Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Maties en Afrikaans: Huidige taalbeleid duur voort in 2016

Maties en AfrikaansDie Universiteit Stellenbosch (US) het op Vrydag, 13 November aangekondig dat die bestuurspan dit oorweeg om alle onderrig by die universiteit in Engels te fasiliteer.

Die nuus van die skokonthulling het soos ‘n veldbrand versprei, en teen Vrydagmiddag het verskeie groepe en individue na vore getree met hul argumente vir en teen die besluit.

Vir meer insig oor die geskiedenis van Afrikaans en die taaldebat op Stellenbosch, lees Pieter Kapp se 2014-publikasie, Maties en Afrikaans.

Die US-bestuur het gister in ‘n verklaring aangevoer dat die universiteit se huidige taalbeleid vir eers sal bly soos dit is. Raadsvoorsitter George Steyn het verduidelik dat daar nog geen besluite gemaak is nie en dat die bestuursdokument ‘n uitnodiging is om die kwessie verder te bespreek.

Netwerk24 se Carryn-Ann Nel het verslag gelewer oor die universiteit se poging om kalmte aan die taaldebat te bring:

“Die Afrikaanse aanbod (vir 2016) sal nie afgewater word nie. Indien veranderinge aan die taalbeleid in die vooruitsig gestel word, sal die proses volgens statutêre voorskrifte geskied,” het Steyn gesê. “Die doel van die buitengewone vergadering was om die uitgebreide reaksie van verskillende belangegroepe op die verklaring deur die rektor se bestuurspan (RBS), asook mediaverklarings, te bespreek.”

Die uitvoerende komiteebestaan uit Steyn, prof. PW van der Walt, prof. Prieur du Plessis, dr. George du Toit, prof. Wim de Villiers (rektor en visekanselier), prof. Leopoldt van Huyssteen (bedryfshoof) en prof. Hansie Knoetze (dekaan van die fakulteit ingenieurswese).

Luidens die mosie is daar só besluit:

Die huidige bestuursdokument verteenwoordig die US-bestuur se perspektief en is die sintese van sy ondervinding van gebeure asook konsultasies met studentegroepe. Die dokument is ’n besprekings- of gespreksdokument en nie ’n beleidsdokument nie.

Een van die mees uitgesproke teenstanders van die besluit om Afrikaans as voertaal te verwyder is Breyten Breytenbach. Lees die artikel om uit te vind waarom die digter sê dat hierdie besluit ‘n skande is wat “onthou sal word”:

Dis beledigend om te wil voorgee hierdie besluit is geneem (en is waarskynlik al ‘n geruime tyd onafwendbaar) met enige sin of begrip van wat ‘n universiteit behoort te wees en die waardes wat dit veronderstel is om te inkarneer, of dat dit geneem sou wees met die belange van die studente in gedagte of selfs met die oog op die belange van die land nie. Dis beledigend en aanstootlik dat “demokrasie” soos ‘n vrot vis voorgehou word om die stank van die karkas wat hierdie hele proses is te probeer verdoesel.

Die beleidsbesluit is geneem deur ‘n aantal opportuniste wat geen sin of begrip het van wat ‘n taal beteken en dra en verteenwoordig en ontsluit en waar dit vandaan kom nie – énige taal, selfs Engels. En dit is geneem onder druk van ‘n groep mense wat in feite ook niks voel vir wat ‘n universiteit, énige universiteit, veronderstel is om aan te bied nie.

Een skrywer wat egter Engels as voertaal ondersteun is Deon Meyer. Die Ikarus-outeur het met Rozanne Els gesels oor waarom hy so dink.

Lees die artikel vir Meyer en ander Afrikaanssprekendes se sienings:

Die bekende Afrikaanse skrywer Deon Meyer sê hy glo Afrikaans se toekoms is verstrengel met dié van Suid-Afrika. Afrikaans kan nie voortbestaan as Suid-Afrika se demokrasie nie gesond is nie.

“Die universiteit moet kyk wat die beste is vir die grootste groep en as dit Engels is, wat ek dink dit is, moet Afrikaners opofferings maak.

“Wat goed is vir Suid-Afrika is goed vir Afrikaans.”

In ‘n artikel vir LitNet skryf Bettina Wyngaard dat sy nie eintlik die “histeriese reaksie op die aankondiging dat Stellenbosch ʼn veranderde taalbeleid oorweeg” verstaan nie.

“Nou is die tyd vir nugter en strategies dink, nie vir opruiende toesprake en stellings maak wat vele kere op sosiale media gedeel word, maar wat niks verder vermag nie.”

Lees die artikel waarin die Vuilspel-outeur die saak van alle kante bespreek:

Ek het heelwat klagtes gehoor oor die gehalte van fluistertolkdienste vanuit studente se oogpunt. Ek het egter hierdie jaar, toe ek by ʼn slypskool ʼn aanbieder was, ervaar wat dit is uit die dosent se oogpunt. Net een student het die dienste van ʼn fluistertolk gebruik. Dit was egter ʼn lae gedruis net onder die vlak van irritasie wat absoluut steurend is.Ek kan my net indink hoe dit moet klink wanneer daar vyf of tien studente is wat fluistertolke gebruik – selfs as daar aangeneem word dat die gehalte van die tolke ewe goed is, moet dit die lesinglokaal chaoties maak. Hoe dit tot kwaliteitsonderrig kan bydra, weet ek nie.

Sal dit bydra tot sosiale kohesie om die taal van onderrig te verander, maar daar word niks gedoen om iets omtrent die onderliggende ongelyke magstrukture te doen nie? Wit bevoorregting, en swart frustrasie, moet eers volledig aandag geniet voordat taal enigsins op ʼn gelyke speelvlak gebesig kan word.

Tot dan is enige verandering in taalbeleid net ʼn kosmetiese verandering wat niemand help nie.

Lees die opsommingsartikel deur Jean Oosthuizen vir ‘n verskeidenheid menings van onder meer Joan Hambidge, Piet Croucamp, Carel van der Merwe, TJaco Kleyn en Michael le Cordeur:

Die skrywer Carel van der Merwe sê mens wil nie graag oorreageer op koerantberigte nie, maar sy indruk is dat die Universiteit Stellenbosch se bestuur en van sy akademici nou oorhaastige besluite maak onder druk van luidrugtige minderheidsgroepe wat (nieteenstaande hul vrome uitlatings) politieke en ander appeltjies met die Afrikaanse taalgemeenskap te skil het.

“Ek het in die middel-1980′s aan die US studeer, en reeds toe was daar ’n beduidende klomp Engelssprekende studente, maar nooit was daar hierdie probleme nie. Ek vermoed dus dat groter magte as net studente nou betrokke is. En van wanneer af het Engels nou die de facto amptelike taal van Suid-Afrika geword?”

 

* * * * * * * *

 
Wat dink jy van Engels as voertaal by Maties? Vertel ons op Facebook, Twitter of in die kommentaarspasie hier onder.
 

* * * * * * * *

 

Lees verder oor dié saak:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment