Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Afrikaans’ Category

In Die pasiënt as vennoot skei die bekende dr. Dawie van Velden die kaf van die koring en gee praktiese raad om holistiese welsyn te bereik

Daar is soveel teenstrydige inligting beskikbaar oor watter dieet om te volg, hoeveel oefening om te doen, hoeveel water om te drink, watter medisyne om te neem, ensovoorts.

In Die pasiënt as vennoot skei die bekende dr. Dawie van Velden die kaf van die koring en gee praktiese raad om holistiese welsyn te bereik: wanneer die liggaam, siel en gees optimaal gesond is. In hierdie boek wys dr. Dawie hoe die pasiënt medeverantwoordelik is vir sy of haar eie gesondheid.

Dr. Dawie van Velden praktiseer in Pietersburg en Sabie waarna hy aansluit by die UOVS as Direkteur van die Studentegesondheidsdiens. In 1984 word hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die Departement Huisartskunde vestig tot en met sy aftrede in 2003. Hy ontwikkel ’n belangstelling in sportgeneeskunde en holistiese gesondheidsorg en is betrokke by navorsing oor die gesondheidsvoordele van matige wynverbruik en die Mediterreense dieet.
 
 
Boekbesonderhede


» read article

Twee nuwe opwindende titels in Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem-reeks tref die rakke!

Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde was ’n swaardvegter, draak¬fluisteraar en die grootste Wiking-held wat nog ooit gelewe het. Maar dié reeks gaan oor toe hy nog gesukkel het om ’n held te wees. Kinders wat DreamWorks se film How To Train your Dragon uit 2010 onthou, kan Hiccup (oftewel Harwarrus) se avonture nou in Afrikaans lees!

HOE OM ’N DRAAK SE HELD TE VERRAAI (11)

Harwarrus moet die koning van die Wilderweste word. Kan hy die heks se Vampier-spioendrake uitoorlê én boonop voor Joelfees se Dag van Doem die koning se verlore toebehore by Alvin terugsteel? En is daar ’n bedrieër in Harwarrus se kamp wat hulle almal op die ou end gaan verraai?

HOE OM ’N DRAAK SE TOORN TE TEM (12)

Wie gaan as koning van die Wilderweste gekroon word … Harwarrus of Alvin die Verraderlike? Kan Harwarrus die draak Verwoed ompraat en die rebellie stopsit … of is dit die EINDE van die drake?

“Die slot is ’n dawerende sukses, vol vlamme en rook, liefde, eer en outydse opwinding.”
Philip Womack, Daily Telegraph<

Nou ’n DreamWorks-film

OOR DIE OUTEUR
Cressida Cowell het grootgeword in die stad Londen en op ’n klein, onbewoonde eiland aan die weskus van Skotland, waar sy dit geniet het om stories te skryf, vis te vang, en die eiland te verken op soek na drake. Sy was oortuig daar het drake gelewe, en was altyd gefassineer met hulle.

OOR DIE VERTALER
Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek¬vertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015). Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Boekbesonderhede


» read article

Die opvolgverhaal van Benji Davies se bekroonde The Storm Whale is nou in Afrikaans beskikbaar!

Laas somer het Noi ’n klein walvis gered toe ’n storm dit op die strand uitgespoel het.

Noudat dit winter word, wil Noi baie graag weer sy vriend sien. Maar die walvis is iewers in die diep see saam met sy familie.

Dit is uiteindelik ’n ysige storm wat hulle weer bymekaar bring.

’n Verhaal van moed en vriendskap; die opvolgverhaal van Die stormwalvis.

Benji Davies is ’n illustreerder, skrywer en animasieregisseur. The Storm Whale is sy debuut kinderboek en het die Oscar’s se eerste boekprys in 2014 gewen en was op die kortlys van die Booktrust se toekennings vir beste boek.

Sy tweede boek, Grandad’s Island het die prys AOI Wêreld Illustrasietoekennings in 2015 kategorie kinderboeke gewen en het die prys beste kinderboek van die jaar by die Sainsbury se Kinderboektoekennings in 2015 gewen.

Hy het animasie studeer en werk aan ’n reeks projekte; van kinderboeke tot geanimeerde kortfilms, musiekvideo’s en advertensies.

Boekbesonderhede


» read article

Nicola Hanekom se bekroonde In glas ondersoek die verhouding van ’n kinderlose egpaar wat in-vitro bevrugting ondergaan

Die drama In glas handel oor ’n kinderlose egpaar wat in vitro-bevrugting ondergaan en die uitwerking van hul versugting na ’n kind op hulle as individue, hul huwelik en hul verhoudings met ander.

Nicola Hanekom wys die vernedering van herhaalde besoeke aan onsimpatieke dokters, die monotomie van seks wat gemonitor word, die aftakeling van ’n man en vrou wat gereduseer word tot hul voortplantingsorgane.

Wat joernaliste oor Nicola skryf:

Teatergenie, noem resensente haar. Dramaturg, vervaardiger, aktrise. Sy het Afrikaanse teater in die holte van haar hand, die “ongelooflik talentvolle” Nicola Hanekom. – Hanli Retief

Nicola Hanekom vang die gehoor se aandag van die begin en weier om dit te verloor. Sy hou die verskillende storielyne mooi bymekaar totdat dit saam opeindig. Nicola oortuig jou terwyl sy jou skok. Jy is spraakloos as jy uitstap. Geskok, maar ook hulpeloos. Die toneelstuk is ‘n meesterstuk met Nicola die bes moontlike skilder. – James de Villiers

Die veelbekroonde Nicola het ’n diploma in Drama aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. As toneelskrywer en regisseur het sy reeds talle pryse verwerf vir haar plekspesifieke produksies. Vir haar trilogie Betésda, Lot en Babbel ontvang sy altesaam elf Kanna- en vier Fiësta-toekennings. Sy wen ook twee ATKV-Woordveertjies vir beste dramateks vir Babbel en Trippie. Haar ruimtelike drama, Land van skedels, ontvang vier Fiësta-toekennings en sy word bekroon met Beeld se Aardvark-prys vir grensverskuiwende werk.

Nicola ontvang in 2015 die Onbeperk-prys vir vernuwende denke, en ook die Eugène Marais-prys van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar verhoogstukke, Hol en Trippie, gepubliseer as Die pad byster.

Boekbesonderhede


» read article

Jong dinosourus-liefhebbers sal gaande wees oor Philip de Vos se vertaling van Julia Donaldson se Tyrannosaurus Drip!

In die oertyd in ’n oerwoud waar dit wemel van die gras
was daar platbek-dinosourusse wat swem in die moeras.
Hul roep: “Hoera vir water en vir riete en vir gras.
Hoera vir waterblommetjies, want dis lekker om te plas!”

Wie het al ooit gehoor van ’n vegetariese tirannosourus? Hierdie klein dinosourus land in die verkeerde nes … Hy mag dalk klein wees, nie mooi weet waar hy hoort nie en net plante eet, maar Tirannosourus Sot is slim!

Julia Donaldson is een van die top kinderboekskrywers wêreldwyd. Sy was die VK se “Children’s Laureate” 2011–2013 en het al meer as 100 boeke vir kinders geskryf. Haar boeke het al verskeie pryse gewen, onder andere die Red House Children’s Book Award en die Blue Peter Award. Sy woon in Glasgow, Skotland, saam met haar man, Malcolm.

David Roberts studeer modeontwerp in Manchester voordat hy Hong Kong toe verhuis om daar as ’n hoedemaker te werk. Sedert sy terugkeer na die VK word hy ’n besondere suksesvolle kinderboekillustreerder.

Philip de Vos (1939) is veral bekend as fotograaf, skrywer en digter. Hy doen baie rymvertalings en het heelwat lirieke vir animasieprogramme op TV geskryf. Hy is ook al bekroon met die ATKV-kinderboektoekenning (1989), M.E.R.-prys (1996) en die Alba Bouwer-prys (1998). In 2004 het hy ’n IBBY-toekenning ontvang vir sy vertaling van Die spree met foete.

Boekbesonderhede


» read article

Katherine Paterson se Bridge to Terabithia in Afrikaans beskikbaar!

Jess Aarons se grootste droom is om die vinnigste in sy graad te hardloop. Hy het die hele somervakansie geoefen en kan nie wag om sy klasmaats se gesigte te sien wanneer hy hulle almal wen nie.

Maar op die eerste skooldag is ’n nuwe meisie dapper genoeg om die seuns aan te durf en boonop almal uit te stof.

Dis nie ’n baie belowende begin vir ’n vriendskap nie, maar Jess en Leslie Burke word onafskeidbaar. Saam skep hulle Terabithia, ’n magiese koninkryk in die woud waar hulle twee as koning en koningin heers.

Dan is daar eendag ’n verskriklike tragedie.

Eers wanneer Jess hierdie tragedie begin verwerk, besef hy uiteindelik hoeveel krag en moed Leslie vir hom gegee het.

Wenner van die Newbery-medalje.

“Roerend en met groot impak.” – Kirkus Reviews

“Hierdie storie is merkwaardig ryk en diep, pragtig geskryf.” – The Horn Book
 
 
 
OOR DIE OUTEUR
Katherine Paterson is die outeur van meer as 30 boeke, insluitend 16 kinder- en jeugromans. Sy is twee keer bekroon met die Newbery-medalje: in 1978 vir Brug na Terabithia (Bridge to Terabithia) en in 1981 vir Jacob Have I Loved. Sy is onderskeidelik in 1998 en 2006 bekroon met die Hans Christian Andersen-prys en die Astrid Lindgren gedenkprys.

OOR DIE VERTALER
Kobus Geldenhuys het in 2015 die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015).

Boekbesonderhede


» read article

Ontdek die wêreldgeskiedenis – van die oerknal tot die hede – in Peter Goes se beeldverhaal, Tydlyn

Ontdek die wêreldgeskiedenis – van die oerknal tot die hede – in hierdie beeldverhaal. Met groot kleurplate vir groot en klein word die wêreldgeskiedenis as een deurlopende, asemrowende verhaal voorgestel.

Boordevol interessante feite oor: die dinosourusse, die Wikings, ridders en ontdekkingsreisigers, die Griekse wysgere, die eerste skrif, antieke Chinese koninkryke, wêreldoorloë, die Berlynse muur, kastele, joerts en wolkekrabbers, die opkoms van die internet en soveel meer. ’n Groot kinderboek vir ’n grootse geskiedenis.

Peter Goes het animasie studeer by die Koningklike Akademie vir Beeldende Kunste in Gent, België, die stad waar hy gebore is en grootgeword het. Nadat hy graag gekry het, werk hy vir baie jare as verhoogbestuurder, beligtingtegnikus en tegniese regisseur voordat hy ’n voltydse grafiese ontwerper, animeerder en illustreerder word.

Kinders vanaf 9 jaar. Maar beslis ook vir volwassenes.

Boekbesonderhede


» read article

Julia Donaldson se Amok op ’n besemstok sal beide oud én jonk vermaak en is boonop perfek vir voorlees!

Amok op 'n besemstokDie heks en haar kat vlieg gelukkig deur die lug op haar besemstok. Maar dan kom raap die wind die heks se hoed, toe haar strik en toe haar towerstaf op. In die soektog na hierdie toor-noodsaaklikhede ontmoet die heks en haar kat talle hulpvaardige diere wat saam op haar besemstok wil ry. Maar is daar plek vir soveel diere op haar stok? En sal die nuwe vriende haar kan red wanneer gevaar dreig? ’n Verhaal oor die vreugde van vriendskap en om met ander te deel.

Julia Donaldson is een van die top kinderboekskrywers wêreldwyd. Sy was die VK se “Children’s Laureate” 2011–2013 en het al meer as 100 boeke vir kinders geskryf. Haar boeke het al verskeie pryse gewen, onder andere die Red House Children’s Book Award en die Blue Peter Award. Sy woon in Glasgow, Skotland, saam met haar man, Malcolm.

Axel Scheffler is ’n illustreerder van top internasionale kinderboeke. Sy illustrasies is in meer as 30 lande gepubliseer en sy werk word wêreldwyd uitgestal. Hy is veral bekend vir The Gruffalo en Zog and the flying doctors. Hy woon in Londen, Engeland.

Ander titels wat in Afrikaans by Protea Boekhuis beskikbaar is: Superwurm (2014), Rower Rot (2014), Kris de Kat (2014), Tjokkie (2014), Zok (2014), Stokman (2014, 2016) en Die Stories uit die Eikehout (2016). Donaldson en Scheffler is ook die skeppers van die immergewilde Die Goorgomgaai (Human & Rousseau, 2014).

Marlise Joubert is ’n vryskut skrywer, digter en skilder. Sy is die skrywer van 11 publikasies en ook die webmeester van Versindaba. Vanaf 2001 tot 2006 ontvang sy die eerste, tweede en derde pryse in die Sanlam/RSG radiodrama kompetisie. Sy is getroud met die digter Louis Esterhuizen en woon in Stellenbosch. Marcelle Olivier is haar dogter en het haar bygestaan met die vertaling. Marcelle is ’n argeoloog en woon in Cambridge, Engeland.

Die Engelse uitgawe van Amok op ’n besemstok, Room on the broom, vermaak oud en jonk al meer as vyftien jaar lank. Perfek vir voorlees.

Boekbesonderhede


» read article

Die draakrebellie het begin en Harwarrus se enigste hoop is dat hy die draakjuweel sal opspoor. Maar waar moet hy begin soek?

Hoe om 'n draak se juweel te steel

Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde was ’n swaardvegter, draak-fluisteraar en die grootste Wiking-held wat nog ooit gelewe het.

Die draakrebellie het begin. Harwarrus is stoksielalleen en in ballingskap. Mense sowel as drake maak jag op hom – sy enigste hoop is dat hy die draakjuweel sal opspoor. Maar waar moet hy begin soek?

Kinders wat DreamWorks se film How To Train your Dragon uit 2010 onthou, kan Hiccup (oftewel Harwarrus) se avonture nou in Afrikaans lees!

Cressida Cowell het grootgeword in die stad Londen en op ’n klein, onbewoonde eiland aan die weskus van Skotland, waar sy dit geniet het om stories te skryf, vis te vang, en die eiland te verken op soek na drake. Sy was oortuig daar het drake gelewe, en was altyd gefassineer met hulle.

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek-vertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015).

Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling.

Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Boekbesonderhede


» read article

Franz Marx bespreek sy debuutroman, Johannesburg se onderwêreld, en die verminking van Afrikaans

Deur Mila de Villiers


’n Spieël is ’n vreemde ding, want in ’n spieël leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag.

Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.

Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieëlbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wêreldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Ons redakteur, Mila de Villiers, het onlangs met Franz Marx, die skepper van Egoli, dramaturg, en filmmaker, geklets oor sy debuutroman Spieëlbeeld, Johannesburg se onderwêreld, die kunsmatigheid van die samelewing, en – moontlik die mees pertinente deel van die gesprek – die verminking van Afrikaans:

Waar het jy met die idee vorendag gekom om ’n roman te skryf?

Ek het uit die film- en televisiewêreld uitgetree – weg. Maar mens moet jouself besig hou. En ek het dit geskryf want ek wil nie meer tekste skryf nie. So dit was ’n keuse, verhaal-gegewe. Soos wat ek gewerk het, deur my televisieloopban veral, was ek verantwoordelik vir verskriklik baie stories. Dis nou die een ding. Ek moes ’n laai gehad het met stories. Om jou ’n idee te gee – ek moes elke dag van my lewe voorsien vir Egoli. Egoli se stories het ’n hoof-storielyn gehad, dan het hy een van ’n periode van 40 stories, dan ’n substorie van 30, kleiner substorie van ’n episode vir 20 episodes en dan is daar die insidentele storielyn wat ’n dag of twee oorvat. Helfte van daai storie was gekoppel aan ’n karakter, anders was die spelers te veel gewerk. As ek aan ’n storie gedink het, het ek dit neergeskryf. Daar was ’n laai vol, want ek kon nooit uit ’n storie uithardloop nie. Ek het dialoogskrywers gehad, mense wat my gehelp het en gesê het “dis nou ’n twak ou storietjie wat jy hier uitgedink het” of “ja – dis nogal lekker, maar wil jy nie so kinkel daaraan gee nie?”

Een van die stories wat onvoltooid was vir my – dit was nie ’n Egoli storie gewees nie – een van daai stories wat iewers was, was hierdie ding. En hy het by my gekom oor die Lolly Jackson saak. Lolly Jackson – ek wil net dadelik sê dit is nie sy storie nie, hoegenaamd glad nie. Maar Lolly Jackson het vir my in sy wêreld ingevat en vir my gewys hoe werk alles en ons het ’n gemeenskaplike ding gehad oor karre. So ons het lekker gepraat. So het daai wêreld vir my – wat ’n vreemde wêreld was – op ’n manier vir my oopgemaak. Toe’s Lolly vermoor … En ek wou nie Lolly se storie nie- Hy het vir my sy boek gebring en gesê “jy moet ‘n film maak hiervan”, maar dit was nie verfilmbaar nie. Toe dink ek “oukei, ek sal die ding op sy kop draai en ’n storie maak oor die goed wat ingekom het” en basies net alles omgedraai.

Een lyfwag, oftewel bouncer, wie Marx destyds teëgekom het is “baie soos Joe, daai ritme van praat.

“Behalwe Joe is ’n ander karakter, hy kom uit Pretoria uit. Ek het hier [die Michelangelo Hotel in Sandton] gebly en dis waar hulle uitgehang het. Al die mense wat hier ingeboek het, het altyd hulle lyfwagte gehad. Dit is die plek waar ek vanoggend ontbyt geëet het, middagete, en aandete. Jy leer die mense ken. En dis waarvan die lyfwagte vandaan kom. Toe kom ek op Stellenbosch met niks om te doen nie, toe dink ek “ag, ek sal maar begin skryf aan ’n storie”. En ek wou nog altyd, maar ek het nooit die tyd gehad nie… Ek het gedink “skryf dan nou maar ’n dêm roman”. Maar dit was harde werk…

Hoe lank het jy hieraan geskryf?

Jy moet net onthou Virgilius het een sin ’n dag geskryf. Hierdie het my net langer as drie jaar geneem. Carla [Lang, sy uitgewer by Protea Boekhuis] het my so baie gehelp… Dis vir myself; ek het dit ook vir myself geskryf. Carla was soos ’n onderwyseres. Ek het haar baie waardeer, so ek hoop die boek is ’n sukses vir haar ook.

Is daar ’n spesifieke reaksie wat jy hoop deur die boek ontlok sal word?

Dis maar ’n onsekerheid, maar ek het al baie goed geskryf in my lewe, baie stories. Party het gewerk, party het nie gewerk nie. Ek het boek twee wat ek moet skryf; ek sal moet vinniger werk.

Word jy aangsepoor deur die slagspreuk “Werk want die nag kom nader”, of werk want die dood kom nader?

Die kop verdwyn! [Lag hartelik]

Mens leen maklik fiksie van nie-fiksie; hoeveel van die inhoud van die boek stem ooreen met jou eie lewe, of ervaringe?

Baie min. Die enigste ding – Carla sê altyd vir my “Oe, mens herken altyd die skrywer se stem wat dit beskryf” en dan sê ek “ek hoop nie sy herken my in Joe of herken my in Dolf nie”. Die enigste ding wat ek werklik gebruik het van my persoonlike lewe was my verjaardagdatum. [Marx verjaar op 21 Maart.] Daardie is ’n stukkie persoonlike – dit het dit maklik gemaak om die datum te gebruik. Die datum het ’n ander konnotasie. Kyk – dis die einde van iets en begin van die volgende, dis dag en nag ewening vir ons dwarsdeur die wêreld, en dit het my gefassineer. So dis die einde en die begin vir Dolf gewees. Dit het vir my nogal getrek. Maar dit is al wat ek bewustelik gedoen het – die Johannesburgse milieu het ek 50 jaar gelede in geleef. Dis nou waar ek bietjie wakker geskrik het, want alles verander toenemend. Die Butcher’s Grill bestaan nog … So ek het die milieu wat ek geken het gebruik. Dis beter om iets te skryf wat jy basies van weet.

Kon jy aanklank vind by enige van jou karakters? Het jy dit meer geniet om sekere karakters te skryf as andere?

Laat ek vir jou dit sê – wat die karakters betref – ’n storie is vir my nie ’n storie as dit nie ’n karakter is wat ontwikkel nie. So ek is altyd verlief op my karakters, verskriklik verlief. Ek raak verlief op my karakters en ek raak ook baie jaloers op hulle.

Hoe was dit om vrouens te skryf? Jy skryf nooit vanuit ’n vrou se oogpunt nie, en ek wil hulle nou nie beskryf as “randfigure” nie, maar…

Jy sit jou vinger op dit. Ek het my hele lewe nog nooit ’n storie – voor hierdie een – geskryf oor mans, vir mans nie. Alle films, alle televisiegoed se teikenmark is vrouens. Jy vertel jou storie uit die vrou se perspektief en as die storie by die vrou werk, dan geniet mans dit ook. En toe ek nou met hierdie ding kom, veral oor die milieu, het ek besluit “nee, nee, nee – dit moet uit die man se perspektief kom”. Daar’s genoeg vrouens wat dit uit ’n beter en makliker en meer oortuigende wyse, van binne af, kan skryf.

My vriendin Karin Eloff, sy’t Stiletto geskryf en het ’n inset daarin gehad, maar so ek is baie lief vir die vrouens en hulle het vir my ’n goeie lewe gegee … Maar dit is teiken, Egoli was ’n teikengehoor – dit was ’n opdrag van MNet gewees; dit was vrouens. Tussen 35 en 45 jaar oud …. Hulle’s getroud, hulle het twee kinders, ek kan hier met jou in die straat loop en sê “daar gaan sy, daar loop sy”. Ek het geweet wat sy koop by Thrupps, ek het geweet haar man is ’n prokureur …

Jy moet die mark baie goed ken. En al die ander – Agter Elke Man was vir vrouens. Die skool daar selfs was vir die vrouens, die kinders en toe nou hierdie ding – toe dink ek nou, try nou ’n man se storie vir mans skryf. En dis waarvoor ek die heeltyd bang is. Want vrouens lees; hulle doen alles. Die vrouens besluit watter programme gekyk word in hulle huis, die vrouens is die lojale kykers van stories, behalwe die sport, en die vrouens bepaal die vermaaklikheid van die huis. Die vrou sê ”ons gaan na daai teaterstuk toe”, die vrou sê ”ons gaan daai rolprent kyk”. Dis die invloed van die vrou. Ek dink die meeste boeke word gekoop deur vrouens; ek dink die meeste boeke word geskryf deur vrouens.

 Joe se taalgebruik het my bygeval. Hy meng sy taal iets verskriklik en gebruik gereeld sy eie, “Centurion-esque” weergawe van woorde. Hoe, aangaande sy woordeskat, het jy daarin geslaag om hierdie karakter, op ’n egte wyse sonder om ’n bespotting van hom te maak, te skep?  

Hulle praat deesdae so. Kyk kykNET – kyk as hulle met enige van die jong sangers ’n onderhoud voer, kyk net – dan sal jy dieselfde taal hoor. Dit is verskriklik. Joe se tipe taalgebruik pas pas in daai milieu in, as jy in gimnasiums ingaan  waar die mans gaan  oefen, dan hoor jy dit. Dit is ’n effense lae ding. Joe het nooit matriek gemaak nie en daarna is hy na die polisie korps. Hulle het swagger. Dis daai tipe ding.

Iets waaroor ek en die uitgewers die heeltyd oor gepraat het was my oortuigings dat hierdie mengeltaal wat die taal so bevuil – daar’s nie ’n ander woord om dit voor te gebruik nie ; die taal bevuil -  is nie Engels nie, dis Amerikaans. Dis Amerikaanse slogans, dis Amerikaanse “wyshede” wat deur televisie, films en musiek opgeneem word en sommer net gebruik word as ‘n “with-it” ding deur tieners. En dit het nou ingeburger geraak. En ons sê dis ’n mengeltaal tussen Afrikaans en Engels – die Engelse gebruik nie ’n woord soos “amazing” nie, of dis “cool”, of enigiets van die aard nie. En ek wou gehad het hulle moes die Amerikaanse spelreëls vir die storie gebruik en daar het hulle my gesê “nee”. Hulle het my toe op die ou-end oortuig, maar eintlik is dit waarheen mens op pad is.

Dink jy so? Dat Afrikaans so gaan verval?

Ek dink hy het klaar so verval. Ten minste glo ek dat die rooiligte… dit het niks met die Taalstryd uit te waai nie, dit is ’n ander storie – hierdie is ’n bydraende storie. Ek het vreeslik baie argumente met mense wat in die taal werk. Ek dink nie dit is ’n ontwikkeling in die taal nie, ek dink dit is teen-produktief, want dit verskraal. Ek het vir Joe ’n woordeskat van 800 woorde gegee. Dis nie eers ’n taal nie. Ons kan duisende woorde gebruik. Afgesien daarvan, die karakters is vir my tipies soos wat ek hulle hier ontmoet het en leer ken het en met hulle gepraat het, en dan probeer ek hulle reg Afrikaans leer – maar dit het nie gewerk nie. Daar is ’n metafoor in die storie; daardie taalgebruik maak goeie taalgebruike waarskynlik dood.

Geen van die Engelse woorde is in skuinsdruk geskryf nie. Is dit met opset gedoen?

Dit was met opset, want die mense praat nie in skuinsdruk nie, vir hulle is dit normale Afrikaans. As ’n skrywer het ek my voet neergesit – dit moet gewoon vol deurgaan. Dit is soos die mens praat, hy vertel sy storie in die eerste persoon, en dis hoe hy dit sal vertel.

Jy bedank onder meer patoloë en geweerdeskundinges wat vir jou raad gebied het. Het jy baie hulp nodig gehad met die navorsing?

Mens het altyd. Ek het mense mal gemaak, want dan verstaan ek dit nie eintlik nie. Ek het ’n seun wat ’n skut is, so dit het my nogal ’n bietjie gehelp, maar, ja, die navorsing daar was verskriklik. Dis een van die goed waarom dit stadig gegaan het, want in my vorige lewe – soos byvoorbeeld in Egoli – het ek assistente gehad. Ek het vir hulle gesê “hoor hierso, wat is ’n tipiese pistool wat ek kan gebruik vir ’n moord pleeg?”. Dan sal iemand sê ”Glock”.  Hulle gaan vind vir my alles uit, bring als vir my, en sal daarna kyk. Nou moet ek self daai blêrrie goed gaan doen. As ek nou weer ‘n storie skryf, moet daar geen navorsing wees nie. Dit hou my te veel op.

Was dit meer van ’n uitdaging gewees om die navorsing te doen as om die eintlike storie te sit en skryf?

Selle, selle, selle. Oor die kléinste goed. Die kléinste goedjies. Ewe skielik sê jy “oeps, werk dit rêrig so?” Dis fiksie, dis nie ’n dokumentêre… Dit moet darem so wees dat iemand nie sê ”Nee, jirre, nou lieg jy maar verskriklik” … Dis die navorsing.

Die titel “Spieëlbeeld” is interessant aangesien ’n spieël ’n  dubbelsinnige voorwerp is, waarin weerkaatsings  letterlik in teenoorgestelde beelde verskyn, tog word ’n spieël ook gebruik as ’n voorwerp waarin jy jou bewonder (soos gesien in die geval van Joe, veral). Kan jy dalk bietjie uitbrei oor die dubbelsinnigheid van jou karakters sonder om te veel te verklap?

Die twee karakters [Dolf en Joe], op ’n vreemde manier, is verwronge beeld van die ander. So, Dolf kan ook ’n verwronge beeld wees van Joe se pa. Die milieu waarin ons woon hier is een van glas. Kyk om jou [Marx beduie na die binnehof van die sierlike Michelangelo Hotel] – jy sien net spieëls; dis waarin jy leef, daar’s niks warms nie, daar’s niks toegeneentheid nie. Dit is waarin die storie hom afspeel, in die spieël – jy kan nie aan ’n ding vat. Dit het my nogal lankal as ’n soortvan omstandigheid waarin ons leef …  Dolf leer ons ken voor die spieël, maar as jy Joe die eerste keer sien, sal jy sien hy sit op ’n blink stoep waarop alles terug weerkaats. Op ’n ander stadium sê iemand vir Joe hy lyk soos ’n bobbejaan, hy’t gekyk in die spieël – hy lyk nie so nie. Jy kan dit nie ontsnap nie en dis nie die werklikheid – en dis baie kunsmatig.

Is daar moontlik ’n vraag oor die inhoud van jou boek wat jy gebrand om gevra te word?

Oor die taal. Ek sou graag dat die mense die bedoeling van daai taal as ’n waarskuwing lees. Ons verstaan dit as “cool” as ons ons eie taal met ander tale vermink, en ek praat nie van leenwoorde nie. Ek is nie anti-Engels nie, ek is verskriklik pro-Engels. Dit is net vir my onaptytlik lelik. Ek sit en kyk na Afrikaans, ek hoor dit oor die radio en dit gryn my. Mens probeer dit doelbewus vermy om jou taal te meng, maar mens moenie. As jy Engels praat, dan probeer jy dit nie vermy nie.

Boekbesonderhede


» read article