Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Drama’ Category

Post mortem deur Pieter Fourie: Drie mense vertel hoe hulle aan hul dood gekom het

Post mortemPost mortem deur Pieter Fourie is nou beskikbaar by Protea Boekhuis:

Drie hopies grond van drie grafte en die drie mense aan wie die grafte behoort: Vytjie, Basjan en Gulu. Elkeen moet vertel hoe hy of sy aan sy dood gekom het. Trien is die sameroeper van hierdie byeenkoms na die dood. Sy behartig die post mortem. Hoe het dit gebeur dat haar man, haar huiswerker en plaaswerker dood is?

In hierdie drama deur Pieter Fourie moet Basjan, Vytjie en Gulu aan Trien vertel en demonstreer wat gelei het tot hul dood. Dit word duidelik dat Trien se pienk pilletjies haar blind gemaak het vir die dinge wat rondom haar gebeur …

Oor die outeur

Pieter Fourie is die afgelope 50 jaar ononderbroke vaardig as dramaturg, regisseur, akteur, vervaardiger en toneelbestuurder. Meer as 60 dramas is deur hom geregisseer en hy is die stigter van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Hy word bekroon met die Hertzogprys vir Drama (2003), ontvang ’n Fleur de Cap in 2006 en in 2016 word hy vereer met ’n kykNET Fiësta vir sy bydrae tot die Afrikaanse woordkuns.

Boekbesonderhede


» read article

Twee regisseurs pak Reza de Wet se Drif aan – Lees ’n onderhoud en resensie

Die seeStephanie Gericke se verwerking van Reza de Wet se drama Drif is verlede maand in die Pierneefteater in Pretoria opgevoer. AJ Oppperman het met die aktrise Lizanne Schultz gesels oor haar rol as Sussie, een van die twee susters in die toneelstuk.

“Mense probeer die drif waarlangs die susters woon, oorsteek. Die teks gaan oor ’n spesifieke aand in hul lewe toe twee gaste daar aangekom het,” het Schultz gesê oor Drif.

Schultz het verder vertel hoekom hulle besluit het om dié drama op te voer en die positiewe terugvoer wat dit al ontvang het.

Lees die artikel:

“Dit is die eerste stuk van De Wet wat ons aanpak. Ons wil Diepe Grond ook nog doen, maar Oktober en November is maande waarin mense baie bewus gemaak word van vrouemishandeling. Tematies sluit Drif goed daarby aan, daarom is dit goed om die stuk dié tyd van die jaar op te voer.”

Schultz glo Drif is baie toeganklik vir teatergangers – veral as ’n mens kyk na die terugvoer wat hulle kry.

“Mense het al vir ons vertel van dinge in die stuk wat hulle ongemaklik maak, maar dit is nie die soort ongemaklikheid wat hulle laat wegskram nie. Dit is veel eerder ’n geval dat hulle wil weet wat aangaan. Daar is altyd iets onderliggend aan gebeure en dit maak die stuk vir my universeel.”

Nog ‘n regisseur wat De Wet se Drif aangepak het is Marí Borstlap. Lees Marina Griebenow se resensie van dié produksie wat verlede maand in Stellenbosch opgevoer is:

Die ervaring is onthutsend intiem en jou aanvanklike ongemak word verskerp deur twee elemente: Wilken Calitz se puik klankbaan wat deurgaans die gebeurlikhede onderlê en betekenis verhoog en Borstlap se aandrang dat die akteurs speel met feitlik geen toegewing aan die teenwoordigheid van ’n gehoor nie. Die spelers is by jou, tussen jou en teen jou.

Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

Nicola Hanekom se jongste teaterstuk benoem vir 6 Fiëstas

 
Die pad bysterLand van skedelsVeelbekroonde dramaturg en aktrise Nicola Hanekom is vir nóg toekennings benoem, naamlik die 2016 Fiëstas vir haar jongste teaterstuk In Glas.

Die Fiëstas is die enigste toekennings in sy soort in die land en akteurs, aktrises, regisseurs, skrywers, musikante en visuele kunstenaars word sedert 2011 vereer vir hul uitsonderlike werk by die land se grootste kunstefeeste.

In suburbia, waar mammas met hul babas in stootwaentjies gaan draf en mens op ’n Saterdag grassnyers en die geblêr van rugby op TV hoor, verloop dinge nie altyd volgens plan nie. Party babas word nie deur die ooievaar afgelewer nie. Party word in glas gemaak.

Hanekom se treffende drama is in die volgende kategorieë benoem:

  • Beste Akteur – Stian Bam (KKNK)
  • Beste Aktrise – Tinarie van Wyk Loots (KKNK)
  • Beste Regie – Nicola Hanekom (KKNK)
  • Beste Teaterontwerp – Nicola Hanekom (KKNK)
  • Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Produksie – Nicola Hanekom (KKNK)
  • Beste Aanbieding – Ensemble (KKNK)

 

Die Fiëstas word op 18 Februarie 2016 by ’n glansgeleentheid by die Staatsteater in Pretoria oorhandig.

Lees die persverklaring om al die ander nominasies te sien:

Fiëstas: Hier is die benoemdes

Die benoemings vir die kykNET Fiësta-toekennings is gisteraand regstreeks op Flits, kykNET se aktuele vermaakprogram, aangekondig. Die Fiëstas is die enigste toekennings in sy soort in die land en akteurs, aktrises, regisseurs, skrywers, musikante en visuele kunstenaars word sedert 2011 vereer vir hul uitsonderlike werk by die land se grootste kunstefeeste.

Die Fiëstas word op 18 Februarie 2016 by ’n glansgeleentheid by die Staatsteater in Pretoria oorhandig. Die seremoniemeesters vir die aand is Pierre Breytenbach en June van Merch en Deon Lotz, Rozanne McKenzie, Leandie du Randt, Erik Holm en Marlo Minnaar sal as gas-aanbieders optree.

BESTE AKTEUR
Albert Pretorius ‒ Buite Blaf die Honde Swart (KKNK)
André Odendaal ‒ Skuldeiser(Woordfees)
Stian Bam ‒ In Glas (KKNK)
Wilhelm van der Walt – Son. Maan. Sterre. (Woordfees)

BESTE AKTRISE
Anna-Mart van der Merwe – Skuldeisers (Woordfees)
Milan Murray – Amper, Vrystaat (Vrystaat)
Sandra Prinsloo ‒ Die Dag is Bros (Innibos)
Tinarie van Wyk Loots ‒ Hemelruim en In Glas (Aardklop en KKNK)

BESTE MANLIKE BYSPELER
Dean Smith – Die Dag is Bros (Innibos)
De Klerk Oelofse – Liewe Heksie: Flower Power (KKNK)
Louis van Niekerk – Son. Maan. Sterre. (Woordfees)
Loukmaan Adams – Liewe Heksie: Flower Power (KKNK)

BESTE VROULIKE BYSPELER
Greta Pietersen – Son. Maan. Sterre. (Woordfees)
Nicola Hanekom – Son. Maan. Sterre. (Woordfees)
Tinarie van Wyk Loots – Buite Blaf die Honde Swart (KKNK)
Wilna Snyman – Son. Maan. Sterre. (Woordfees)

BESTE REGIE
Christiaan Olwagen – Son. Maan. Sterre. (Woordfees)
Jaco Bouwer – Santa Gamka (KKNK)
Nico Scheepers – Amper, Vrystaat (Vrystaat)
Nicola Hanekom – In Glas (KKNK)

BESTE TEATERONTWERP
Birrie le Roux – Skuldeiser (Woordfees)
Christiaan Olwagen – Son. Maan. Sterre. (Woordfees)
Nico Scheepers – Amper, Vrystaat en Die Dag is Bros (Vrystaat en Innibos)
Nicola Hanekom – In Glas (KKNK)

BESTE PRESTASIE IN ’N MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE
Amanda Strydom – Amanda Strydom: Die Hele Boksemdaais (KKNK)
Laurika Rauch – Nie As Ek Sing Nie: Laurika Rauch (Aardklop)
Margit Meyer-Rödenbeck (konsep) ‒ Liewe Heksie: Flower Power (KKNK)
Schalk Joubert (musiekregie) – Al Lê die Berge Nog So Blou (KKNK)

BESTE SPEL IN ’N SOLO-VERTONING
Gys de Villiers – Elsie se Nommers (Innibos)
Marion Holm – Die Kaap is Weer Holms (KKNK)
Marlo Minnaar – Santa Gamka (KKNK)
Wessel Pretorius – Adam 2 (Woordfees)

BESTE NUUTGESKEPTE AFRIKAANSE PRODUKSIE
Eben Venter, Marlo Minnaar en Jaco Bouwer – Santa Gamka (KKNK)
Nico Scheepers – Amper, Vrystaat (Vrystaat)
Nicola Hanekom – In Glas (KKNK)
Wessel Pretorius – Die Dag is Bros (Innibos)

BESTE PRESTASIE IN KLASSIEKE MUSIEK
Esthea Kruger – Rising Star (Woordfees)
Kaapse Jeugkoor onder leiding van Leon Starker – Na Waters Waar Rus Is (Woordfees)
US-koor onder leiding van André van der Merwe – US-koor (Woordfees)
Zanne Stapelberg en Odeion-strykkwartet – Odeion-strykkwartet met Zanne Stapelberg (SOF)

BESTE PRESTASIE IN VISUELE KUNS
Alex Hamilton – Jou Daaglikse Dosis en Opskiet by die Museum (Aardklop en Woordfees)
Nathani Luneburg – As die Vlooie Byt in La La Land (KKNK)
Sanell Aggenbach – Atopia (Aardklop)
Sandra Hanekom – Die Burger 100 Jaar-uitstalling (SOF)

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE
Al Lê die Berge Nog So Blou (KKNK)
In die Grond van die Wind (Aardklop)
Liewe Heksie: Flower Power (KKNK)
Nie As Ek Sing Nie: Laurika Rauch (Aardklop)

BESTE AANBIEDING
Amper, Vrystaat (Vrystaat)
Die Dag is Bros (Innibos)
In Glas (KKNK)
Son. Maan. Sterre. (Woordfees)

Die drie persone wat by die Fiëstas vir hul lewensbydrae vereer word, is Lida Botha (teater), Ronnie Samaai (musiek) en Pieter Fourie (woordkuns).

Die toekenning vir die gewildste fees asook die Blou Stoel-toekenning word by die toekenningsaand bekend gemaak. Feesgangers word genooi om nou hul gunsteling fees te benoem deur na www.kyknetfiestas.co.za te gaan en daar te stem. Benoemings kan tot middernag op 6 Desember gemaak word. ‘n Tweede stemproses deur feesgangers sal dan die gewildste fees in die land bepaal.

Die wenners in 2015 was:

Gewildste fees: Aardklop
Beste aanbieding: Bloed en Rose (Aardklop)
Beste regisseur: Marthinus Basson vir Bloed en Rose (Aardklop)
Beste aktrise: Rolanda Marais vir Dogma en Die Seeumeeu (KKNK en Aardklop)
Beste akteur: Albert Pretorius vir Die Seeumeeu en Playland (Aardklop en Suidoosterfees)
Blou Stoel-toekenning: Saartjie Botha vir die vertaling van Die Seeumeeu en die verwerking van Die Rolbalspeler
Beste opkomende kunstenaar: Richard September vir Rondomskrik (KKNK)
Teaterontwerp: Jaco Bouwer vir Poskantoor en Samsa-masjien (Aardklop en KKNK)
Beste prestasie in ’n musiekgedrewe produksie: Emo Adams vir Finding Emo
Beste vroulike byspeler: Lee-Ann van Rooi vir Rondomskrik (KKNK)
Beste manlike byspeler: Stian Bam in Bloed en Rose (Aardklop)
Beste solo-vertoning: Frank Opperman vir Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade
Beste prestasie in visuele kuns: Gerhard Marx vir The Garden at Night (Aardklop)
Beste prestasie in klassieke musiek: Braam du Toit vir Poskantoor (Aardklop)
Beste musiekproduksie: Emo Adams vir Finding Emo
Beste nuwe Afrikaanse opvoering: Christiaan Olwagen vir Dogma (KKNK)
Lewensbydrae vir teater: Marius Weyers
Lewensbydrae vir teater en woordkuns: Prof. Adam Small
Lewensbydrae vir teater en woordkuns: Wilma Stockenström
Lewensbydrae vir musiek en woordkuns: Philip de Vos

Boekbesonderhede

 
Foto met dank van Nicola Hanekom se Facebook-blad


» read article

Kom gesels met Nicola Hanekom oor Land van skedels by Protea Boekwinkel Stellenbosch

Land van skedelsProtea Boekhuis en Protea Boekwinkel Stellenbosch nooi jou graag na ‘n boekpraatjie met die bekroonde skrywer, dramaturg, vervaardiger en aktrise Nicola Hanekom.

Kom luister na Hanekom se gesprek oor haar nuwe drama Land van skedels op Saterdag, 28 November om 11:00.

Land van skedels, die teks van Hanekom se bekroonde drama, het in September op Protea Boekhuis se rakke verskyn en vertel die aangrypende verhaal van die ervaring van vroue in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog.

Moenie die gesprek misloop nie!

Besonderhede

Boekbesonderhede


» read article

Reza de Wet se drama Drif wys eersdaags in Stellenbosch (Plus: Mariana Malan resenseer Missing)

Die seeDie bekroonde dramaturg Reza de Wet, wat op 27 Januarie 2012 oorlede is aan kanker, se dramas leef voort op die verhoog en in teaterskeppers se harte.

Daar sal eersdaags ‘n nuwe produksie van De Wet se drama Drif op die planke gebring word. Drif vorm deel van die Trits-trilogie wat bestaan uit Mirakel, Mis en Drif. Die produksie sal vanaf 17 tot 28 November om 20:00 in die Hofmeyrsaal in Stellenbosch opgevoer word.

Laetitia Pople het met die regisseur Marí Borstlap gesels oor haar bewondering vir De Wet se werk en die uitdagings van dié vernuwende projek.

Lees die artikel:

“Sy het my bekend gestel aan magiese realisme en dit is die element van haar werk wat my soos ’n magneet ­aantrek. Haar werk is ryk aan simboliek, sterk vrouekarakters en haar verkenning van temas soos die ­verdrukking van seksualiteit, magie, illusies, die onderbewuste, magsverhoudings, die mens se soeke na ontvlugting en bevryding gryp my aan.”

Borstlap sonder Drif spesifiek uit as een van De Wet se uitdagendste toneelstukke.

“Ek is iemand wat dié soort uitdaging baie aantreklik vind, omdat dit sielskos is vir akteurs en ’n regisseur. Dit is ’n donker drama, het baie lae wat verken moet word en die lyne tussen ­illusie en werklikheid kruis behoorlik in die stuk. Maar dit is ook beeldskoon en ’n ontroerende verhaal.”

Die Engelse vertaling van De Wet se drama Mis het verlede maand by die Baxter-teater verskyn. Mdu Kweyama is die regisseur van Missing, wat uit Afrikaans vertaal is deur Stephen Stead.

Lees Mariana Malan se resensie van Missing:

Die jong regisseur Mdu Kweyama kry dit reg om jou die karakters onbevooroordeeld te aanvaar. Gertie, die oujongnooi-onderwyseres, praat Engels, maar danksy Stephen Stead se vertaling hoor jy Afrikaans.

Faniswa Yisa het jou van die eerste paar minute af in die palm van haar hand. Hierdie Miem is ’n vrou van die aarde, een wat haar dogter probeer kuis hou en terselfdertyd nie huiwer om haar deugde aan die blinde konstabel op te dwing nie.

Boekbesonderhede


» read article

Teks van Nicola Hanekom se bekroonde drama nou beskikbaar: Land van skedels

Land van skedelsLand van skedels deur Nicola Hanekom is nou beskikbaar op Protea Boekhuis se rakke:

Die drama fokus op die ervaring van vroue in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog en het verskeie toekennings ontvang, onder andere die Fiësta vir teaterontwerp en beste nuwe Afrikaanse produksie.

Teatergenie, noem resensente haar. Dramaturg, vervaardiger, aktrise. Sy het Afrikaanse teater in die holte van haar hand, die “ongelooflik talentvolle” Nicola Hanekom.Hanlie Retief

Nicola Hanekom vang die gehoor se aandag van die begin en weier om dit te verloor. Sy hou die verskillende storielyne mooi bymekaar totdat dit saam opeindig. Nicola oortuig jou terwyl sy jou skok. Jy is spraakloos as jy uitstap. Geskok, maar ook hulpeloos. Die toneelstuk is ’n meesterstuk met Nicola die bes moontlike skilder.James de Villiers

Oor die outeur

Nicola Hanekom het haar Diploma in Drama aan die Universiteit Kaapstad ontvang en beskou haarself meer as ’n aktrise as ’n skrywer. Hoogtepunte in haar loopbaan is haar vertolking van Ingrid Jonker in Altyd Jonker en haar vertolking van Beatrice in die film Faan se Trein. Op die kassie was Nicola al te sien in baie reekse. Sy wen ’n Fleur du Cap-toekenning en ’n Standard Bank Golden Ovation-toekenning vir haar spel in haar eenvrouvertoning Hol. Vir haar trilogie van plekspesifieke teater (Betésda, Lot en Babbel) ontvang sy altesaam elf Kanna-toekennings en vier Fiësta-toekennings. Sy het reeds ook twee ATKV-Woordveertjies ontvang vir Beste Dramateks vir “Babbel” (2011) en “Trippie” (2013).

Boekbesonderhede


» read article

Vat 5 met Willem Anker oor Samsa-masjien: “Teater wil versteur, nie bekeer nie”

 
Samsa-masjienWillem Anker se bekroonde drama, Samsa-masjien, het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn en vertel die verhaal van die insekwording van Gregor Samsa.

Samsa is in sy sewentigs en lei aan dementia. Hy en sy vrou Josephine bly by hul dogter Grete en haar man Tjaart in Sandton, en soos die Gregor in Franz Kafka se Die Verwandlung, begin hy om orals insekte te sien. Namate die dementia toeneem voel hy hoe hulle op hom loop en dink hy dat hy self besig is om ‘n insek te word.

Books LIVE het vyf vrae aan Anker gestel oor Samsa-masjien. Die skrywer deel die vyf tekste wat hom geïnspireer het om te skryf, besin oor die doel van teater en vertel waarom Samsa-masjien hom so na aan die hart lê. Hy deel ook interessante feite wat hy ontdek het terwyl hy aan die stuk gewerk het.

Lees die onderhoud:

 

* * * * * * * *

 
Vat 5 met Willem Anker
 
5 dramatekste wat jou geïnspireer het om self te skryf

1. Aars! – Peter Verhelst

2. Hamletmachine – Heiner Müller

3. Marat/Sade – Peter Weiss

4. Kaspar – Peter Handke

5. Rockaby – Samuel Beckett
 
4 interessante dinge wat jy ontdek het terwyl jy aan Samsa-masjien gewerk het

1. ’n Kakkerlak was haarself ná sy aan ’n mens geraak het.

2. William Burroughs se ontdekking dat taal ’n virus is.

3. ’n Kakkerlak kan ’n week lank sonder sy kop oorleef.

4. John Cage se ontdekking dat ’n vragmotor wat verby ’n fabriek ry net so musikaal is as ’n vragmotor wat verby ’n musiekskool ry.
 
3 lesse wat mens uit die stuk kan leer

1. Teater wil ’n ritueel wees, nie ’n klaskamer nie (Teater wil versteur, nie bekeer nie). As iemand iets geleer het uit Samsa-masjien, het ek gefaal. As iemand iets beleef het, dan het ek geslaag.

2. Mens gaan ver soek vir beter en dapperder akteurs (Antoinette Kellermann, Gerben Kamper, Ilana Cilliers en Ludwig Binge).

3. Mens kan nooit genoeg luidsprekers hê nie.
 
2 redes waarom hierdie dramastuk jou na aan die hart lê

1. Ek, Jaco Bouwer (vervaardiger, regisseur, ontwerper) en Pierre-Herni Wicomb (komponis) het sedert 2010 gewerk om die stuk op ’n verhoog te kry (in 2014), so dit was spesiaal toe dit uiteindelik gebeur het.

2. Die teks is ’n mengelmoes van ’n klomp ander tekste wat soos pacemakers my hart help klop.
 
1 sentrale tema waarom alles draai

1. Miskien iets soos wat Bob Dylan gesê het: As jy nie besig is om gebore te word nie, is jy besig om te sterf.

 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

Hoërskool-dramagroepe hou Reza de Wet se naam hoog by vanjaar se Vrystaat Kunstefees

Die seeDie Vrystaat Kunstefees het vanjaar vanaf 13 tot 18 Julie in Bloemfontein plaasgevind. Op die fees se program was die Reza de Wet-tienertoneelfees by die kykNET-Repteater waar verskillende hoërskool-dramagroepe toneelstukke opgevoer het.

Dié dramagroepe het die bekroonde skrywer en dramaturg se naam hoog gehou. Marcelle Meyer het verslag gelewer vir Netwerk24 oor die toneelstuk van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, “Annie Sullivan-Wonderwerker”. Meyer skryf dat die akteurs hul goed van hul taak gekwyt het en prys Clarette Swart se vertolking van die blinde en dowe Helen Keller.

De Wet is Januarie 2012 oorlede nadat sy aan kanker gely het. Haar drama, Die see, het in 2011 in boekvorm by Protea Boekhuis verskyn.

Lees die artikel oor “Annie Sullivan-Wonderwerker”:

Dit is ’n aangrypende verhaal wat kykers hoendervel gegee het, veral wanneer Anne ’n deurbraak maak en meer as 1 000 woorde leer.

Regisseurs Retha Kearns en Jaco van Rensburg, wat ook die teks vertaal het, het dié verhaal gekies omdat dit ’n uitdaging vir die leerlinge was.

“Dit is ’n storie van hoop,” het Retha gesê.

Boekbesonderhede


» read article

2015 Eugène Maraisprys aan Nicola Hanekom vir Die pad byster: Lees Willie Burger se huldigingswoord

 
Die pad bysterDie pad byster deur Nicola Hanekom – waarin haar twee dramatekste “Hol” en “Trippie” verskyn – het vanjaar die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Eugène Maraisprys ontvang.

Tydens die oorhandigingsgeleentheid in Stellenbosch het professor Willie Burger onder meer die volgende te sê gehad oor hierdie Protea-publikasie:

“Hanekom se taalgebruik is vars, die dialoog sprankelend, met dikwels ‘n verradelike ligte vrolikheid wat ‘n donker boosheid wat daaragter lê verdoesel en wat juis daarom veelduidig en meer skrikwekkend word.”

Lees die gerespekteerde akademikus se volledige huldigingswoord:
 

* * * * * * * * *

 
Alhoewel “vernuwing” nie noodwendig die vernaamste vereiste vir die toekenning van die Eugène Marais-prys is nie, speel die verskuiwing van grense, die deurbreking van lesersverwagtings deur vernuwende tegnieke of temas, dikwels ‘n deurslaggewende rol wanneer ‘n besluit oor die prys geneem word.

“Hol” en “Trippie” uitgegee as Die pad byster, bring inderdaad ‘n verfrissende vernuwing in Afrikaanse teater.

Hanekom laat die gehoor nie toe om passief te sit en kyk nie maar nooi hulle uit om saam ‘n pad te loop, om op reis te gaan. Die gehoor raak dan ook saam met die karakters die pad byster, word oorweldig deur ‘n reeks verrassende stemmingswisselings wat wissel van vermaak, verwondering en nuuskierigheid tot skok, skrik en verbystering.

Die manier waarop die vrou in Hol se gedagtes, haar innerlike belewenis, die herinnerings wat sy onderdruk en die oorsaak van haar “hol” gevoel deur uiterlike handeling, tot ‘n skokervaring vir die gehoor toeganklik gemaak word, is ‘n merkwaardige prestasie en een van die eerste voorbeelde van gepubliseerde “fisiese teater” in Afrikaans.

In “Trippie” word die gehoor letterlik saam op reis geneem, op ‘n “bustrippie”, maar dit is ‘n ontstellende reis wat, net soos Hol, die leser telkens verras en met nuwe wendings skok.

Hanekom se taalgebruik is vars, die dialoog sprankelend, met dikwels ‘n verradelike ligte vrolikheid wat ‘n donker boosheid wat daaragter lê verdoesel en wat juis daarom veelduidig en meer skrikwekkend word. Meer belangrik is egter dat hierdie treffende taalgebruik fyn gekoördineer saam met handeling, beligting, klank, en handelinge lei tot ‘n ontstellende ervaring wat by die toeskouers bly spook.

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Eugène Maraisprys vir drama aan Nicola Hanekom te oorhandig.
 

* * * * * * * * *

 
Hanekom, een van die land se voorste aktrises sowel as dramaturge, is tans te sien as Beatrice in die nuwe tienerkomdie Hollywood in my huis wat verlede week by teaters landwyd begin draai het.

Netwerk24 se Rochélle Human het by Hanekom aangeklop om te gesels oor hierdie projek, haar gemak op die silwerdoek en haar eie drome van Hollywood.

“Ek het nog nooit eintlik ­belang gestel in sukses of ­roem nie; ek hou net regtig van ­toneelspel,” sê Hanekom. Lees die artikel vir meer:

 

Die toneelspelakademie ACT-Kaapstad wemel van energieke jong mense.

Eers verskyn die akteur Grant Swanby, Nicola Hanekom se man, uit een van die klaskamers.

En dan uit ’n ander vertrek die aktrise self, in haar rol as toneelspelafrigter. Sy is ’n ­petite bondel energie X praat vinnig en drafstap deur die gebou se gange in haar jeans en poniestert.

Haar ysblou oë het die ­potensiaal om koud te wees, maar Hanekom het ’n speelsheid wat ’n mens dadelik op jou gemak stel.

 
Lees ook:

Boekbesonderhede

 
Boonste foto met dank van Nicola Hanekom


» read article

Karel Schoeman reageer op die FAK se NP van Wyk Louw-eerbewys: “Erkenning span kroon”

 
Die FAK het op 11 Junie, op NP van Wyk Louw se verjaarsdag, die NP van Wyk Louw-eerbewys vir die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis aan Karel Schoeman toegeken.

“Soos Proust het Schoeman ’n lewe gewy aan die soeke na die verlore tyd en ’n oeuvre geskep waarin herinnering, en veral die herinnering van stom voorwerpe as getuienis van die vergane, uitstaan: ’n wapperende rooi lintjie in die veld, ’n verroeste pylpunt, ’n klipstapel, bloekombome langs ’n ou pad wat ons en hul planters ondanks alles steeds aan mekaar verbind,” skryf Johann Rossouw in sy commendatio vir dié prys.

Die vrou wat alleen bly: Twee draaiboekeHoogtyTwee Kaapse lewensHere en boereBurgers en amptenare

 
Om van Schoeman, die outeur van vele Protea-publikasies, self te hoor is ‘n rare gebeurtenis aangesien dié skrywer verkies om buite die kollig te leef. Hy het egter op die FAK se eerbewys gereageer en beklemtoon dat dit vir hom in hierdie stadium van sy lewe, “aan die einde van my skeppende lewe, en teen die einde van my menslike bestaan”, ‘n besondere eer is.

Schoeman skryf dat dit verder op ‘n persoonlike vlak “’n besondere genoegdoening en ’n eer om danksy die onderskeiding in verband gebring te word met die naam van Van Wyk Louw wat vir my nog altyd die grootste figuur in die Afrikaanse letterkunde is”.

Lees die seldsame artikel, gedeel op Netwerk24, vir Schoeman se volle reaksie, asook Rossouw se volle commendatio:

Erkenning span kroon

Oor die afgelope vyftig jaar het ek ’n onvergelyklike kans gehad om dit wat ek te sê het, in ’n haas eindelose stroom gepubliseerde boeke te verwoord, en selfs noudat my skryfwerk tot ’n einde gekom het, wag daar nog etlike titels op moontlike uitreiking. Dit sou oorbodig wees om vanaand iets aan die stortvloed van woorde te probeer toevoeg, en ek sal dus bondig wees.

Dit is vir my altyd besonder verblydend om van ’n leser van my boeke te verneem iets wat ek geskryf het, was vir hom of haar van persoonlike betekenis. Ewe goed is ek egter dankbaar om van ’n instansie formele erkenning te kry dat my werk in ’n ruimer konteks sin en waarde gehad het.

Netwerk24 het ook FAK-voorsitter Danie Goosen se toespraak by die toekenningsgeleentheid geplaas.

“Afrikaners sal met die oog op ’n suksesvolle gemeenskapstrategie ’n middelgrond moet opsoek vanwaar hulle vir hulle as kultuurgemeenskap kan intree,” het Goosen tydens die NP van Wyk Louw-gedenklesing gesê.

Lees die artikel:

Afrikaners is nie ekstreme mense nie. Ons hou nie van uiterstes nie. Inteendeel, verreweg die meeste Afrikaners vind hulle eerder in ’n lewensbeskoulike middelgrond tuis.

Om ons in so ’n middelgrond tuis te maak is nie ’n teken van swakheid nie. Inteendeel, ons as Afrikaners is nog altyd die sterkste wanneer ons vanuit so ’n middelgrond dink en handel. Tegelyk is ons op ons swakste wanneer ons deur ekstreme standpunte uitmekaar gedryf word.

Lees ook Maricelle Botha se artikel vir die Bloemfontein Courant oor die geleentheid waar Schoeman, en ander persone, deur die FAK vereer is:

Lees die artikel:

Die Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad (BAK), in samewerking met die FAK, vereer more (11 Junie) in Bloemfontein persone wat uitstekende bydraes op verskillende gebiede in Afrikaanse kultuurorganisasies gelewer het. Hierdie prestige-vertoonvenster van individue wat konstant uitnemende diens lewer aan hulle onderskeie organisasies en gemeenskappe het twee jaar gelede herleef en dit is vanjaar die derde keer dat die toekennings uitgedeel word. Die FAK se jaarlikse N.P. van Wyk Louw-gedenklesing sal hiermee saamval.

 

Boekbesonderhede

 
Foto met dank aan Bloemfontein Courant


» read article