Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Afrikaans’ Category

Die draakrebellie het begin en Harwarrus se enigste hoop is dat hy die draakjuweel sal opspoor. Maar waar moet hy begin soek?

Hoe om 'n draak se juweel te steel

Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde was ’n swaardvegter, draak-fluisteraar en die grootste Wiking-held wat nog ooit gelewe het.

Die draakrebellie het begin. Harwarrus is stoksielalleen en in ballingskap. Mense sowel as drake maak jag op hom – sy enigste hoop is dat hy die draakjuweel sal opspoor. Maar waar moet hy begin soek?

Kinders wat DreamWorks se film How To Train your Dragon uit 2010 onthou, kan Hiccup (oftewel Harwarrus) se avonture nou in Afrikaans lees!

Cressida Cowell het grootgeword in die stad Londen en op ’n klein, onbewoonde eiland aan die weskus van Skotland, waar sy dit geniet het om stories te skryf, vis te vang, en die eiland te verken op soek na drake. Sy was oortuig daar het drake gelewe, en was altyd gefassineer met hulle.

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek-vertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015).

Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling.

Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Boekbesonderhede


» read article

Franz Marx bespreek sy debuutroman, Johannesburg se onderwêreld, en die verminking van Afrikaans

Deur Mila de Villiers


’n Spieël is ’n vreemde ding, want in ’n spieël leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag.

Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.

Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieëlbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wêreldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Ons redakteur, Mila de Villiers, het onlangs met Franz Marx, die skepper van Egoli, dramaturg, en filmmaker, geklets oor sy debuutroman Spieëlbeeld, Johannesburg se onderwêreld, die kunsmatigheid van die samelewing, en – moontlik die mees pertinente deel van die gesprek – die verminking van Afrikaans:

Waar het jy met die idee vorendag gekom om ’n roman te skryf?

Ek het uit die film- en televisiewêreld uitgetree – weg. Maar mens moet jouself besig hou. En ek het dit geskryf want ek wil nie meer tekste skryf nie. So dit was ’n keuse, verhaal-gegewe. Soos wat ek gewerk het, deur my televisieloopban veral, was ek verantwoordelik vir verskriklik baie stories. Dis nou die een ding. Ek moes ’n laai gehad het met stories. Om jou ’n idee te gee – ek moes elke dag van my lewe voorsien vir Egoli. Egoli se stories het ’n hoof-storielyn gehad, dan het hy een van ’n periode van 40 stories, dan ’n substorie van 30, kleiner substorie van ’n episode vir 20 episodes en dan is daar die insidentele storielyn wat ’n dag of twee oorvat. Helfte van daai storie was gekoppel aan ’n karakter, anders was die spelers te veel gewerk. As ek aan ’n storie gedink het, het ek dit neergeskryf. Daar was ’n laai vol, want ek kon nooit uit ’n storie uithardloop nie. Ek het dialoogskrywers gehad, mense wat my gehelp het en gesê het “dis nou ’n twak ou storietjie wat jy hier uitgedink het” of “ja – dis nogal lekker, maar wil jy nie so kinkel daaraan gee nie?”

Een van die stories wat onvoltooid was vir my – dit was nie ’n Egoli storie gewees nie – een van daai stories wat iewers was, was hierdie ding. En hy het by my gekom oor die Lolly Jackson saak. Lolly Jackson – ek wil net dadelik sê dit is nie sy storie nie, hoegenaamd glad nie. Maar Lolly Jackson het vir my in sy wêreld ingevat en vir my gewys hoe werk alles en ons het ’n gemeenskaplike ding gehad oor karre. So ons het lekker gepraat. So het daai wêreld vir my – wat ’n vreemde wêreld was – op ’n manier vir my oopgemaak. Toe’s Lolly vermoor … En ek wou nie Lolly se storie nie- Hy het vir my sy boek gebring en gesê “jy moet ‘n film maak hiervan”, maar dit was nie verfilmbaar nie. Toe dink ek “oukei, ek sal die ding op sy kop draai en ’n storie maak oor die goed wat ingekom het” en basies net alles omgedraai.

Een lyfwag, oftewel bouncer, wie Marx destyds teëgekom het is “baie soos Joe, daai ritme van praat.

“Behalwe Joe is ’n ander karakter, hy kom uit Pretoria uit. Ek het hier [die Michelangelo Hotel in Sandton] gebly en dis waar hulle uitgehang het. Al die mense wat hier ingeboek het, het altyd hulle lyfwagte gehad. Dit is die plek waar ek vanoggend ontbyt geëet het, middagete, en aandete. Jy leer die mense ken. En dis waarvan die lyfwagte vandaan kom. Toe kom ek op Stellenbosch met niks om te doen nie, toe dink ek “ag, ek sal maar begin skryf aan ’n storie”. En ek wou nog altyd, maar ek het nooit die tyd gehad nie… Ek het gedink “skryf dan nou maar ’n dêm roman”. Maar dit was harde werk…

Hoe lank het jy hieraan geskryf?

Jy moet net onthou Virgilius het een sin ’n dag geskryf. Hierdie het my net langer as drie jaar geneem. Carla [Lang, sy uitgewer by Protea Boekhuis] het my so baie gehelp… Dis vir myself; ek het dit ook vir myself geskryf. Carla was soos ’n onderwyseres. Ek het haar baie waardeer, so ek hoop die boek is ’n sukses vir haar ook.

Is daar ’n spesifieke reaksie wat jy hoop deur die boek ontlok sal word?

Dis maar ’n onsekerheid, maar ek het al baie goed geskryf in my lewe, baie stories. Party het gewerk, party het nie gewerk nie. Ek het boek twee wat ek moet skryf; ek sal moet vinniger werk.

Word jy aangsepoor deur die slagspreuk “Werk want die nag kom nader”, of werk want die dood kom nader?

Die kop verdwyn! [Lag hartelik]

Mens leen maklik fiksie van nie-fiksie; hoeveel van die inhoud van die boek stem ooreen met jou eie lewe, of ervaringe?

Baie min. Die enigste ding – Carla sê altyd vir my “Oe, mens herken altyd die skrywer se stem wat dit beskryf” en dan sê ek “ek hoop nie sy herken my in Joe of herken my in Dolf nie”. Die enigste ding wat ek werklik gebruik het van my persoonlike lewe was my verjaardagdatum. [Marx verjaar op 21 Maart.] Daardie is ’n stukkie persoonlike – dit het dit maklik gemaak om die datum te gebruik. Die datum het ’n ander konnotasie. Kyk – dis die einde van iets en begin van die volgende, dis dag en nag ewening vir ons dwarsdeur die wêreld, en dit het my gefassineer. So dis die einde en die begin vir Dolf gewees. Dit het vir my nogal getrek. Maar dit is al wat ek bewustelik gedoen het – die Johannesburgse milieu het ek 50 jaar gelede in geleef. Dis nou waar ek bietjie wakker geskrik het, want alles verander toenemend. Die Butcher’s Grill bestaan nog … So ek het die milieu wat ek geken het gebruik. Dis beter om iets te skryf wat jy basies van weet.

Kon jy aanklank vind by enige van jou karakters? Het jy dit meer geniet om sekere karakters te skryf as andere?

Laat ek vir jou dit sê – wat die karakters betref – ’n storie is vir my nie ’n storie as dit nie ’n karakter is wat ontwikkel nie. So ek is altyd verlief op my karakters, verskriklik verlief. Ek raak verlief op my karakters en ek raak ook baie jaloers op hulle.

Hoe was dit om vrouens te skryf? Jy skryf nooit vanuit ’n vrou se oogpunt nie, en ek wil hulle nou nie beskryf as “randfigure” nie, maar…

Jy sit jou vinger op dit. Ek het my hele lewe nog nooit ’n storie – voor hierdie een – geskryf oor mans, vir mans nie. Alle films, alle televisiegoed se teikenmark is vrouens. Jy vertel jou storie uit die vrou se perspektief en as die storie by die vrou werk, dan geniet mans dit ook. En toe ek nou met hierdie ding kom, veral oor die milieu, het ek besluit “nee, nee, nee – dit moet uit die man se perspektief kom”. Daar’s genoeg vrouens wat dit uit ’n beter en makliker en meer oortuigende wyse, van binne af, kan skryf.

My vriendin Karin Eloff, sy’t Stiletto geskryf en het ’n inset daarin gehad, maar so ek is baie lief vir die vrouens en hulle het vir my ’n goeie lewe gegee … Maar dit is teiken, Egoli was ’n teikengehoor – dit was ’n opdrag van MNet gewees; dit was vrouens. Tussen 35 en 45 jaar oud …. Hulle’s getroud, hulle het twee kinders, ek kan hier met jou in die straat loop en sê “daar gaan sy, daar loop sy”. Ek het geweet wat sy koop by Thrupps, ek het geweet haar man is ’n prokureur …

Jy moet die mark baie goed ken. En al die ander – Agter Elke Man was vir vrouens. Die skool daar selfs was vir die vrouens, die kinders en toe nou hierdie ding – toe dink ek nou, try nou ’n man se storie vir mans skryf. En dis waarvoor ek die heeltyd bang is. Want vrouens lees; hulle doen alles. Die vrouens besluit watter programme gekyk word in hulle huis, die vrouens is die lojale kykers van stories, behalwe die sport, en die vrouens bepaal die vermaaklikheid van die huis. Die vrou sê ”ons gaan na daai teaterstuk toe”, die vrou sê ”ons gaan daai rolprent kyk”. Dis die invloed van die vrou. Ek dink die meeste boeke word gekoop deur vrouens; ek dink die meeste boeke word geskryf deur vrouens.

 Joe se taalgebruik het my bygeval. Hy meng sy taal iets verskriklik en gebruik gereeld sy eie, “Centurion-esque” weergawe van woorde. Hoe, aangaande sy woordeskat, het jy daarin geslaag om hierdie karakter, op ’n egte wyse sonder om ’n bespotting van hom te maak, te skep?  

Hulle praat deesdae so. Kyk kykNET – kyk as hulle met enige van die jong sangers ’n onderhoud voer, kyk net – dan sal jy dieselfde taal hoor. Dit is verskriklik. Joe se tipe taalgebruik pas pas in daai milieu in, as jy in gimnasiums ingaan  waar die mans gaan  oefen, dan hoor jy dit. Dit is ’n effense lae ding. Joe het nooit matriek gemaak nie en daarna is hy na die polisie korps. Hulle het swagger. Dis daai tipe ding.

Iets waaroor ek en die uitgewers die heeltyd oor gepraat het was my oortuigings dat hierdie mengeltaal wat die taal so bevuil – daar’s nie ’n ander woord om dit voor te gebruik nie ; die taal bevuil -  is nie Engels nie, dis Amerikaans. Dis Amerikaanse slogans, dis Amerikaanse “wyshede” wat deur televisie, films en musiek opgeneem word en sommer net gebruik word as ‘n “with-it” ding deur tieners. En dit het nou ingeburger geraak. En ons sê dis ’n mengeltaal tussen Afrikaans en Engels – die Engelse gebruik nie ’n woord soos “amazing” nie, of dis “cool”, of enigiets van die aard nie. En ek wou gehad het hulle moes die Amerikaanse spelreëls vir die storie gebruik en daar het hulle my gesê “nee”. Hulle het my toe op die ou-end oortuig, maar eintlik is dit waarheen mens op pad is.

Dink jy so? Dat Afrikaans so gaan verval?

Ek dink hy het klaar so verval. Ten minste glo ek dat die rooiligte… dit het niks met die Taalstryd uit te waai nie, dit is ’n ander storie – hierdie is ’n bydraende storie. Ek het vreeslik baie argumente met mense wat in die taal werk. Ek dink nie dit is ’n ontwikkeling in die taal nie, ek dink dit is teen-produktief, want dit verskraal. Ek het vir Joe ’n woordeskat van 800 woorde gegee. Dis nie eers ’n taal nie. Ons kan duisende woorde gebruik. Afgesien daarvan, die karakters is vir my tipies soos wat ek hulle hier ontmoet het en leer ken het en met hulle gepraat het, en dan probeer ek hulle reg Afrikaans leer – maar dit het nie gewerk nie. Daar is ’n metafoor in die storie; daardie taalgebruik maak goeie taalgebruike waarskynlik dood.

Geen van die Engelse woorde is in skuinsdruk geskryf nie. Is dit met opset gedoen?

Dit was met opset, want die mense praat nie in skuinsdruk nie, vir hulle is dit normale Afrikaans. As ’n skrywer het ek my voet neergesit – dit moet gewoon vol deurgaan. Dit is soos die mens praat, hy vertel sy storie in die eerste persoon, en dis hoe hy dit sal vertel.

Jy bedank onder meer patoloë en geweerdeskundinges wat vir jou raad gebied het. Het jy baie hulp nodig gehad met die navorsing?

Mens het altyd. Ek het mense mal gemaak, want dan verstaan ek dit nie eintlik nie. Ek het ’n seun wat ’n skut is, so dit het my nogal ’n bietjie gehelp, maar, ja, die navorsing daar was verskriklik. Dis een van die goed waarom dit stadig gegaan het, want in my vorige lewe – soos byvoorbeeld in Egoli – het ek assistente gehad. Ek het vir hulle gesê “hoor hierso, wat is ’n tipiese pistool wat ek kan gebruik vir ’n moord pleeg?”. Dan sal iemand sê ”Glock”.  Hulle gaan vind vir my alles uit, bring als vir my, en sal daarna kyk. Nou moet ek self daai blêrrie goed gaan doen. As ek nou weer ‘n storie skryf, moet daar geen navorsing wees nie. Dit hou my te veel op.

Was dit meer van ’n uitdaging gewees om die navorsing te doen as om die eintlike storie te sit en skryf?

Selle, selle, selle. Oor die kléinste goed. Die kléinste goedjies. Ewe skielik sê jy “oeps, werk dit rêrig so?” Dis fiksie, dis nie ’n dokumentêre… Dit moet darem so wees dat iemand nie sê ”Nee, jirre, nou lieg jy maar verskriklik” … Dis die navorsing.

Die titel “Spieëlbeeld” is interessant aangesien ’n spieël ’n  dubbelsinnige voorwerp is, waarin weerkaatsings  letterlik in teenoorgestelde beelde verskyn, tog word ’n spieël ook gebruik as ’n voorwerp waarin jy jou bewonder (soos gesien in die geval van Joe, veral). Kan jy dalk bietjie uitbrei oor die dubbelsinnigheid van jou karakters sonder om te veel te verklap?

Die twee karakters [Dolf en Joe], op ’n vreemde manier, is verwronge beeld van die ander. So, Dolf kan ook ’n verwronge beeld wees van Joe se pa. Die milieu waarin ons woon hier is een van glas. Kyk om jou [Marx beduie na die binnehof van die sierlike Michelangelo Hotel] – jy sien net spieëls; dis waarin jy leef, daar’s niks warms nie, daar’s niks toegeneentheid nie. Dit is waarin die storie hom afspeel, in die spieël – jy kan nie aan ’n ding vat. Dit het my nogal lankal as ’n soortvan omstandigheid waarin ons leef …  Dolf leer ons ken voor die spieël, maar as jy Joe die eerste keer sien, sal jy sien hy sit op ’n blink stoep waarop alles terug weerkaats. Op ’n ander stadium sê iemand vir Joe hy lyk soos ’n bobbejaan, hy’t gekyk in die spieël – hy lyk nie so nie. Jy kan dit nie ontsnap nie en dis nie die werklikheid – en dis baie kunsmatig.

Is daar moontlik ’n vraag oor die inhoud van jou boek wat jy gebrand om gevra te word?

Oor die taal. Ek sou graag dat die mense die bedoeling van daai taal as ’n waarskuwing lees. Ons verstaan dit as “cool” as ons ons eie taal met ander tale vermink, en ek praat nie van leenwoorde nie. Ek is nie anti-Engels nie, ek is verskriklik pro-Engels. Dit is net vir my onaptytlik lelik. Ek sit en kyk na Afrikaans, ek hoor dit oor die radio en dit gryn my. Mens probeer dit doelbewus vermy om jou taal te meng, maar mens moenie. As jy Engels praat, dan probeer jy dit nie vermy nie.

Boekbesonderhede


» read article

Ontdek die wêreld deur die oë van Oliver Scherz se besonders verbeeldingryke Ben!

Ben is ’n Indiaan, skatsoeker en kaskarbestuurder. Ben is sommer enigiets wat hy wil wees.

En sy troeteldierskilpad gaan oral saam.

Of hulle nou as dapper Indiane (skelmpies) Ben se ouboet se boomhuis gaan verken, of in die spruitjie gaan toets of Meneer Skillie nie dalk vinniger in die water is as op land nie …

Enige uitstappie is pret, en ’n wêreld van avonture wag op hulle.

Die stories is vanuit die seuntjie se perspektief vertel en is hartlik en snaaks.

Boekbesonderhede


» read article

Asterix, Obelix en Kasterolix is terug in twee opwindende nuwe titels! Wat voer die Romeine dié keer in die mou?


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Asterix en die groot moles
Outeur: René Goscinny
Illustreerder: Albert Uderzo
Vertaler: Sonya van Schalkwyk-Barrois

Julius Caesar wend hom tot sielkundige oorlogvoering … Ignasius Vullus, die Romeinse agent, maak moeilikheid en onder die Galliërs en probeer hulle beïnvloed om mekaar van verraad te verdink. Het Asterix regtig die geheim van die towerdrankie aan die Romeine verkoop? Sal Asterix, Obelix en Kasterolix die glibberige Ignasius Vullus kan uitoorlê en vrede in die dorpie herstel?

Asterix en die groot moles is die 15de boek in die gewilde Asterix-reeks.

Asterix in Helvesië
Outeur: René Goscinny
Illustreerder: Albert Uderzo
Vertaler: Sonya van Schalkwyk-Barrois

Quaestor Claudius Sinusitus is op die punt om die Romeinse goewerneur Oppus Dissevirus se duistere geldsake aan die lig te bring, maar hy word vergiftig. Sinusitus roep Kasterolix se hulp in en Asterix en Obelix moet na Helvesië reis om ’n skaars blom te gaan pluk wat Sinusitus se lewe sal red. Bankkluise, koekkoekuurglase, ’n gejodel en gate in die kaas sorg dat Asterix en Obelix die kultuur in Helvesië ten volle beleef.

Asterix in Helvesië is die 16de boek in die gewilde Asterix-reeks.

Sonya van Schalkwyk-Barrois woon in Parys, Frankryk. Sy het in Stellenbosh gestudeer en beskik oor ’n Magistergraad in Frans. Sy is onder meer die vertaler van die Kuifie-boeke.
 

Boekbesonderhede


» read article

Dié boek lewer ’n bydrae om die weerstand van gay en lesbiese persone verstaanbaar te maak vir mense wat sukkel om dit te begryp

In Oktober 2015 het die Algemene Sinode van die NG Kerk ’n merkwaardige besluit oor selfdegeslagverhoudings geneem.

Die besluit het erkenning gegee aan sulke verhoudings en dit vir predikante moontlik gemaak om gay en lesbiese persone in die eg te verbind. Ook die selibaatsvereiste wat tot op daardie stadium vir gay predikante gegeld het, is opgehef.

Met hierdie besluit het die NG Kerk die eerste hoofstroomkerk in Suid-Afrika en Afrika geword wat totale gelykwaardige menswaardige behandeling van alle mense, ongeag seksuele oriëntasie, erken – en is gedoen wat slegs in ’n handjievol kerke wêreldwyd uitgevoer is.

Die besluit het egter gelei tot groot konsternasie. Verskeie appèlle en beswaargeskrifte is ingedien, distriksinodes het hulle van die besluit distansieer, en in die media was daar volgehoue kritiek en debat.

Die besluite wat geneem is in 2015 is die kulminasie van ’n lang proses wat reeds in die 1980’s begin het.

Die boek Weerlose weerstand is ’n persoonlike relaas van dié lang, komplekse proses in die NG kerk. Die verskillende verslae wat voor die sinodes gedien het, die besluite wat daaruit voortgevloei het en die stories daaragter word uit ’n persoonlike perspektief behandel.

Die boek lewer ’n bydrae om die weerstand van gay en lesbiese persone verstaanbaar te maak vir mense wat sukkel om dit te begryp.

OOR DIE OUTEUR

André Bartlett is hoof van Excelsus, die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria.

Hy was voorheen predikant van die NG Kerk in Pretoria, Potchefstroom en Johannesburg.

Sedert 1999 is hy amptelik betrokke by die gesprek in die NG Kerk oor homoseksualiteit. Hy is voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in Gauteng en ook ’n lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee van dié organisasie.

Boekbesonderhede


» read article

El negro en ek – ’n Nederlandse man se ondersoeksreis wat belangrike vrae oor rasopvattings en die Westerse beskawing na vore bring

As negentienjarige ryloper in Spanje beland Frank Westerman toevallig in die dorpie Banyoles, waar ’n opgestopte “Kalahari-Boesman”, slegs bekend as El Negro, uitgestal word. Sy indrukke bly hom by – en wanneer hy dekades later weer van El Negro lees, dié keer in ’n Franse koerant, is dit die begin van ’n ondersoeksreis wat belangrike vrae oor rasopvattings en die Westerse beskawing na vore bring. Wie was hierdie naamlose man? Wat sê sy opgestopte “museumteenwoordigheid” oor Europese denke oor slawerny, rassisme en kolonialisme – en bied hy slegs ’n spieël op ’n vergange tyd, of ook op die hede?

OOR DIE OUTEUR
Frank Westerman (gebore 1964) was aanvanklik ’n buitelandse korrespondent vir die Nederlandse de Volkskrant en NRC Handelsblad voordat hy sy deurbraak as skrywer gemaak het. El negro en ik is in 2004 met die Vlaamse Gouden Uil Literatuurprijs bekroon terwyl Ararat (2007) genomineer is vir die eerste Ryszard Kapuscinski-prys, Pole se toptoekenning vir literêre verslaggewing. Met meer as veertig vertaalde titels in sestien tale, kan Westerman met reg as een van Nederland se suksesvolste outeurs in die buiteland beskou word.

OOR DIE VERTALER
Daniel Hugo was ’n spesialisomroeper by Radiosondergrense en verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ’n gerekende digter met 13 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van onder andere Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal. Vir twee van hierdie vertalings – Tom Lanoye se Sprakeloos in 2014 en Stefan Hertmans se Oorlog en Terpentyn in 2016/2017 – word Hugo met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir vertaalde werk bekroon.

Boekbesonderhede


» read article

Franz Marx se eerste roman tref die rakke!

’n Spieël is ’n vreemde ding, want in ’n spieël leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag.

Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.

Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieëlbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wêreldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.

Franz Marx is ’n bekroonde akteur, draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger met verskeie films, televisiereekse, enkeldramas en minireekse agter sy naam. Hy is ook die skrywer en vervaardiger van Suid-Afrika se eerste sepie, Egoli: Plek van Goud. Sy talle toekennings sluit in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se SAUK-prys vir Televisiedramas vir die draaiboek van Die buitestaander (1986), asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Rolprentkuns (1995).

Boekbesonderhede


» read article

Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika boeiende leesstof vir enigiemand wat geïnteresseerd is in die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans

Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika In hierdie boek – wat in twee dele gepubliseer word en gedeeltelik gebaseer is op E.H. Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede – word opnuut gekyk na Afrikaans se veelkantige herkoms: die Europese geskiedenis van Afrikaans (grondig vernuwe en beduidend aangevul) én veral Afrikaans se Afrikaherkoms – oor die opbouproses sedert die 17de eeu om Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken te kry, Afrikaans se ontwikkeling as volwaardige standaardtaal in die 20ste eeu en veral die aanneem van die funksies wat hiermee gepaard gaan, Afrikaans se ongelukkige apartheidsverlede en die bevrydings- en versoeningsprosesse wat hierna nodig was.

Die wit verlede van Afrikaans word aangevul met die bruin en swart verlede sodat ’n gedeelde verlede van die sprekers van Afrikaans na vore kom.

Die storie van Afrikaans is die biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word), in Afrika (waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het) en in Asië (waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het).

Die outeurs gee aan die hand van talle illustrasies ’n nuwe, meer volledige en inklusiewe blik op Afrikaans se ingewikkelde verlede.

In Deel 1 word die Europese verlede van Afrikaans weergegee. In Deel 2 kom die Afrikaverlede van Afrikaans aan bod. Die boek verken paaie wat nog nie voorheen ontgin is nie, en dit sal ’n besliste bydrae tot die debat oor Afrikaans se verlede wees.

Prof. W.A.M. Carstens was dosent aan die Universiteit van Stellenbosch (1977-1979) en die Universiteit van Kaapstad (1980-1991) voordat hy in 1991 aan die PU vir CHO as dosent in die Afrikaanse taalkunde aangestel is. Hy is in 1994 bevorder tot vol professor in die Afrikaanse taalkunde. Hy is sedert 1 Januarie 2001 Direkteur van die PU vir CHO (sedert 2004: Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit) se Skool vir Tale. Hy het verskeie publikasies al die lig laat sien: Norme vir Afrikaans, Riglyne by die gebruik van Afrikaans en Afrikaanse tekslinguistiek en onlangs Teksredaksie. Hy is lid van verskeie vakverenigings (nasionaal en internasionaal) en is onlangs aangewys as voorsitter van die eerste Afrikaanse Taalraad. Hy is ook ’n gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting.

Prof. Edith Raidt was tot met haar aftrede in 1996 professor in Historiese en Afrikaanse Taalwetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand. Daarna was sy die stigter-president en hoof uitvoerende beampte van die St. Augustine College van Suid-Afrika in Johannesburg, ’n Katolieke privaat ‘universiteit’ en is sedert 2005 Emeritus President. Sy was ook lid van etlike vakverenigings, onder andere is sy “Buitenlands Erelid van de Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde” (Gent). Sy is die outeur van Afrikaans en sy Europese verlede (1978, 3de uitgawe 1991), Einführung in Geschichte und Struktur des Afrikaans (1983), asook Historiese Taalkunde: Studies oor die geskiedenis van Afrikaans (1994), ontvanger van die C.J. Langenhovenprys vir Taalkunde van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1994, asook ontvanger van eredoktorsgrade van die voormalige PU vir CHO (tans die NWU) (1997), Universiteit van die Witwatersrand (1998), UPE (1999) en die Universiteit van Natal (2003).

Boekbesonderhede

  • Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika – Die biografie van ‘n taal (Deel 1) deur W.A.M. Carstens, Edith Raidt
    EAN: 978-1-4853-0038-0
    Find this book with BOOK Finder!

» read article

’n Wonderlike naslaangids propvol feite oor sterre en planete vir die jongspan

Die storie van sterre en planeteWanneer ’n mens na die naghemel opkyk, sien jy nie net sterre nie.

Die swart leegte van die ruimte is deurspek met voorwerpe van elke denkbare vorm en grootte – van enorme brandende sterre tot piepklein stofvlekkies.

Hierdie boek verken die geheimenisse van sterre en planete en ontsluit die raaisels van astronomie: die wetenskap van die buitenste ruimte.

Boekbesonderhede


» read article

Adam Small: Denker, digter, dramaturg ’n huldigingsbundel wat een van die belangrikste swart Afrikaanse stemme verewig

Met Adam Small se oorlye op 25 Junie 2016 het daar ’n einde gekom aan die lewe van ’n unieke mens en ’n unieke oeuvre: ’n digter, dramaturg en denker met besonderse insig in die aktualiteite van sy tyd.

Hoewel die toekenning van die Hertzogprys aan Small in 2012 en die gepaardgaande publisiteit daarrondom die idee vir ’n huldigingsbundel by die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns laat ontstaan het, was dit Small se dood wat die deurslag gegee het om dié publikasie te verwesenlik: Wanneer ’n kunstenaar sterf en sy stem vir ewig verstom het, bied dit immers die geleentheid om oorkoepelend oor die geheel van sy kunstenaarskap te besin.

Die bydraes in hierdie bundel dra die ondertoon van ’n afsluiting, ’n terugblik op die mens en kunstenaar Adam Small, met temas soos die toekoms van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde, die uitbreidende rol van Kaaps, en sosiale vraagstukke soos bendegeweld en armoede.

Mense wat Small van naby geken het is hier aan die woord saam met literatore en kollegas uit die maatskaplikewerk-omgewing waarby Small lewenslank betrokke was.

Adam Small: Denker, digter, dramaturg – ’n Huldiging hoef nie as afsluiting van die gesprek oor Small se lewe en werk beskou te word nie – inteendeel: Dit bied juis ook geleentheid om die oorkoepelende blik oor Small se kunstenaarskap as inleiding tot verdere ondersoek te benut.

OOR ADAM SMALL
Adam Small (1936–2016) was een van die belangrikste swart Afrikaanse stemme om die onreg van Apartheid en die lot van veral die gemarginaliseerde sprekers van Kaaps stem en erkenning in die letterkunde te gee. As opgeleide maatskaplike werker was hy ook lewenslank betrokke by die bemagtiging van armes en onderdruktes in die Suid-Afrikaanse samelewing. Van sy bekendste werke is die toneelstuk Kanna, hy kô huistoe en die digbundels Sê sjibbolet en Kitaar my kruis.

OOR DIE SAMESTELLER
Jacques van der Elst was hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die destydse PU vir CHO en was tot 2012 die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Tans is hy navorsingsgenoot in die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit.

Boekbesonderhede


» read article