedra?
  • Watter gewoontes en gebruike het by hulle posgevat en hoe is die lewe en die mense wat hulle op hul trek ontmoet het, deur hulle gesien?

 
Tydens die bekendstelling het jy genoem dat jy vele togte na Angola aangepak het om met die Dorslantrekkers se afstammelinge te gesels. Vertel ons oor hierdie togte en wat jy daaruit geleer het.

Oor die afgelope twaalf jaar het ek drie keer, elke keer vir ongeveer drie weke lank, na Angola gegaan. Daarbenewens het ek ten minste twaalf keer elke keer vir ongeveer drie weke lank na Namibië gegaan om lewende Angola-Boere en nasate van die Dorslandtrekkers op te soek. Dis nou benewens korter besoeke aan mense in Suid-Afrika. Ek het onlangs ’n opname gemaak en gesien dat ek oor die afgelope twaalf jaar met meer as 600 mense onderhoude gevoer het of inligting uitgeruil het. Die ongelooflike gasvryheid van so baie mense was vir my besonder aangrypend. In dié proses het ek tientalle nuwe vriende gemaak.

Die ekspedisies na Angola was elke keer onder leiding van Faan van der Merwe van Grootfontein, ’n nasaat van die Angola-Boere, en saam met ander afstammelinge van die Dorslandtrekkers. Ons het hoofsaaklik plekke besoek waar die Angola-Boere vroeër gevestig was, en dit was interessant om die kontras van die verlede met die hede te ondersoek. Die merkwaardigste was seker die ongelooflike ekonomiese vooruitgang van Angola sedert die beëindiging van die veertigjarige burgeroorlog in 2002 – in kontras met die agteruitgang en verval wat ons in dieselfde tyd in Suid-Afrika beleef het.

Waarom het jy die boek geskryf? Is dit nog relevant binne ons hedendaagse politieke diskoers? Wil mense nóg Afrikaners se stories hoor?

Ek het ses jaar gelede my doktorsgraad in Portugese koloniale geskiedenis verwerf. Dit was destyds amper ’n taboe-onderwerp waaroor daar internasionaal min navorsing gedoen is en die mees resente bronne ongeveer 40 jaar oud was. Ook in die geval van navorsing oor die Dorslandtrek en die Angola-Boere het navorsing vir 40 jaar lank gestagneer. Daar het intussen ’n internasionale herlewing op dié vakgebied plaasgevind. Ek het met my destydse navorsing, en ook die meer onlangse navorsing oor die Dorslandtrek, probeer om deurentyd op die relevansie daarvan te wys.

Die Angola-Boere was die eerste Afrikaners wat by omstandighede moes aanpas waarmee die res van die Afrikaners in Suid-Afrika eers dekades (in die laaste twintig jaar!) later gekonfronteer is – ’n vyandige regering met ander waardestelsels, en die oorlewing van ’n “wit” eilandjie van blankes binne ’n “swart” oseaan. Ongelukkig is min of geen navorsing oor dié onderwerp gedoen voordat die geskiedenis self ons ingehaal het nie.

Jy het die boek opgedra aan jou vrou, Chrissie-Jane. Hoe het sy gehelp om hierdie projek te volbring?

Sy is ’n baie rustige mens wat nie met die projek self betrokke was nie. Chrissie-Jane is nie ’n veeleisende mens nie, maar sy het vir my die milieu geskep om my intensief en vir baie jare daaraan toe te wy. Twee weke ná ons huwelik het ek op ’n reis van drie weke na Angola vertrek om daar te gaan navorsing doen! Sonder haar ondersteunende rol sou dit dalk nie moontlik gewees het nie. Die feit dat die hele huis vol boeke is, verg seker ook spesiale verdraagsaamheid en genade.

Tydens die bekendstelling in Pretoria het sy die Hollandia Mannenkoor begelei toe hulle ’n lied uit die Dorslandtrek, “Lied van die eensaamheid” (oftewel “Vreemdelingslied uit die Kalahari-woestyn”), gesing het.

Jy het elf jaar lank aan die boek gewerk, hoe het jy gemotiveerd gebly?

Ek het gelukkig nie nodig gehad om myself in enige stadium te motiveer of gemotiveerd te bly nie. Dit is vir my so ’n fassinerende onderwerp juis omdat dit soveel ander dissiplines betrek – plantkunde, dierkunde, geografie en geomorfologie, klimaat, veeartsenykunde, genetika, ekonomie, genealogie en volkekunde. En dan natuurlik die materiële en geestelike leefwêreld van die Dorslandtrekkers en Angola-Boere, onderwys en natuurlik hulle interaksie met ander groepe, dit alles teen die agtergrond van ’n wêreld en leefwyse wat vandag vir ons baie vreemd en eksoties en eintlik byna ondenkbaar is.

Beskryf jou daaglikse skryfproses en jou gunsteling werkspasie.

Ek begin gewoonlik smiddae, ná die afloop van my “werksdag”, so teen vieruur skryf en druk dan deur tot halfelf, elfuur se kant toe, met ’n onderbreking vir aandete. Die produktiefste tyd is egter Saterdae en Sondae. My gunstelingwerkspasie is in die sitkamer in my huis, omring deur my boeke en lêers vol inligting, soms met musiek wat speel en ’n glasie rooiwyn later in die aand.

In die tussentyd het jy ook besig gebly met jou take as uitgewer en het jy vele boeke vertaal. Hoe kry jy dit reg om soveel hoede te dra?

Ek het boonop vyftien akademiese boekwinkels bestuur! Ek dink ek het met die verloop van jare daarin geslaag om met mindere of meerdere sukses te delegeer. Dit is glad nie so maklik om aan te beweeg van ’n punt waar jy alles doen tot een waar jy meer en meer delegeer nie. Daarvoor het jy bekwame personeel nodig. Die verskeidenheid dinge wat my besig hou, help miskien juis om dit vir my deurentyd interessant te hou en nie in ’n groef te beland nie.

Watter onderwerpe naas die Dorslandtrekkers fassineer jou en dink jy behoort in boekvorm te verskyn?

Die verskynsel van armoede onder Afrikaners en hoe hulle daaruit ontworstel het, maar gesien in die breër agtergrond van armoede in Afrika. Dan ook verwante onderwerpe aan die Dorslandtrek, soos die geskiedenis van die Afrikanergemeenskappe in Rhodesië, Oos-Afrika, Botswana, Argentinië en natuurlik Angola.

Wat is jou hoop vir die toekoms van Suid-Afrika en hoe kan die boekbedryf daartoe aanleiding gee?

Die geweldige uitbreiding van kennis tydens die Renaissance was onlosmaaklik verbonde aan onstuimige tye wat nuwe geleenthede geskep het, soos die uitvinding en ontwikkeling van die boekdrukkuns en die verspreiding van kennis deur ondernemende uitgewers soos Aldus Manutius van Venesië. Die onstuimige tye wat ons beleef en die ontwikkeling van nuwe tegnologie op die gebied van boeke skep die klimaat vir die Afrika-Renaissance waarvan al so baie gewag gemaak is, maar wat nog nie gerealiseer het nie. Al wat nou ontbreek, is suksesvolle uitgewers om op hierdie golf te ry. Sonder die uitbreiding van kennis deur boeke en uitgewers sal daar egter nooit ’n Afrika-Renaissance wees nie.

 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment