Lees: ’n tienjarige-boekliefhebber resenseer Hoe om ’n draak se toorn te tem vir LitNet
Die tienjarige Aden van Niekerk het onlangs die 12de boek in Cressida Cowell se gewilde Hoe om jou draak te tem-reeks (vertaal deur Kobus Geldenhuys) vir LitNet geresenseer. Hiér is wat die kranige leser (en knap skrywer!) van Cowell se nuutste aflewering gedink het:
Die heel eerste keer wat ek kennis gemaak het met hierdie stories van Cressida Cowell was deur die fliek How to train your dragon. Die boeke het eintlik al in 2003 in Engels verskyn, maar dis eers later in Afrikaans vertaal. Ek het die Hoe om jou draak te tem-boeke begin lees in April 2016 toe ek agt jaar oud was. Dis presies twee jaar gelede, ek is nou tien jaar oud en het dié naweek die laaste boek in die reeks gelees.
Boek twaalf se naam is Hoe om ’n draak se toorn te tem. Dit is ’n skreeusnaakse boek met ’n goeie storielyn en ek het regtig baie daarvan gehou. Dit is ’n konkelende storie, ’n mens-weet-nie-wat-gaan-gebeur-nie-tipe storie en die grappe is regtig snaaks. Dit speel in die Vikinglande af. Ek weet nie presies waar nie, maar dit is fiksie wat probeer om iewers naby Finland in te pas – dis mos die naaste Vikingland aan die Noordpool. Die Barbaarse Argipel (dit word ook die Wilderweste genoem) is vol eilande waar mense aanmekaar oorlog teen mekaar voer. Daar is ook wilde drake en mak drake. Mak drake is drake wat as babas gesteel is en opgelei is om te werk vir mense as slawe of om skootdiere (troeteldiere) te wees.
Die hoofkarakter van die storie is Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde. Hy kan Drakonees praat, die taal van drake. Hy is die enigste mens wat dit kan praat. Harwarrus veg daarteen dat die Wilderweste menslike en draaklike slawe sal aanhou en die enigste manier om dit reg te kry, is om self ’n koning te word. Maar daar is nie elke generasie ’n koning nie. Net as hy genoeg volgelinge kan kry en Grombaard die Gruwelike (die vorige koning van die Wilderweste) se tien verlore toebehore kan opspoor, kan hy as koning gekroon word. Deur die loop van die reeks boeke spoor Harwarrus die verlore toebehore op – dit is skatte soos ’n tandlose draak, Grombaard se tweede beste swaard, die Romeinse skild, die tik-tak-ding, die robynhartsteen, die pyl uit die land-wat-nie-bestaan-nie, die sleutel wat alle slotte oopsluit, die troon en die kroon. Die belangrikste toebehoorsel is die draakjuweel wat die mag het om alle drake vir ewig uit te wis.
Die grootste menslike vyand is Alvin die Verraderlike wat probeer om koning te word, en sy ma, die heks Excellinor. Dan is daar ’n draakvyand, die draak Verwoed. Hy is die leier van die draakrebellie en hulle is vol van die Rooi Raserny – dis wat die boeke dit noem. Hulle hou ’n rebellie omdat hulle wil hê daar moet nie meer draakslawe wees nie. Aan die begin van die twaalfde boek het Alvin die Verraderlike amper koning geword van die Wilderweste én Harwarrus het geen van die toebehore meer nie én die draakrebelle maak jag op Harwarrus!
Die twaalfde boek is so geskryf dat hy op sy eie kan staan sonder die ander boeke, maar dit sal baie beter wees as jy dit in die volgorde van die reeks lees, want dan verstaan mens hoe Harwarrus hiér uitgekom het en hoe hy dáár uitgekom het, waar dít vandaan kom en waar dát vandaan kom. Dis die dikste boek wat ek nog ooit gelees het (dis 471 bladsye lank), maar wat my laat aanhou lees het, is dat daar die heeltyd hoogtepunte is.
Lees Aden se volledige resensie hier.
Boekbesonderhede
- Hoe om ‘n draak se toorn te tem deur Cressida Cowell, vertaal deur Kobus Geldenhuys
EAN: 978-1-4853-0710-5
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment