Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Books LIVE

Archive for the ‘Drama’ Category

Reza de Wet se Mis word op RSG as radiodrama uitgesaai

Die seeOntslape dramaturg Reza de Wet se bekende toneelstuk Mis word vanaand as radiodrama op RSG uitgesaai. André Stolz het die drama tot radioteks verwerk en speel ook een van die hoofrolle in die opname:

Reza de Wet se drama Mis is pas vir die radio verwerk. Hierdie tydlose stuk deur ’n aktrise-dramaturg wat twee keer met die Hertzogprys vir drama bekroon is, word Donderdag om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai.

Die akteur en regisseur André Stolz, ’n goeie vriend van De Wet, het Mis vir die radio verwerk en speel die rol van die blinde konstabel.

Boekbesonderhede

e-Boek opsies – Laai nou af!



» read article

Willem Anker verbeel hom sy oupa se kinderjare in die Tsitsikamma-woud

SkrapnelDramaturg en skrywer Willem Anker het gedurende sy navorsing vir ’n nuwe storie op ’n foto van ’n byeenkoms van boswerkers en bosbouers op Stormsrivier in 1925 afgekom. Anker glo sy oupagrootjie kan moontlik op dié foto wees. Sy oupa en genant, Willem Petrus Pienaar Anker, is gebore in die jaar wat die foto geneem is. In ‘n rubriek vir Die Burger probeer Anker sy oupa se kinderdae saamflans:

Besig met navorsing vir ’n storie wat ek probeer skryf, blaai ek deur ’n boek oor die Tsitsikamma-woud se geskiedenis. ’n Onderskrif by ’n foto laat my regop sit: “Byeenkoms van Boswerkers en Bosbouers op Stormsrivier in 1925”. In die onderste derde van die foto is ’n stuk of 50 mans, skuilend onder hoede en agter baarde, die voorstes kruisbeen, die kamera ver om almal in te pas, die gesigte skaars buitelyne.

Boekbesonderhede

E-boek-opsies – Laai nou af!



» read article

Hennie Aucamp beskou Suid-Afrikaanse kabaret van nader in Koffer in Berlyn

Koffer in Berlyn“Is kabaret aan’t anders word? Kan wat vandag deurgaan as kabaret die toets met die verlede deurstaan? Veral in Suid-Afrika, waar soms baie slordig omgegaan word met die woord “kabaret”. Kabaret, daardie intieme kultuuruiting, opgevoer voor ’n klein gehoor in ’n beperkte ruimte, is nie meer die reël nie.” – Hennie Aucamp in ’n onderhoud op LitNet.

Na aanleiding van hierdie vrae het Hennie Aucamp sy bundel essays oor die kabaret, Koffer in Berlyn, saamgestel. In Koffer in Berlyn ontleed Aucamp die talle fasette van kabaret: die integrasie tussen beeld, musiek en woord – met ’n tema en struktuur waarin ironie sentraal staan. Lesings, resensies, koerant- en tydskrifartikels en ander letterkundige bydraes, sowel as uittreksels van sommige van Aucamp se kabarette word in Koffer in Berlyn byeengebring. Aucamp bespreek kabaret wat internasionaal gebesig is en laat die soeklig ook op die plaaslike toneel val. Met Koffer in Berlyn vul Hennie Aucamp nog ’n leemte in die Afrikaanse letterkunde.

Oor die outeur

Hennie Aucamp is die skrywer van ’n Vreemdeling op deurtog (2007), Vlamsalmander (2008), Die huis van die digter en ander liefdesverhale (2009), Oor en weer (2010) en Lendetaal (2011) wat by Protea Boekhuis verskyn het.

Boekbesonderhede


» read article

Malan Steyn gesels oor Johnny is nie dood nie en sy nuwe toneelstuk, Bos

Malan Steyn

Johnny is nie dood nieMalan Steyn skryf toneelstukke oor dít wat hy sukkel om te verwoord. “Ek skryf om iets uit te figure,” het hy in ‘n onderhoud vir By aan Deborah Steinmair gesê.

Verlede jaar het Steyn se drama Johnny is nie dood nie by Protea Boekhuis in druk verskyn. Hierdie teaterstuk is die naaswenner van die 2004 AngloGold Smeltkoersprys onder die titel Eet alles. “Dis ’n groot thrill om ’n teks vas te hou wat jy geskryf het, wat gedruk is. Dit voel so permanent. ’n Toneelstuk is nie jou eie nie,” sê Steyn.

Steinmair het hom ook uitgevra oor sy kinderjare, die skryf van sepies, klasgee in teksskryf en sy nuutste toneelstuk, Bos, wat by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer word:

Soms ontmoet ’n mens iemand wat jy nog altyd ken. Ek moes middagete saam met die bekroonde dramaturg Malan Steyn nuttig op die vooraand van sy jongste toneelstuk, Bos, by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Nice work if you can get it.

Dit ontaard in ’n lang kuier in die binneplein van Umami in Dorpstraat, Stellenbosch. Dis soos om verlief te raak, soos ’n blinde afspraak wat bo verwagting goed vlot. Ons vriende het hoeka gereken ons sal goed oor die weg kom. Dis meer gesprek as onderhoud. Ons ruil sienings uit en lag soms harder as die kabbelende watervalletjie teen die muur, in vreugdevolle herkenning.

Boekbesonderhede


» read article

Potgooi: Hoorbeeld oor die lewe en werk van Reza de Wet

Die seeAs ‘n huldeblyk aan die dramaturg Reza de Wet wat einde Januarie gesterf het, het Margot Luyt ‘n hoorbeeld oor haar lewe en werk vir RSG saamgestel.

In die volgende potgooi word brokkies uit onderhoude met De Wet vermeng met haar kollegas en vriende se herinneringe aan haar. Haar besonderse toneelstukke word ook bespreek.

Die regisseur Marthinus Basson sê byvoorbeeld dat De Wet “enorme charisma” gehad het en dat daar byna ‘n “magiese kwaliteit” aan haar was, terwyl die aktrise Annelisa Weiland De Wet se spiritualiteit beklemtoon. Luister:

 
icon for podpress  Reza de Wet-hoorbeeld: Play Now | Play in Popup | Download

Boekbesonderhede


» read article

Huldeblyke aan Reza de Wet stroom steeds in

Die seeHuldeblyke aan die ontslape dramaturg Reza de Wet, wat einde Januarie aan kanker oorlede is, stroom steeds in.

In ‘n artikel in Volksblad bekyk Betta van Huyssteen De Wet se kinderdae en gesels sy met oud-onderwysers en klasmaats oor hul herinneringe aan haar. Elmari Rautenbach gesels in nog ‘n Volksblad-artikel met die toneellegende Pieter Fourie en die akteur André Stoltz oor De Wet se merkwaardige teaterloopbaan.

Johann de Lange het ‘n gedig vir De Wet op sy blog geskryf en Leon Rousseau vertel in Rapport van sy verwantskap met De Wet wat via Eugène Marais geloop het. Hulle het vermoed dat sy miskien as medium vir die afgestorwe Marais opgetree het. “Mens hoef nie sélf heldersiende te wees om te vermoed dat daar donker dieptes in Reza was nie. Sy was egter te bedagsaam om ander daarmee op te saal,” skryf Rousseau:

Was Reza de Wet die grootste dramaturg in Afrikaans? Ek weet nie. Ek weet net haar werk is verskeie kere bekroon, onder meer twee keer met die Hertzogprys.

Ek was baie verlangs deur ’n huwelik aan haar verwant. In haar 59 jaar het ek haar seker minder as 10 keer in lewende lywe gesien. Tog voel dit asof ek ’n ou vriendin verloor het.

Johann de Lange se gedig vir De Wet:

Na ‘n idee van Charlotte Mew
(vir Reza de Wet)

Ek onthou vele vertrekke,
& elkeen speel sy part

Pieter Fourie en André Stoltz onthou De Wet:

“Sy het, soos die oumense gesê het, standing gehad,” het die toneellegende Pieter Fourie gister gesê toe hy hoor die bekroonde dramaturg Reza de Wet (59) is oorlede.

De Wet is in Oktober verlede jaar met leukemie gediagnoseer en vroeg gisteroggend in haar slaap in haar huis op Grahamstad dood. Sy was ’n baie private mens en het nie eens haar telefoon die afgelope maande beantwoord nie. Twee niggies het haar help versorg.

Oud-onderwysers en klasmaats bied ‘n kykie na die jong De Wet:

Vrystaats was haar agtergrond beslis en sowel Reza as ek is op Senekal gebore. Ek onthou goed die mooie kind wat by haar ouma en oupa op die dorp kom kuier het.

Oom Pierre Rossouw was maar eintlik haar oupa en tannie Freddy, formidabel aantreklik, was regtig haar ouma. Sy het selfs ’n maand lank op Senekal skoolgegaan, want haar ouers is oorsee en sy het by haar ouma gaan bly. Mev. Elsa Krantz sê die Sub A’tjie was toe al ’n “eenlingetjie”, wat nie juis met ander kinders gespeel het nie, maar sy was baie intelligent.

Boekbesonderhede

Foto te danke aan Volksblad


» read article

Bekroonde dramaturg Reza de Wet sterf

Die seeDie dramaturg Reza de Wet is oorlede. Sy het aan kanker gely.

Protea Boekhuis was bevoorreg om verlede jaar haar liriese stuk, Die see, uit te gee. Hierdie drama het in talle opsigte ‘n kroon gespan op haar werk. Ten eerste het die stuk haar kwarteeu in die teaterbedryf gevier. Meer nog, De Wet, wat die Hertzogprys al twee keer verower het, was vir baie lank nie op die verhoog nie, maar in Die see het sy weer self die kollig betree.

Die stuk handel oor drie slawevroue wat opgelei word as courtisanes vir die Nederlandse bevelvoerder aan die Kaap.

De Wet het verlede jaar aan Daniel Hugo, wat Die see vir Protea versorg het, genoem dat dit ook haar laaste stuk sou wees. Sy het reeds in 2007 amptelik afgetree as professor in drama aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad.

Reza de Wet word oorleef deur haar man Lindsay Reardon.

Sy sal baie lank onthou word deur liefhebbers van die drama.

Boekbesonderhede

Foto te danke aan Die Burger


» read article

Die see, ‘n drama deur Reza de Wet, verskyn in druk

Die seeVroeër vanjaar was Reza de Wet vir die eerste keer in 20 jaar op die verhoog te sien in haar toneelstuk, Die see, wat by die KKNK opgevoer is. Hierdie drama is nou in boekvorm deur Protea Boekhuis uitgegee:

Die see is ’n liriese toneelstuk waarin aanvaarding, ontnugtering en hoop stem kry in drie slawevroue wat in die tyd van die VOC as courtisanes vir die bevelvoerder van Die Kasteel opgelei is. Terwyl die kanonvuur op die agtergrond ’n nuwe bestel aankondig, word die gehoor as ’t ware saam met dié drie vroue in ’n kerker opgesluit. Die donker omstandighede van die hede word telkens gekontrasteer met die sonnige verlede.

Met Die see het Reza de Wet haar kwarteeu in die Suid-Afrikaanse teaterwêreld gevier.

Oor die outeur

Reza de Wet (1952) is op Senekal in die Vrystaat gebore. Sy is ’n veelbekroonde dramaturg aan wie die Hertzogprys al twee keer toegeken is. In Die see het sy vir die eerste keer in jare weer as aktrise op die verhoog verskyn. Sy het ’n meestersgraad in die Engelse letterkunde en het in 2007 uitgetree as professor aan die dramadepartement van die Rhodes Universiteit in Grahamstad. Sy en haar man, Lindsay Reardon, woon sedert 1982 op Grahamstad.

Boekbesonderhede


» read article

Om te publiseer of nie? Willem Anker en Malan Steyn gesels oor Skrapnel en Johnny is nie dood nie

Willem Anker en Malan Steyn

SkrapnelJohnny is nie dood nieDit is vir die dramaturge Willem Anker en Malan Steyn belangrik dat dramas ook in boekvorm gepubliseer moet word, sodat mense dit kan lees.

“Daar moet ‘n soort argief wees,” het Anker Saterdag in gesprek met Daniel Hugo by Protea Boekwinkel op Stellenbosch gesê. Anker se drama, Skrapnel, en Malan Steyn s’n, getiteld Johnny is nie dood nie, is twee van die enkele Afrikaanse dramas wat in druk verskyn. Dit is onlangs deur Protea Boekwinkel uitgegee.

Malan het Anker se standpunt beaam. Hy meen dat daar beslis te min dramas gepubliseer word. “Dis asof ons hierdie gaping in ons literatuurgeskiedenis het, want daar is nie ‘n rekord van ons toneelstukke nie.”

Die argument bestaan dat dramas opgevoer en nie gelees moet word nie, maar Steyn het gesê dat hy nogal daarvan hou om dramas te lees. Daarom gee hy ook duidelike verhoogaanwysings in Johnny is nie dood nie, ter wille van die leser.

Anker het wel tydens die gesprek erken dat dit hom ‘n bietjie senuweeagtig maak om sy werk in druk te sien. “Een van die dinge wat ek eintlik van teaterwerk hou, is dat dit gou verdwyn!”

Skrapnel en Johnny is nie dood nie kom albei in aanmerking vir die 2012 Hertzogprys wat jaarliks om die beurt deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken word vir poësie, drama en verhalende prosa – in dié volgorde. Slegs gepubliseerde dramas word oorweeg.

Johnny is nie dood nie is oorspronklik met die titel Eet Alles opgevoer. Dit speel af ná die dood van Johannes Kerkorrel en fokus op die ontnugtering wat gevolg het nadat die ideale van die Voëlvry-beweging uiteindelik grotendeels op voorstedelikheid uitgeloop het. Steyn meen Johnny is nie dood nie, die titel van ‘n Koos Kombuis-lied, pas beter by die drama en daarom is dit onder hierdie titel uitgegee.

Skrapnel speel af in 2005 tydens die selfmoordbomaanval in die Londense metro. Die hoofkarakter, ‘n Suid-Afrikaner, is besig om te sterf en dink na oor sy lewe. Die vloeibaarheid van die Suid-Afrikaner se identiteit word met die sekerheid van die Moslem-selfmoordbomdraer s’n gekontrasteer. Skrapnel was die ontvanger van die 2009 Anglo Gold Ashanti / Aardklop Smeltkroesprys (teks), die 2009 Beeld Plus Aartvarkprys (regie en ontwerp) en die 2010 ATKV Woordveertjie-toekenning vir dramatekste.

* * * * * * * *

Carolyn Meads het regstreeks vanaf die geleentheid met #livebooks getwiet:


Ek is by die gesprek met Willem Anker en Malan Steyn oor hul dramas Skrapnel en Johnny is nie dood nie by Protea Boekwinkel #livebooksSat Oct 08 09:06:33 via Twitter for iPad


Daniel Hugo in gesprek met Willem Anker en Malan Steyn oor hul dramas uitgegee deur @ProteaBoekhuis http://t.co/eG41NuT3Sat Oct 08 09:10:41 via Twitter for BlackBerry®


Anker: Dis belangrik om drama te laat publiseer, want vorm van argief #livebooksSat Oct 08 09:11:43 via Twitter for iPad


Anker: Alhoewel een van die goed wat ek hou vn drama is dat dit gou verdwyn. Nogal intimiderend om gepubliseer te he #livebooksSat Oct 08 09:12:51 via Twitter for iPad


Steyn: Dis asof ons hierdie gaping in ons literatuur geskiedenis het, want daar is nie ‘n rekord van ons dramas nie #livebooksSat Oct 08 09:14:13 via Twitter for iPad


Steyn: Weet daar is die argument dat dramas opgevoer en nie gelees moet word nie, maar ek hou nogal daarvan om dramas te lees #livebooksSat Oct 08 09:15:16 via Twitter for iPad


Skrapnel verwys ook spesifiek na die vlees van mense wat opgeblaas is wat saam met skrapnel onder jou eie vlees kom sit #livebooksSat Oct 08 09:22:45 via Twitter for iPad


Hugo oor opening van Steyn se drama: “Die eerste verhoogaanwysing is baie poëties” #livebooksSat Oct 08 09:29:17 via Twitter for iPad


Steyn: Dink verhoogaanwysings belangrik vir leser alhoewel wil nie vir regisseur voorskryf nie #livebooksSat Oct 08 09:30:56 via Twitter for iPad


Hugo: Anker gebruik minder verhoogaanwysings, maar sy teks is ook baie poëties #livebooksSat Oct 08 09:31:39 via Twitter for iPad


Anker het ook ‘n roman, Siegfried. Wanneer drama skryf, bewus dat gestilleerd is, elke toneel geraam #livebooksSat Oct 08 09:33:06 via Twitter for iPad


Na ‘n paar vrae uit die gehoor, kom die gesprek tot ‘n einde #livebooksSat Oct 08 09:37:35 via Twitter for iPad

* * * * * * * *

Facebook galery

Boekbesonderhede


» read article

Gesprek by Protea Boekwinkel: Willem Anker en Malan Steyn oor Skrapnel en Johnny is nie dood nie

SkrapnelJohnny is nie dood nieJy word hartlik uitgenooi om Saterdag, 8 Oktober 2011 te kom luister wanneer Willem Anker en Malan Steyn met Daniel Hugo by Protea Boekwinkel in gesprek tree oor hul dramas Skrapnel en Johnny is nie dood nie.

Albei dramas het onlangs in boekvorm by Protea Boekhuis verskyn.

Moet dit nie misloop nie!

 

Besonderhede van die geleentheid

Boekbesonderhede


» read article