Kom gesels met Zandra Bezuidenhout oor haar vertaling van Arsenaal van klank deur Anna Enquist in Stellenbosch
Protea Boekhuis en Protea Boekwinkel Stellenbosch nooi jou graag na die bekendstelling van Arsenaal van klank deur Anna Enquist, vertaal deur Zandra Bezuidenhout.
Dorothea van Zyl gesels Saterdag, 12 November met Bezuidenhout oor haar vertaling van hierdie merkwaardige digkuns. Anna Enquist is die skrywersnaam van die veelbekroonde Nederlandse digter en prosaskrywer Christa Widlund-Broer.
Die gesprek begin om 11:00.
Moenie dit misloop nie!
Besonderhede
- Datum: Saterdag, 12 November 2016
- Tyd: 11:00
- Plek: Protea Boekwinkel Stellenbosch
Bergzicht Plaza
Andringastraat
Stellenbosch | Padkaart - Gespreksgenoot: Dorothea van Zyl
- RSVP: stellenbosch@proteaboekwinkel.com, 021 882 9100
Oor die boek
Anna Enquist is die skrywersnaam van die Nederlandse digter en prosaskrywer Christa Widlund-Broer. Sy het sowel psigoanalise as musiek gestudeer en albei hierdie terreine word in haar skryfwerk weerspieël. Haar gewildheid in Nederland kan onder meer toegeskryf word aan die herkenbare alledaagse werklikheid in haar poësie, waarby lesers aansluiting vind. Alhoewel haar gedigte oënskynlik verstandelik en nugter is, word die leser juis getref deur die vasberade erns en innerlike krag waarmee sy byvoorbeeld die verlies van haar dogter verwerk deur daaroor te skryf. Die emosionele word egter altyd gebalanseer deur redelikheid, sodat haar gedigte nie sentimenteel is nie, maar tog die leser raak, soos in die gedig “Habanera”:
Daar was ’n kind. Met haar het ek
deur die kamer gedans, ons het van hoek
tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.
Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.
As ek asemhaal vonk sy na in die gedig.
Oor die outeur
Anna Enquist is ’n veelbekroonde Nederlandse romanskrywer en digter. Haar gedigte is baie gewild omdat dit toeganklik is en handel oor onderwerpe waarmee die gewone leser kan identifiseer.
Oor die vertaler
Zandra Bezuidenhout is ’n digter wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is. Sy is ’n ervare vertaler uit Nederlands en was onder andere verantwoordelik vir die vertaling van twee kinderboeke wat onlangs by Protea verskyn het.
Boekbesonderhede
- Arsenaal van klank deur Anna Enquist, vertaal deur Zandra Bezuidenhout
Boek se tuisblad
EAN: 9781485306047
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment