Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Herdenk Adam Small met hierdie uitgawe van Kitaar my kruis

Adam Small is een van enkele bruin Afrikaanse skrywers wat in die kanon van die Afrikaanse letterkunde opgeneem is.

Hy was, met die gebruik van Kaaps, ’n voorloper van ’n hele generasie bruin Afrikaanse digters, wat ’n opbloei in protespoësie in die jare tagtig teweeggebring het.

In 2012 het die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys aan Small toegeken vir sy drama-oeuvre, met spesifieke verwysing na Kanna hy kô hystoe wat as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramatiese kuns beskou word.

In 2009 is hy ook met die SA Akademie se Eeufeesmedalje bekroon vir sy hele oeuvre.

Kitaar my kruis is vir die eerste keer in 1962 deur H.A.U.M. gepubliseer, en die tweede uitgawe het sewe herdrukke beleef.

In sy huldeblyk getiteld “Die Groot Small”, gelewer te Stellenbosch op 7 Maart 2006 (op LitNet beskikbaar), maak Steward van Wyk die volgende opmerkings oor Small se werk:
 
 

“’n Deurlopende tema in Small se werk is die uitbeelding van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap onder die beleid van apartheid. In die digbundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet loods hy ’n fel aanval op kwessies soos gedwonge verskuiwing, rasseklassifikasie en -diskriminasie en aparte geriewe. Hy maak veral gebruik van satire om die onhoudbaarheid van die stelsel en die valse waardes van gesagsfigure uit te wys.”

Small se identifikasie met sy karakters vind neerslag in sy gebruik van Kaaps – volgens hom ’n volwaardige taal waarin mense hul eerste skreeu en hul laaste doodsroggel gee. Wat in heelparty gedigte opval, is die gebruik van refreine en herhaling, wat as ’t ware die gemeenskap se vrese waarskuwings en aanklagte van die tyd eggo (Van Wyk, 2006). Verder is daar ’n sterk Ou Testamentiese inslag, maar ook talle verwysings na die geboorte en wederkoms van Christus. Volgens Van Wyk word dié gegewe op die lotgevalle van onderdruktes van toepassing gemaak, o.a. die geskiedenis van Moses en die Israelitiese volk onder Egiptiese slawerny: Soos Moses met sy staf, moet die digter met sy kitaar sy mense lei, maar omdat die taak so moeilik is, word die kitaar ironies ook sy kruis. Só lui die openingsgedig byvoorbeeld:

KÔ, LAT ONS SING

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –

toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sê: ’n staf

nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
’n staf
’n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptanaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment