Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Academic’ Category

Heruitgawe van Die Herero-opstand 1904–1907 deur Gerhardus Pool

Die Herero-opstand 1904–1907Die heruitgawe van Die Herero-opstand 1904–1907 deur Gerhardus Pool is nou beskikbaar by Protea Boekhuis:

Die Herero-opstand 1904–1907 is ’n heruitgawe van ’n boek wat ses keer tussen 1976 en 1979 deur HAUM gepubliseer is. Die lotgevalle van die Hererovolk word in hierdie boek geskets, ’n stuk geskiedenis wat ’n sentrale plek in Namibië se kleurryke geskiedenis beklee. Die opstand van die Herero’s in 1904 teen Duitse koloniale gesag kan beskou word as die enkele gebeurtenis wat die gebied se volksverhoudinge die ingrypendste verander het. Die Herero-opstand 1904–1907 vertel van die geleidelike opbou na die konflik, die skielike uitbarsting van geweld en die tragiese afloop vir die Herero’s toe duisende verhonger het en hulle grond en politieke seggenskap verloor het.

Oor die outeur

Gerhardus Pool (1941) is in Upington gebore en het in 1953 saam met sy ouers na Otjiwarongo verhuis. Hy behaal sy MA graad in Geskiedenis (1976) by die Universiteit van Stellenbosch. Hy werk as onderwyser by hoërskole in Keetmashoop en Windhoek en is sedert 1976 verbonde aan die Universiteit van Pretoria waar hy spesialiseer in die geskiedenis van suidwestelike Afrika.

Boekbesonderhede


» read article

Nuut: Die VOC aan die Kaap, 1652-1795 saamgestel deur Con de Wet, Jan Visagie en Leon Hattingh

Die VOC aan die Kaap, 1652-1795Die VOC aan die Kaap, 1652-1795, saamgestel deur Con de Wet, Jan Visagie en Leon Hattingh, is nou beskikbaar by Protea Boekhuis:

Daar is reeds baie navorsing gedoen en ’n groot aantal publikasies het verskyn oor die geskiedenis van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) se tyd aan die Kaap. Nogtans het baie kundiges ’n behoefte aan ’n gesaghebbende publikasie wat die VOC se bewindstyd aan die Kaap volledig sou behandel, geïdentifiseer. ’n Motivering was ’n nuwe belangstelling in die Kompanjiesgeskiedenis en heelwat aspekte van die VOC se verbintenis met Suid-Afrika wat nog nie in die historiografie neerslag gevind het nie. Sewentien medewerkers, wat elkeen ’n deskundige op sy of haar besondere terrein is, is gewerf.

Aspekte wat bespreek word, is die ontdekking van die seeroetes na die Ooste en die Amerikas teen die einde van die 16de eeu en die interafhanklikheid wat daardeur tussen Europa, die Ooste en die Amerikas ontstaan het. Dit het ook in Nederland neerslag gevind met die ontstaan van die VOC in 1602 en die groei van sy Oosterse handelsryk in die 17de eeu, wat dit die eerste groot internasionale handelsmaatskappy gemaak het. Daarna word die maatskappy se geleidelike agteruitgang en sy uiteindelike ondergang aan die einde van die 18de eeu geskets.

Daar word gefokus op die rol wat die Kaapse diensstasie in die VOC se Oosterse handel gespeel het, die Kaapse bestuursinstellings en owerheidsdienste word bespreek en aandag word gegee aan die verdediging van die Kaap – die strategiese waarde van die Kaap en die verdedigingstelsel om dit te beskerm, die verdediging teen ’n buitelandse bedreiging en die bekamping van binnelandse bedreigings. Laastens word die regspraak, gesondheidsdienste en onderwys volledig behandel. Daar is ook ’n fokus op die verskillende bevolkings-, kulturele of beroepsgroepe aan die Kaap, te wete die Khoisan, die Kompanjiesamptenare, die vryburgers, die slawe en die gemengde of “bruin” bevolkingsgroep. Ten slotte is daar ’n samevattende oorsig op die geskiedkundige nalatenskap van die VOC se teenwoordigheid aan die Kaap op die ontstaan en ontwikkeling van Suid-Afrika soos ons dit vandag ken.

Oor die redakteurs

Con de Wet, Jan Visagie en Leon Hattingh is kenners op die gebied van die VOC en die verbintenis met Suid-Afrika en het met ’n paneel van kundiges saamgewerk, onder andere: Dan Sleigh, Helena Scheffler, Kay de Villiers, Hans Heese, Piet Westra, Thean Potgieter, Gawie en Gwen Fagan en ook Nederlandse medewerkers Gerrit Schutte en Thom de Schmidt.

Boekbesonderhede


» read article

Karel Schoeman beskryf die agteruitgang en verval van die VOC in Swanesang

SwanesangSwanesang: Die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771–1795 deur Karel Schoeman is nou beskikbaar op Protea se rakke:

Die agtste en laaste deel van die reeks Kolonie aan die Kaap beskryf die agteruitgang en verval van die VOC en die gevolge wat dit vir Kaap gehad het gedurende die laaste kwarteeu van die VOC-bewind.

Swanesang dek die tydperk vanaf die dood van goewerneur Rijk Tulbagh tot en met die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795. Sy opvolgers, J.A van Pletterberg, J.C. de Graaff, die waarnemende goewerneur Rhenius en die laaste goewerneur, J.A. Sluysken, en die onsekerheid wat die laaste deel van die VOC-tydperk gekenmerk het, word belig. Afgesien van die amptelike rolle wat verskeie VOC-amptenare gespeel het, word ook aandag aan hulle karaktereienskappe en persoonlike lewens gegee om sodoende lewe aan die geskiedkundige figure te gee.

Schoeman slaag egter veral daarin om naas die amptenary ook ’n beeld te gee van die lewe van gewone mense in die breër Kaapse samelewing.

Besonder boeiend is die bespreking van die reise van verskeie natuurkundiges, soos die Swede Thunberg en Sparrman, die Skotte Masson en Paterson, die Nederlander Robert Jacob Gordon en die Franse Sonnerat en Le Vaillant. Veral die flambojante Le Vaillant se boeke was baie populêr en het bygedra om die Kaap en sy interessante fauna en flora wyd bekend te maak.

In die laaste hoofstukke word aandag gegee aan die Franse Rewolusie en ander politieke veranderinge in Europa wat Nederland verswak en tot die Britse oorname van die Kaap gelei het.

Oor die outeur

Karel Schoeman, een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers, het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is reeds talle male bekroon, o.a. met die Hertzogprys, die Recht Malan-prys en die N.P. van Wyk Louw-toekenning van die FAK.

Boekbesonderhede


» read article

Rus in vrede Pieter Kapp, taalstryder en skrywer van Maties en Afrikaans (1939 – 2015)

 
Maties en AfrikaansPieter Kapp, geliefde akademikus en emeritus-professor in Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, is Sondagoggend op die ouderdom van 76 in Somerset-Wes oorlede.

Kapp se belangrike bydrae tot die taaldebat op Stellenbosch, Maties en Afrikaans, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn. In hierdie boek het die geskiedkundige die verhaal van Afrikaans op Stellenbosch opgeteken en indringende vrae gevra oor die manier waarop die taalkwessie in die toekoms hanteer behoort te word.

Tydens ‘n gesprek met Jacques du Preez by die US Woordfees 2014 het Kapp sy beweegrede vir die skryf van Maties en Afrikaans as volg opgesom: “Jy kan nie Afrikaans verstaan as jy nie Stellenbosch verstaan nie en jy kan nie Stellenbosch verstaan as jy nie Afrikaans verstaan nie.”

Netwerk24 se Maygene de Wee het berig dat Kapp op Sondag, 13 Desember in die MediClinic Vergelegen in Somerset-Wes oorlede is nadat hy na ‘n operasie bloeding op die brein opgedoen het.

De Wee het met Kapp se kollegas en vriende – onder meer professor Christo Viljoen, Dr Rooies van Wyk en Dione Prinsloo – gesels oor sy nalatenskap en sy moedige stryd om Afrikaans te bevorder as akademiese taal.

Lees die artikel:

Volgens prof. Christo Viljoen, huidige president van die konvokasie, het Kapp as president van die konvokasie (tot 2011) hom onvermoeid vir die bevordering van Afrikaans as akademiese en onderrigtaal beywer.

Hy het gesê Kapp het hom veral daarvoor beywer om Afrikaans as taal van almal wat die taal praat (wit, bruin en swart) te erken, en om die beeld van Afrikaans as ’n “wit taal” te verander.

Kapp was tot sy heengaan lid van die beheerraad van die Hugenotevereniging van Suid-Afrika.

Volgens Viljoen het hy ook hier ’n groot bydrae gelewer om die geskiedenis van die Hugenote in Suid-Afrika te ontsluit en te bevorder.

Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

Nicol Stassen deel alles wat jy wil weet oor die vertalingsproses, van outeursregte tot geldsake (Potgooi)

Nicol Stassen, skrywer, vertaler en Protea Boekhuis direkteur, het onlangs met Ilse Salzwedel gesels oor die vertalingsproses van internasionale boeke na Afrikaans.

Daar verskyn elke jaar ‘n groot aantal vertaalde boeke by Protea Boekhuis deur bekroonde vertalers soos, onder meer, Daniel Hugo, Kobus Geldenhuys, Amelia de Vaal, Sonya van Schalkwyk-Barrois en Stassen self.

Stassen was vroeër vanjaar op RSG waar hy oor Protea Boekhuis se wye reeks vertaalde kinderboeke gesels het, en uit hierdie gesprek het daar lesersvrae ontspruit oor die proses van vertaling.

Salzwedel het ‘n paar van hierdie vrae aan Stassen gestel: Hoe gaan jy te werk as jy besluit om ‘n boek te vertaal? By wie moet jy outeursregte uitklaar? Hoe werk die geldsake en is daar keurders wat die Afrikaanse vertaling moet goedkeur?

Stassen sê eerstens dat dit belangrik is om internasionale kontakte te hê en vertel dat dit byvoorbeeld vier jaar lank gevat het om die kontrak vir die Asterix-boeke te beklink.

“Jy moet internasionale regte eerbiedig,” sê Stassen verder, en verduidelik dat daar eers ‘n ooreenkoms met die oorspronklike uitgewer aangegaan moet word.

Om betalings uit te werk is gewoonlik meer ingewikkeld, veral siende dat jy in sekere gevalle ook illustrasies se regte en e-boekregte moet koop, maar uitgewers het ‘n standaardooreenkoms wat gewoonlik ‘n klousule bevat oor hoeveel van die verkope die skrywer sal ontvang.

“Keurders vertrou maar op jou goeie naam,” vertel Stassen, “ons vertalings is van ‘n hoogstaande gehalte”.

Die gesprek begin om 32:00. Luister na die potgooi:

 
Lees ook:

 

Die DorslandtrekThe Thirstland TrekThe Boers in Angola, 1928–1975Afrikaners in Angola 1928-1975Asterix en die verlore papirusrol
OorlogswinterMollie die moedige katVakansiehuis met swembadDie skoenlapperleeuDie Rooi PrinsesOuma is 'n kroekDie hormoonfabriek

 

Boekbesonderhede

Foto met dank van LitNet


» read article

Oorwinning vir Maties en Afrikaans: Meertalige beleid ingestem deur US-raad

Maties en Afrikaans“Die US-raad het Maandagaand ná ’n marathon-vergadering die US se verbintenis tot Afrikaans herbevestig deur ’n mosie vir meertaligheid te aanvaar.”

Só skryf Carryn-Ann Nel en Alet Janse van Rensburg in ‘n berig vir Netwerk24 oor die jongste verwikkeling in die huidige taaldebat wat woed sedert wat na verwys word as “Vrydag die 13de” vir Afrikaans.

“Hoewel die akademiese aanbod in Engels uitgebrei sal word, sal Afrikaans as gelyke akademiese en administratiewe taal behoue bly. Dit beteken effektief dat Afrikaans en Engels parallel sal funksioneer,” berig Netwerk24.

Lees die artikel:

Hierdie mosie het ook die bestuur van die US se aanvanklike standpunt – dat Engels as verstektaal moet wees – heeltemal vervang. Twee raadslede het die mosie as ’n oorwinning vir Afrikaans beskou gemeet teen die aanvanklike plan wat De Villiers in die vooruitsig gestel het.

“Soos dinge nou staan behels die taalbeleid gelyke status vir Afrikaans en Engels. As die taalbeleid verander wil word, moet prosesse gevolg word,” het een raadslid gesê.

Stellenbosch Universiteit het die volgende verklaring uitgereik na afloop van die raadsvergadering:

‘US verbind tot meertaligheid sonder uitsluiting’ – Raad

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het gister (30 November 2015) by die geskeduleerde raadsvergadering die volgende mosie met ʼn oorweldigende meerderheid aanvaar:

1. Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het kennis geneem van die konsep-dokument van die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch wat op 12 November 2015 bekendgemaak is. Verder bevestig die Raad sy ondersteuning ten opsigte van die mosie van die Uitvoerende Komitee van die Raad – UK(R) – aangeneem op 15 November 2015.

2. Vir sover die konsep-voorstel en verklaring van die Bestuur die amptelike Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) raak, verklaar die Raad die volgende:

2.1 Die Raad bly verbind tot die Taalbeleid soos aanvaar op 22 November 2014 en die interpretasie daarvan deur prof Wim de Villiers in sy inhuldigingsrede: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n isiXhosa universiteit nie; Stellenbosch is ‘n meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in hierdie kategorie, wat bitter nodig is in ‘n land met 11 amptelike tale”.

2.2 Die Raad verklaar onomwonde dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie. Daarom versoek die Raad die Bestuur om met die oog hierop die nodige meganismes verder uit te bou en deurlopend te monitor. Indien dit sou beteken dat die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken oorskry, sal dit die ondersteuning van die Raad geniet.

2.3 Tegelykertyd verklaar die Raad dat dit nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie. Die Raad versoek dat óók die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word. Die Raad bevestig hiermee dat die Universiteit se meertalige aanbod as ‘n strategiese bate vir US beskou word en as ‘n kompeterende voordeel uitgebou moet word.

2.4 Wat die administratiewe en kommunikasie-taal aan die US betref, besluit die Raad dat taal nooit uitsluitend mag wees vir studente en personeel nie. Die Raad aanvaar dat, soos tans, amptelike dokumente en kommunikasie daarom in Afrikaans sowel as in Engels beskikbaar sal wees. Studente, personeel en die publiek sal steeds aangespreek word in die taal van hul voorkeur, hetsy Afrikaans of Engels en indien moontlik ook isiXhosa.

2.5 Wat die voertaal van vergaderings en byeenkomste aan die US en in universiteitskoshuise betref, versoek die Raad dat dit onderling gereël word met die oogmerk om niemand uit te sluit nie.

3. Die Raad beskou die groeiende diversiteit in die studente-demografie aan die US as ‘n groot bate vir sowel die akademiese as persoonlike vorming van die studente wat kies om aan die US te studeer. Die Raad sal daarom saam met Bestuur kreatief wil bly dink hoe onderlinge begrip en waardering vir almal verbonde aan die US bevorder kan word, en die verrykingspotensiaal van die diversiteit maksimaal ontsluit kan word.

Vir konteks, loer na LitNet se webseminaar oor Suid-Afrikaanse universiteite:

Lees ook:

 
Boekbesonderhede


» read article

Fanie Olivier: US-taalbeleid maak van Afrikaanse studente vreemdelinge in hul eie leefwêreld en land

As die son kom oogknipMaties en AfrikaansDie taaldebat woed voort, en hoewel die Universiteit Stellenbosch verlede week aangekondig het dat alle planne vir Engels as voertaal eers op ys is, kom daar steeds standpunte uit alle kampe oor die voor- en nadele van só ’n besluit.

Fanie Olivier, As die son kom oogknip-outeur en ‘n oud-Matie, het vanuit Pole ‘n ope brief geskryf aan Professor Wim de Villiers.

In die brief, wat op LitNet geplaas is, skryf Olivier: “Wat die voorgestelde ‘taalbeleid’ uiteindelik impliseer, is egter dat duisende Afrikaanstaliges in die Wes-Kaap (en natuurlik elders) uitgesluit gaan word van die voorreg en geleentheid om in Afrikaans student te wees, met alles wat saamhang daarmee. So word hulle natuurlik vreemdelinge in hulle eie leefwêreld en hulle land.”

Lees die artikel vir Olivier se argumente teen die verwydering van Afrikaans as voertaal by US:

U is waarskynlik onkant gevang deur die aard en omvang van die reaksie, maar u behoort darem iewers te verstaan dat Afrikaanstaliges aanspraak wil maak op ‘n Afrikaanstalige universiteit. Met ras en rasgebaseerde transformasie het dit niks te make nie.

Dit lyk asof u hierdie vanselfsprekende idee nog steeds vreemd, onhoudbaar en onaanvaarbaar vind.

Die rede daarvoor gaan my verstand steeds te bowe. “Uitsluiting” (soos u dit graag noem) deur taalmedium Afrikaans is immers geen uitsluiting van universitêre studie nie, aangesien daar ‘n horde ander universiteite is waar studente in ‘n Engelsmedium milieu kan studeer. Onder andere twee binne die onmiddellike omgewing van Stellenbosch.

Maar as u argument deurgevoer word, sal ‘n mens uiteindelik moet aanvoer en aanvaar dat daar vir Afrikaansmedium skole ook geen plek is nie. Ander deelnemers aan die debat het reeds hierop gewys.

Stellenbosch se uitnemendheid het niks te make met die feit dat dit Engels moet word nie, want dit was immers altyd ‘n voortreflike akademiese inrigting. Die geskiedenis van sy alumni bevestig dit. U is self daarvan ‘n voorbeeld, en u vader ook.

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

Maties en Afrikaans: Huidige taalbeleid duur voort in 2016

Maties en AfrikaansDie Universiteit Stellenbosch (US) het op Vrydag, 13 November aangekondig dat die bestuurspan dit oorweeg om alle onderrig by die universiteit in Engels te fasiliteer.

Die nuus van die skokonthulling het soos ‘n veldbrand versprei, en teen Vrydagmiddag het verskeie groepe en individue na vore getree met hul argumente vir en teen die besluit.

Vir meer insig oor die geskiedenis van Afrikaans en die taaldebat op Stellenbosch, lees Pieter Kapp se 2014-publikasie, Maties en Afrikaans.

Die US-bestuur het gister in ‘n verklaring aangevoer dat die universiteit se huidige taalbeleid vir eers sal bly soos dit is. Raadsvoorsitter George Steyn het verduidelik dat daar nog geen besluite gemaak is nie en dat die bestuursdokument ‘n uitnodiging is om die kwessie verder te bespreek.

Netwerk24 se Carryn-Ann Nel het verslag gelewer oor die universiteit se poging om kalmte aan die taaldebat te bring:

“Die Afrikaanse aanbod (vir 2016) sal nie afgewater word nie. Indien veranderinge aan die taalbeleid in die vooruitsig gestel word, sal die proses volgens statutêre voorskrifte geskied,” het Steyn gesê. “Die doel van die buitengewone vergadering was om die uitgebreide reaksie van verskillende belangegroepe op die verklaring deur die rektor se bestuurspan (RBS), asook mediaverklarings, te bespreek.”

Die uitvoerende komiteebestaan uit Steyn, prof. PW van der Walt, prof. Prieur du Plessis, dr. George du Toit, prof. Wim de Villiers (rektor en visekanselier), prof. Leopoldt van Huyssteen (bedryfshoof) en prof. Hansie Knoetze (dekaan van die fakulteit ingenieurswese).

Luidens die mosie is daar só besluit:

Die huidige bestuursdokument verteenwoordig die US-bestuur se perspektief en is die sintese van sy ondervinding van gebeure asook konsultasies met studentegroepe. Die dokument is ’n besprekings- of gespreksdokument en nie ’n beleidsdokument nie.

Een van die mees uitgesproke teenstanders van die besluit om Afrikaans as voertaal te verwyder is Breyten Breytenbach. Lees die artikel om uit te vind waarom die digter sê dat hierdie besluit ‘n skande is wat “onthou sal word”:

Dis beledigend om te wil voorgee hierdie besluit is geneem (en is waarskynlik al ‘n geruime tyd onafwendbaar) met enige sin of begrip van wat ‘n universiteit behoort te wees en die waardes wat dit veronderstel is om te inkarneer, of dat dit geneem sou wees met die belange van die studente in gedagte of selfs met die oog op die belange van die land nie. Dis beledigend en aanstootlik dat “demokrasie” soos ‘n vrot vis voorgehou word om die stank van die karkas wat hierdie hele proses is te probeer verdoesel.

Die beleidsbesluit is geneem deur ‘n aantal opportuniste wat geen sin of begrip het van wat ‘n taal beteken en dra en verteenwoordig en ontsluit en waar dit vandaan kom nie – énige taal, selfs Engels. En dit is geneem onder druk van ‘n groep mense wat in feite ook niks voel vir wat ‘n universiteit, énige universiteit, veronderstel is om aan te bied nie.

Een skrywer wat egter Engels as voertaal ondersteun is Deon Meyer. Die Ikarus-outeur het met Rozanne Els gesels oor waarom hy so dink.

Lees die artikel vir Meyer en ander Afrikaanssprekendes se sienings:

Die bekende Afrikaanse skrywer Deon Meyer sê hy glo Afrikaans se toekoms is verstrengel met dié van Suid-Afrika. Afrikaans kan nie voortbestaan as Suid-Afrika se demokrasie nie gesond is nie.

“Die universiteit moet kyk wat die beste is vir die grootste groep en as dit Engels is, wat ek dink dit is, moet Afrikaners opofferings maak.

“Wat goed is vir Suid-Afrika is goed vir Afrikaans.”

In ‘n artikel vir LitNet skryf Bettina Wyngaard dat sy nie eintlik die “histeriese reaksie op die aankondiging dat Stellenbosch ʼn veranderde taalbeleid oorweeg” verstaan nie.

“Nou is die tyd vir nugter en strategies dink, nie vir opruiende toesprake en stellings maak wat vele kere op sosiale media gedeel word, maar wat niks verder vermag nie.”

Lees die artikel waarin die Vuilspel-outeur die saak van alle kante bespreek:

Ek het heelwat klagtes gehoor oor die gehalte van fluistertolkdienste vanuit studente se oogpunt. Ek het egter hierdie jaar, toe ek by ʼn slypskool ʼn aanbieder was, ervaar wat dit is uit die dosent se oogpunt. Net een student het die dienste van ʼn fluistertolk gebruik. Dit was egter ʼn lae gedruis net onder die vlak van irritasie wat absoluut steurend is.Ek kan my net indink hoe dit moet klink wanneer daar vyf of tien studente is wat fluistertolke gebruik – selfs as daar aangeneem word dat die gehalte van die tolke ewe goed is, moet dit die lesinglokaal chaoties maak. Hoe dit tot kwaliteitsonderrig kan bydra, weet ek nie.

Sal dit bydra tot sosiale kohesie om die taal van onderrig te verander, maar daar word niks gedoen om iets omtrent die onderliggende ongelyke magstrukture te doen nie? Wit bevoorregting, en swart frustrasie, moet eers volledig aandag geniet voordat taal enigsins op ʼn gelyke speelvlak gebesig kan word.

Tot dan is enige verandering in taalbeleid net ʼn kosmetiese verandering wat niemand help nie.

Lees die opsommingsartikel deur Jean Oosthuizen vir ‘n verskeidenheid menings van onder meer Joan Hambidge, Piet Croucamp, Carel van der Merwe, TJaco Kleyn en Michael le Cordeur:

Die skrywer Carel van der Merwe sê mens wil nie graag oorreageer op koerantberigte nie, maar sy indruk is dat die Universiteit Stellenbosch se bestuur en van sy akademici nou oorhaastige besluite maak onder druk van luidrugtige minderheidsgroepe wat (nieteenstaande hul vrome uitlatings) politieke en ander appeltjies met die Afrikaanse taalgemeenskap te skil het.

“Ek het in die middel-1980′s aan die US studeer, en reeds toe was daar ’n beduidende klomp Engelssprekende studente, maar nooit was daar hierdie probleme nie. Ek vermoed dus dat groter magte as net studente nou betrokke is. En van wanneer af het Engels nou die de facto amptelike taal van Suid-Afrika geword?”

 

* * * * * * * *

 
Wat dink jy van Engels as voertaal by Maties? Vertel ons op Facebook, Twitter of in die kommentaarspasie hier onder.
 

* * * * * * * *

 

Lees verder oor dié saak:

 

Boekbesonderhede


» read article

Maties en Afrikaans: Die bestuur het gepraat, voertaal sal Engels wees

Maties en AfrikaansDie taaldebat op Stellenbosch kom al jare aan.

Moet die instansie aanhou om Afrikaans as hoofvoertaal te gebruik, soos dit sedert die totstandkoming van die Universiteit Stellenbosch (US) reeds doen, of moet dit oorslaan na Engels om gehoor te gee aan druk van die meerderheid?

Pieter Kapp het die geskiedenis van hierdie debat en die verhaal van Afrikaans op Stellenbosch breedvoerig bespreek in sy 2014 publikasie Maties en Afrikaans.

Die taaldebat het gister ‘n ongekende hoogte, of eerder laagte vir Afrikaans, bereik met die volgende skokonthulling deur die Matierektor en sy bestuurspan:

“Aangesien Engels die omgangstaal[1] in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in Engels gefasiliteer word, en beduidende akademiese ondersteuning sal in ander Suid-Afrikaanse tale voorsien word volgens studente se behoeftes. Terselfdertyd, deur middel van sy Taalbeleid en Taalplan, verbind die Universiteit hom daartoe om ruimtes te skep waarbinne Engels, Afrikaans en isiXhosa, asook ander tale, kan floreer. Die Universiteit bly in die besonder verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.”

In kort, alle kommunikasie sal in Engels geskied. Die vraag is, wat beteken dit vir die toekoms van Maties en Afrikaans?

Lees die volle verklaring, soos geplaas op die US se webblad:

“Taal moet op so ʼn manier gebruik word dat dit daarop gerig is om met kennis om te gaan in ʼn diverse samelewing en om gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker. Aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in ten minste Engels gefasiliteer word om geen uitsluiting op grond van taal te verseker. Die Universiteit bly verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.

Dít is van die beginsels wat as vertrekpunte ingesluit is in ʼn verklaring (kopie hieronder) oor taalimplementering wat vandag (Donderdag 12 November 2015) uitgereik word. Die verklaring lig van die beginsels uit en omskryf die toon vir die pad vorentoe en vorm deel van ʼn voortgesette konsultasie- en kommunikasieproses met die breër kampusgemeenskap en ander belanghebbers.

Die verklaring is ʼn sintese van insigte wat die Bestuur sedert Mei vanjaar opgedoen het vanuit die geleefde ervaringe en insette van die studentegemeenskap oor die Taalbeleid en taalimplementering. Dit is bespreek by ʼn vergadering met Senaatslede, na samesprekings met die Studenteraad en Dekane van fakulteite vroeër hierdie week.

Die status van die verklaring van die Rektor se Bestuurspan (RBS) is dié van ʼn besprekingsdokument. Die Statuut van die Universiteit bepaal dat die Raad die Taalbeleid met instemming van die Senaat bepaal. Vir enige voorgestelde veranderinge aan die huidige taalbeleid, sal voorstelle by ʼn formele vergadering van die Senaat voorgelê word voordat dit aan die Raad voorgelê word. Dit is onwaarskynlik dat so ʼn proses nog in 2015 voltooi kan word.

Van die vertrekpunte in die verklaring sluit in die doel om taal te gebruik op ʼn manier wat daarop gerig is om met kennis om te gaan in ʼn diverse samelewing en om gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker. Aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in ten minste Engels gefasiliteer word om geen uitsluiting op grond van taal te verseker. Dit impliseer nie dat Afrikaans as taal van leer en onderrig aan die Universiteit Stellenbosch sal verdwyn nie. Die Universiteit bly verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.

Vanjaar was die eerste implementeringsgeleentheid na die Taalbeleid en -plan in November 2014 goedgekeur is om gelyke status aan Afrikaans en Engels as onderrigtale te verleen. Die doel van hierdie veranderinge was om gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle Suid-Afrikaners moontlik te maak, soos uiteengesit in ons visie vir inklusiwiteit in die Institusionele Voorneme en Strategie. Die uitgangspunte in die verklaring is gebaseer op lesse wat gedurende die jaar geleer is en studente se praktiese klaskamer ervarings na konsultasie met verskeie studentegroepe, insluitend, maar nie beperk tot die Studenteraad, Open Stellenbosch, SASCO en die Studenteparlement.

Vir 2016 sal die implementering van parallelmediumonderrig (aparte Engelse en Afrikaanse klasse) vir modules met groot inskrywingsgetalle soos in die vooruitsig gestel in die huidige Taalplan, drasties versnel word. By vandag se Senaatsgesprek is departemente herinner aan die bestaande riglyn in die Taalplan dat behoorlik ag geslaan moet word op ondersteuningsmeganismes vir studente wat nie voldoende vaardig is in Engels of Afrikaans nie, veral in kleiner klasgroepe waar parallelmedium-onderrig nie haalbaar is nie.

Verklaring deur die Rektor se Bestuurspan oor die Taalbeleid en die implementering van taal by die instelling

12 November 2015

Die Rektor se Bestuurspan (RBS) was die afgelope paar maande in gesprekke met verskeie studentegroepe oor, onder meer, die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid, die Taalplan en taalimplementering. Op grond van die terugvoer oor ervarings binne die klaskamer en insette van Open Stellenbosch, die Studenteraad (SR), SASCO en die Studenteparlement, het taaltaakspanne sedertdien verskeie opsies oorweeg vir, onder meer, beste praktyk in die implementering van taal in 2016. Die volgende beginsels, as vertrekpunte rakende die Taalbeleid en taalimplementering, word ondersteun deur die Rektor se Bestuurspan. In hierdie verband wil ons graag erkenning gee aan die beduidende bydrae wat die Open Stellenbosch-kollektief in die onlangse gesprekke gemaak het om te verseker dat taalimplementering aan die US nie ʼn struikelblok vir toegang tot onderriggeleenthede of die suksesvolle voltooiing van akademiese programme word nie.

By die Universiteit Stellenbosch is ons van voorneme om taal op so ʼn manier te gebruik dat dit daarop gerig is om met kennis om te gaan in ʼn diverse samelewing en om gelyke toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker

Aangesien Engels die omgangstaal[1] in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in Engels gefasiliteer word, en beduidende akademiese ondersteuning sal in ander Suid-Afrikaanse tale voorsien word volgens studente se behoeftes. Terselfdertyd, deur middel van sy Taalbeleid en Taalplan, verbind die Universiteit hom daartoe om ruimtes te skep waarbinne Engels, Afrikaans en isiXhosa, asook ander tale, kan floreer. Die Universiteit bly in die besonder verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.

Vir modules met ʼn groot aantal inskrywings, wat verdeel word vir pedagogiese redes of weens die beperkte grootte van beskikbare lesinglokale, sal die Universiteit voortgaan om parallelmedium-onderrig uit te brei. In kleiner klasgroepe sal alle inligting in Engels oorgedra word. Addisionele ondersteuning in Afrikaans en isiXhosa sal voorsien word gedurende die lesing en/of aanvullende, gefasiliteerde leergeleenthede om studente te help om die akademiese materiaal te verstaan. Dit sal afhang van vermoëns van die dosente en onderrigassistente. Dosente sal voortgaan om in beide Afrikaans en Engels onderrigmateriaal te verskaf en assessering te fasiliteer. Soos tans die geval is, kan studente toetse, eksamens en opdragte in Engels of Afrikaans voltooi.

In koshuise en ander leefomgewings behoort studente Engels as omgangstaal in huisvergaderings en ander amptelike funksies gebruik. Ander tale kan ook bykomend gebruik word, en meganismes soos tolking kan ook ingespan word.

Die primêre taal van kommunikasie en administrasie van die Universiteit Stellenbosch sal Engels wees, met Afrikaans en isiXhosa as addisionele tale. Die addisionele tale mag nie gebruik word om enigeen uit te sluit van volle deelname aan Universiteitsaktiwiteite nie. Dit impliseer dat alle kommunikasie by die Universiteit Stellenbosch minstens in Engels sal wees, insluitend vergaderings, amptelike dokumente, en dienste by ontvangstoonbanke en die kliëntedienssentrum, ens.

Die Rektor se Bestuurspan sal bogenoemde beginsels as vertrekpunte aan die Raad voorlê by sy vergadering op 30 November 2015. Hierdie beginsels, as vertrekpunte, sal met die Senaat, die breër studente- en personeelgemeenskappe van die universiteit, sowel as ander belangeroepe van die US gekommunikeer en gekonsulteer word. ʼn Hersiene Taalbeleid en Taalplan, gebaseer op die vertrekpunte wat in hierdie dokument vervat is, sal taaldiversiteit daadwerklik deel maak van die Universiteit Stellenbosch se wese en toegang vir personeel en studente verseker. Intussen sal hierdie dokument se vertrekpunte vanaf Januarie 2016 toegepas word. In gevalle van nie-nakoming moet studente en personeel klagtes kan lê sonder vrees vir viktimisasie.

[1] ‘n Taal wat as ‘n omgangstaal gebruik word tussen sprekers wie se huistaal verskil.

* * * * * *

 

Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

Nuut deur Karel Schoeman – Imperiale somer: Suid-Afrika tussen Oorlog en Unie, 1902 – 1910

Imperiale somerImperiale somer: Suid-Afrika tussen Oorlog en Unie, 1902 – 1910 deur Karel Schoeman is nou beskikbaar op Protea Boekhuis se rakke:

Die boek gee ’n voëlvlugoorsig van die vier Suid-Afrikaanse kolonies gedurende die Eduardiaanse tydperk van 1902 – 1910. Dié tydperk word deur Schoeman beskou as die “hoogtepunt van die hele Imperiale gedagte” wat uiteindelik met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog sou eindig.

Die klem val egter nie op die politieke besluite en ontwikkelinge nie, maar op die persoonlikhede van leiers- en ander figure, die omstandighede in die vier kolonies met hulle stede en dorpe, belangrike sosiale gebeurtenisse, die aanloop tot unifikasie in 1910 en die uitwerking van die belangrike Naturelle Grondwet van 1913 op die lewenswyse van swart mense direk ná Uniewording. Kort maar insiggewende tiperings word gegee van persoonlikhede so uiteenlopend soos oudpresident Steyn, Lord Milner, die dramaturg Stephen Black, die bendeleier Robert Foster, die avontuurlustige Mrs Edith Maturin en die deelsaaier Kas Maine. Ruim aanhalings uit verskillende bronne verlewendig die bespreking van alledaagse omstandighede op verskillende plekke in wat later die Unie van Suid-Afrika sou wees, soos die sketse van Jacob Lub oor die lewenswyse in Johannesburg, die setlaar Leonard Flemming se boeke oor sy eensame bestaan op ’n afgeleë Vrystaatse plaas, en die talle verwysings na riksjas in die reisbeskrywings van besoekers aan Durban. Besonder boeiend is ook die hoofstukke oor die rol van Joodse smouse en handelaars in onder andere die volstruisveerbedryf en die toestande in die inrigting vir melaatses op Robbeneiland.

Talle anekdotes en klein kameebeskrywings maak van Imperiale somer ’n besonder interessante leeservaring. Die boek word toegelig met ruim fotoseksies wat ’n visuele beeld van die era gee.

Oor die outeur

Karel Schoeman, een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers, het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is reeds talle male bekroon, onder andere met die Hertzogprys en die Recht Malan-prys.

Boekbesonderhede


» read article