Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

“Taal en vertaling is soos kos: ’n ietsie van alles vir my, dankie!” – Amelia de Vaal

Amelia de Vaal

 
Amelia de Vaal is sedert 2011 ‘n redakteur by Protea Boekhuis, en uit haar vertalingspen het vele boeke al ‘n nuwe lewe in Afrikaans gekry.

In 2012 is De Vaal bekroon met die Elsabé Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur in Afrikaans vir haar vertaling van Die lewe en werke van kabouters en Die oproep van die kabouters deur Wil Huygen.

Hier volg ‘n paar van die boeke op De Vaal se kerfstok, onder meer Mimus deur Lilli Thal wat verlede jaar op die rakke verskyn het:

MimusDie lewe en werke van kaboutersDie oproep van die kabouters
Lillie die heksie en die soektog na die verlore skatLillie die heksie en die bangbroek WikingLillie die heksie by Dracula se kasteelLillie die heksie se sirkusbetoweringLewende planeet

 
Vir wenke en wysheid oor vertaling, lees ons onderhoud met De Vaal:
 

Hoe en hoekom het jy begin vertaal?

Dit was ’n absolute gelukskoot: as dit nie vir Protea Boekhuis was nie, het ek dalk nooit in vertaling beland nie! Terugskouend beskou is dit egter tog een van daardie gelukskote wat met ’n netjiese paadjie teiken toe gevlieg het, want met ’n akademiese agtergrond in Afrikaans, Engels, Nederlands, Duits en Frans is vertaling seker ’n redelik voor die hand liggende bestemming! Ek het ná my studies (’n BA in Europese Tale, ’n BA in Joernalistiek en ’n MA in Afrikaans) by Protea Boekhuis aangesluit as redakteur – en in ’n relatiewe klein uitgewerspan, veral soos wat ons in die beginjare was, doen almal maar iets van alles. Vertaling het só eintlik onbepland deel van my portefeulje geword. My heel eerste vertaling was ’n kinderboek uit Duits: Ente, Tod und Tulpe deur Wolf Elbruch. Toe my man in 2010 na Portland, Oregon verplaas is, was ek bevoorreg genoeg om by Protea te kon aanbly. Die afstand maak sekere redakteurspligte moeilik – maar vir vertaling is dit ideaal. Deesdae doen ek omtrent 60 persent vertaalwerk en 40 persent redakteurswerk, afhangend van ons publikasielys.

Watter boeke is die lekkerste om te vertaal – romans, jeugverhale of kinderboeke?

Wat is die lekkerste, oggend-, middag- of aandete? Taal en vertaling is soos kos: ’n ietsie van alles vir my, dankie! Elke genre het sy eie uitdagings en unieke plesiere en ek geniet regtig énige vertaalprojek: dis verstommend hoe baie ’n mens léér deur te vertaal. As iemand dalk eendag in my Google-soekgeskiedenis sou moes rondsnuffel, sal hulle waarskynlik dink ek ly aan ernstige aandagafleibaarheidsindroom: dan slaan ek dinosourusname na, dan soek ek inligting oor Viking-gebruike, dan is ek aan die lees oor die Wilde Weste, dan soek ek na touspringrympies … As ek regtig moet kies, is “lang” kinderboeke en jeugromans die boeke wat my vingers die meeste laat jeuk: As ’n mens met ’n langer teks werk, infiltreer dit nogal jou dink en doen vir ’n geruime tyd – en dis lékker om so saam met ’n boek te leef!

Hoe benader jy ’n stuk werk voordat jy dit vertaal?

Dit hang absoluut af van die tipe werk – en natuurlik van die sperdatum! Met niefiksie volg ek gewoonlik die stoomroller-metode: begin eenvoudig vertaal en werk die teks van voor tot agter deur. Daarna volg ’n “blinkvryf”-rondte, spesifiek met die oog op konsekwentheid en deurlopende styl. Met fiksie verkies ek om die teks eers een keer aandagtig deur te lees, en met ’n potlood aantekenings op die hardekopie te maak. Daarna is dit maar weer stoomroller deur die vertaling – en ’n baie deeglike heen en weer skoon- en mooimakery as die rowwe vertaling eers in plek is.

Wat is die goue reël van vertaling?

Ek dink vir my is die goue reël dat elke teks uniek is, en dat ’n mens nie te veel vooropgestelde idees en reëls moet hê nie! Vertaal ’n mens ’n boek soos Annie MG Schmidt se Jip en Janneke, wat ’n absoluut gekanoniseerde stuk Nederlandse kultuurgoed is, móét ’n mens aanvaar dat dit tot ’n mate “soos ’n vertaling” gaan lees. Daar is nie weg te doen met die inherent Nederlandsheid van die teks nie; ’n mens kan dit nie na ’n Suid-Afrikaanse konteks verplaas nie; ’n mens kan hoogstens die leser help om die andersheid beter te verstaan. Ek dink ook daar’s ’n baie fyn balans tussen innoverend dink en vertaal – en óórskryf. ’n Mens kan nie altyd vertaal sonder dat die resultaat ánders as die oorspronklike oorkom nie. Maar ’n mens kan wel vertaal sodat die resultaat ewe helder, ewe musikaal en ewe suiwer klink – ’n kunswerk in eie reg.

As daar een boek in die wêreld is wat jy graag sou wou vertaal, wat sal dit wees?

Hmmm … daar is BAIE! Maar ek sal nie getrou wees aan my veertienjarige self as ek nie, binne die konteks van jeugboeke, die Anne of Green Gables-reeks eerste noem nie! (En nee, dit kan beslis nie Anna van die Groendakkies wees nie!) Deesdae is ek natuurlik ook weer baie bewus van die Amerikaanse kinderboekreeks Amelia Bedelia, wat my telkens laat wonder of dit nie uitgenip is om deur ’n Amelia vertaal te word nie … Op ’n ernstige noot sal ek besonder baie plesier put uit ’n vertaling van hierdie jaar se Pulitzer-wenner, Anthony Doerr se All the light we cannot see. Wát ’n uitstaande boek!

Op watter van jou werk is jy die trotste?

Ek is besonder trots op Lilli Thal se Mimus, wat aan die einde van 2014 by Protea Boekhuis verskyn het. Dit was ’n besonder uitdagende teks – maar een van die lekkerstes waaraan ek nog ooit gewerk het. Elke keer as ek ’n stukkie Duitse woordspel in Afrikaans kon laat wérk … mapstieks, dit was magies!

Wat is jou raad vir aspirantvertalers?

Dit klink besonder geyk … maar léés. En reis. En luister! Ek dink goeie vertalers het ’n besonder ruim gedagtewêreld nodig, en die enigste manier om jou woordeskat wyd, jou kultuurbegrip onbenoud en jou mensekennis diep te hou, is deur so veel as moontlik van die wêreld te weet. En daarmee help álle leesstof – van die grootste snert op Facebook tot die dikste klassieke roman.
 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment