Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Fiction’ Category

Franz Marx bespreek sy debuutroman, Johannesburg se onderwêreld, en die verminking van Afrikaans

Deur Mila de Villiers


’n Spieël is ’n vreemde ding, want in ’n spieël leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag.

Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.

Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieëlbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wêreldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Ons redakteur, Mila de Villiers, het onlangs met Franz Marx, die skepper van Egoli, dramaturg, en filmmaker, geklets oor sy debuutroman Spieëlbeeld, Johannesburg se onderwêreld, die kunsmatigheid van die samelewing, en – moontlik die mees pertinente deel van die gesprek – die verminking van Afrikaans:

Waar het jy met die idee vorendag gekom om ’n roman te skryf?

Ek het uit die film- en televisiewêreld uitgetree – weg. Maar mens moet jouself besig hou. En ek het dit geskryf want ek wil nie meer tekste skryf nie. So dit was ’n keuse, verhaal-gegewe. Soos wat ek gewerk het, deur my televisieloopban veral, was ek verantwoordelik vir verskriklik baie stories. Dis nou die een ding. Ek moes ’n laai gehad het met stories. Om jou ’n idee te gee – ek moes elke dag van my lewe voorsien vir Egoli. Egoli se stories het ’n hoof-storielyn gehad, dan het hy een van ’n periode van 40 stories, dan ’n substorie van 30, kleiner substorie van ’n episode vir 20 episodes en dan is daar die insidentele storielyn wat ’n dag of twee oorvat. Helfte van daai storie was gekoppel aan ’n karakter, anders was die spelers te veel gewerk. As ek aan ’n storie gedink het, het ek dit neergeskryf. Daar was ’n laai vol, want ek kon nooit uit ’n storie uithardloop nie. Ek het dialoogskrywers gehad, mense wat my gehelp het en gesê het “dis nou ’n twak ou storietjie wat jy hier uitgedink het” of “ja – dis nogal lekker, maar wil jy nie so kinkel daaraan gee nie?”

Een van die stories wat onvoltooid was vir my – dit was nie ’n Egoli storie gewees nie – een van daai stories wat iewers was, was hierdie ding. En hy het by my gekom oor die Lolly Jackson saak. Lolly Jackson – ek wil net dadelik sê dit is nie sy storie nie, hoegenaamd glad nie. Maar Lolly Jackson het vir my in sy wêreld ingevat en vir my gewys hoe werk alles en ons het ’n gemeenskaplike ding gehad oor karre. So ons het lekker gepraat. So het daai wêreld vir my – wat ’n vreemde wêreld was – op ’n manier vir my oopgemaak. Toe’s Lolly vermoor … En ek wou nie Lolly se storie nie- Hy het vir my sy boek gebring en gesê “jy moet ‘n film maak hiervan”, maar dit was nie verfilmbaar nie. Toe dink ek “oukei, ek sal die ding op sy kop draai en ’n storie maak oor die goed wat ingekom het” en basies net alles omgedraai.

Een lyfwag, oftewel bouncer, wie Marx destyds teëgekom het is “baie soos Joe, daai ritme van praat.

“Behalwe Joe is ’n ander karakter, hy kom uit Pretoria uit. Ek het hier [die Michelangelo Hotel in Sandton] gebly en dis waar hulle uitgehang het. Al die mense wat hier ingeboek het, het altyd hulle lyfwagte gehad. Dit is die plek waar ek vanoggend ontbyt geëet het, middagete, en aandete. Jy leer die mense ken. En dis waarvan die lyfwagte vandaan kom. Toe kom ek op Stellenbosch met niks om te doen nie, toe dink ek “ag, ek sal maar begin skryf aan ’n storie”. En ek wou nog altyd, maar ek het nooit die tyd gehad nie… Ek het gedink “skryf dan nou maar ’n dêm roman”. Maar dit was harde werk…

Hoe lank het jy hieraan geskryf?

Jy moet net onthou Virgilius het een sin ’n dag geskryf. Hierdie het my net langer as drie jaar geneem. Carla [Lang, sy uitgewer by Protea Boekhuis] het my so baie gehelp… Dis vir myself; ek het dit ook vir myself geskryf. Carla was soos ’n onderwyseres. Ek het haar baie waardeer, so ek hoop die boek is ’n sukses vir haar ook.

Is daar ’n spesifieke reaksie wat jy hoop deur die boek ontlok sal word?

Dis maar ’n onsekerheid, maar ek het al baie goed geskryf in my lewe, baie stories. Party het gewerk, party het nie gewerk nie. Ek het boek twee wat ek moet skryf; ek sal moet vinniger werk.

Word jy aangsepoor deur die slagspreuk “Werk want die nag kom nader”, of werk want die dood kom nader?

Die kop verdwyn! [Lag hartelik]

Mens leen maklik fiksie van nie-fiksie; hoeveel van die inhoud van die boek stem ooreen met jou eie lewe, of ervaringe?

Baie min. Die enigste ding – Carla sê altyd vir my “Oe, mens herken altyd die skrywer se stem wat dit beskryf” en dan sê ek “ek hoop nie sy herken my in Joe of herken my in Dolf nie”. Die enigste ding wat ek werklik gebruik het van my persoonlike lewe was my verjaardagdatum. [Marx verjaar op 21 Maart.] Daardie is ’n stukkie persoonlike – dit het dit maklik gemaak om die datum te gebruik. Die datum het ’n ander konnotasie. Kyk – dis die einde van iets en begin van die volgende, dis dag en nag ewening vir ons dwarsdeur die wêreld, en dit het my gefassineer. So dis die einde en die begin vir Dolf gewees. Dit het vir my nogal getrek. Maar dit is al wat ek bewustelik gedoen het – die Johannesburgse milieu het ek 50 jaar gelede in geleef. Dis nou waar ek bietjie wakker geskrik het, want alles verander toenemend. Die Butcher’s Grill bestaan nog … So ek het die milieu wat ek geken het gebruik. Dis beter om iets te skryf wat jy basies van weet.

Kon jy aanklank vind by enige van jou karakters? Het jy dit meer geniet om sekere karakters te skryf as andere?

Laat ek vir jou dit sê – wat die karakters betref – ’n storie is vir my nie ’n storie as dit nie ’n karakter is wat ontwikkel nie. So ek is altyd verlief op my karakters, verskriklik verlief. Ek raak verlief op my karakters en ek raak ook baie jaloers op hulle.

Hoe was dit om vrouens te skryf? Jy skryf nooit vanuit ’n vrou se oogpunt nie, en ek wil hulle nou nie beskryf as “randfigure” nie, maar…

Jy sit jou vinger op dit. Ek het my hele lewe nog nooit ’n storie – voor hierdie een – geskryf oor mans, vir mans nie. Alle films, alle televisiegoed se teikenmark is vrouens. Jy vertel jou storie uit die vrou se perspektief en as die storie by die vrou werk, dan geniet mans dit ook. En toe ek nou met hierdie ding kom, veral oor die milieu, het ek besluit “nee, nee, nee – dit moet uit die man se perspektief kom”. Daar’s genoeg vrouens wat dit uit ’n beter en makliker en meer oortuigende wyse, van binne af, kan skryf.

My vriendin Karin Eloff, sy’t Stiletto geskryf en het ’n inset daarin gehad, maar so ek is baie lief vir die vrouens en hulle het vir my ’n goeie lewe gegee … Maar dit is teiken, Egoli was ’n teikengehoor – dit was ’n opdrag van MNet gewees; dit was vrouens. Tussen 35 en 45 jaar oud …. Hulle’s getroud, hulle het twee kinders, ek kan hier met jou in die straat loop en sê “daar gaan sy, daar loop sy”. Ek het geweet wat sy koop by Thrupps, ek het geweet haar man is ’n prokureur …

Jy moet die mark baie goed ken. En al die ander – Agter Elke Man was vir vrouens. Die skool daar selfs was vir die vrouens, die kinders en toe nou hierdie ding – toe dink ek nou, try nou ’n man se storie vir mans skryf. En dis waarvoor ek die heeltyd bang is. Want vrouens lees; hulle doen alles. Die vrouens besluit watter programme gekyk word in hulle huis, die vrouens is die lojale kykers van stories, behalwe die sport, en die vrouens bepaal die vermaaklikheid van die huis. Die vrou sê ”ons gaan na daai teaterstuk toe”, die vrou sê ”ons gaan daai rolprent kyk”. Dis die invloed van die vrou. Ek dink die meeste boeke word gekoop deur vrouens; ek dink die meeste boeke word geskryf deur vrouens.

 Joe se taalgebruik het my bygeval. Hy meng sy taal iets verskriklik en gebruik gereeld sy eie, “Centurion-esque” weergawe van woorde. Hoe, aangaande sy woordeskat, het jy daarin geslaag om hierdie karakter, op ’n egte wyse sonder om ’n bespotting van hom te maak, te skep?  

Hulle praat deesdae so. Kyk kykNET – kyk as hulle met enige van die jong sangers ’n onderhoud voer, kyk net – dan sal jy dieselfde taal hoor. Dit is verskriklik. Joe se tipe taalgebruik pas pas in daai milieu in, as jy in gimnasiums ingaan  waar die mans gaan  oefen, dan hoor jy dit. Dit is ’n effense lae ding. Joe het nooit matriek gemaak nie en daarna is hy na die polisie korps. Hulle het swagger. Dis daai tipe ding.

Iets waaroor ek en die uitgewers die heeltyd oor gepraat het was my oortuigings dat hierdie mengeltaal wat die taal so bevuil – daar’s nie ’n ander woord om dit voor te gebruik nie ; die taal bevuil -  is nie Engels nie, dis Amerikaans. Dis Amerikaanse slogans, dis Amerikaanse “wyshede” wat deur televisie, films en musiek opgeneem word en sommer net gebruik word as ‘n “with-it” ding deur tieners. En dit het nou ingeburger geraak. En ons sê dis ’n mengeltaal tussen Afrikaans en Engels – die Engelse gebruik nie ’n woord soos “amazing” nie, of dis “cool”, of enigiets van die aard nie. En ek wou gehad het hulle moes die Amerikaanse spelreëls vir die storie gebruik en daar het hulle my gesê “nee”. Hulle het my toe op die ou-end oortuig, maar eintlik is dit waarheen mens op pad is.

Dink jy so? Dat Afrikaans so gaan verval?

Ek dink hy het klaar so verval. Ten minste glo ek dat die rooiligte… dit het niks met die Taalstryd uit te waai nie, dit is ’n ander storie – hierdie is ’n bydraende storie. Ek het vreeslik baie argumente met mense wat in die taal werk. Ek dink nie dit is ’n ontwikkeling in die taal nie, ek dink dit is teen-produktief, want dit verskraal. Ek het vir Joe ’n woordeskat van 800 woorde gegee. Dis nie eers ’n taal nie. Ons kan duisende woorde gebruik. Afgesien daarvan, die karakters is vir my tipies soos wat ek hulle hier ontmoet het en leer ken het en met hulle gepraat het, en dan probeer ek hulle reg Afrikaans leer – maar dit het nie gewerk nie. Daar is ’n metafoor in die storie; daardie taalgebruik maak goeie taalgebruike waarskynlik dood.

Geen van die Engelse woorde is in skuinsdruk geskryf nie. Is dit met opset gedoen?

Dit was met opset, want die mense praat nie in skuinsdruk nie, vir hulle is dit normale Afrikaans. As ’n skrywer het ek my voet neergesit – dit moet gewoon vol deurgaan. Dit is soos die mens praat, hy vertel sy storie in die eerste persoon, en dis hoe hy dit sal vertel.

Jy bedank onder meer patoloë en geweerdeskundinges wat vir jou raad gebied het. Het jy baie hulp nodig gehad met die navorsing?

Mens het altyd. Ek het mense mal gemaak, want dan verstaan ek dit nie eintlik nie. Ek het ’n seun wat ’n skut is, so dit het my nogal ’n bietjie gehelp, maar, ja, die navorsing daar was verskriklik. Dis een van die goed waarom dit stadig gegaan het, want in my vorige lewe – soos byvoorbeeld in Egoli – het ek assistente gehad. Ek het vir hulle gesê “hoor hierso, wat is ’n tipiese pistool wat ek kan gebruik vir ’n moord pleeg?”. Dan sal iemand sê ”Glock”.  Hulle gaan vind vir my alles uit, bring als vir my, en sal daarna kyk. Nou moet ek self daai blêrrie goed gaan doen. As ek nou weer ‘n storie skryf, moet daar geen navorsing wees nie. Dit hou my te veel op.

Was dit meer van ’n uitdaging gewees om die navorsing te doen as om die eintlike storie te sit en skryf?

Selle, selle, selle. Oor die kléinste goed. Die kléinste goedjies. Ewe skielik sê jy “oeps, werk dit rêrig so?” Dis fiksie, dis nie ’n dokumentêre… Dit moet darem so wees dat iemand nie sê ”Nee, jirre, nou lieg jy maar verskriklik” … Dis die navorsing.

Die titel “Spieëlbeeld” is interessant aangesien ’n spieël ’n  dubbelsinnige voorwerp is, waarin weerkaatsings  letterlik in teenoorgestelde beelde verskyn, tog word ’n spieël ook gebruik as ’n voorwerp waarin jy jou bewonder (soos gesien in die geval van Joe, veral). Kan jy dalk bietjie uitbrei oor die dubbelsinnigheid van jou karakters sonder om te veel te verklap?

Die twee karakters [Dolf en Joe], op ’n vreemde manier, is verwronge beeld van die ander. So, Dolf kan ook ’n verwronge beeld wees van Joe se pa. Die milieu waarin ons woon hier is een van glas. Kyk om jou [Marx beduie na die binnehof van die sierlike Michelangelo Hotel] – jy sien net spieëls; dis waarin jy leef, daar’s niks warms nie, daar’s niks toegeneentheid nie. Dit is waarin die storie hom afspeel, in die spieël – jy kan nie aan ’n ding vat. Dit het my nogal lankal as ’n soortvan omstandigheid waarin ons leef …  Dolf leer ons ken voor die spieël, maar as jy Joe die eerste keer sien, sal jy sien hy sit op ’n blink stoep waarop alles terug weerkaats. Op ’n ander stadium sê iemand vir Joe hy lyk soos ’n bobbejaan, hy’t gekyk in die spieël – hy lyk nie so nie. Jy kan dit nie ontsnap nie en dis nie die werklikheid – en dis baie kunsmatig.

Is daar moontlik ’n vraag oor die inhoud van jou boek wat jy gebrand om gevra te word?

Oor die taal. Ek sou graag dat die mense die bedoeling van daai taal as ’n waarskuwing lees. Ons verstaan dit as “cool” as ons ons eie taal met ander tale vermink, en ek praat nie van leenwoorde nie. Ek is nie anti-Engels nie, ek is verskriklik pro-Engels. Dit is net vir my onaptytlik lelik. Ek sit en kyk na Afrikaans, ek hoor dit oor die radio en dit gryn my. Mens probeer dit doelbewus vermy om jou taal te meng, maar mens moenie. As jy Engels praat, dan probeer jy dit nie vermy nie.

Boekbesonderhede


» read article

Franz Marx se eerste roman tref die rakke!

’n Spieël is ’n vreemde ding, want in ’n spieël leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag.

Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.

Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieëlbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wêreldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.

Franz Marx is ’n bekroonde akteur, draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger met verskeie films, televisiereekse, enkeldramas en minireekse agter sy naam. Hy is ook die skrywer en vervaardiger van Suid-Afrika se eerste sepie, Egoli: Plek van Goud. Sy talle toekennings sluit in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se SAUK-prys vir Televisiedramas vir die draaiboek van Die buitestaander (1986), asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Rolprentkuns (1995).

Boekbesonderhede


» read article

Van kant gemaak vertel ’n broeierige verhaal vol dorpsgefluister wat tydens die Eerste Wêreldoorlog afspeel

Van kant gemaakIn België loop die negentiende eeu ook ten einde. Elisabeth, die dogter van die smid, trou met die jong dokter, Guillaume Duponselle. Dit sal nie ’n gelukkige huwelik word nie. As Elisabeth agt maande later aan ’n tweeling geboorte skenk, is die eersgeborene ’n pragtige seun, Valentyn. Die tweede kind is so mismaak dat Guillaume weier om hom ’n naam te gee.

Tog bly Naamloos lewe. Omdat sy voorkoms sy vader en die dorpenaars ontstel, gaan Naamloos gesluierd deur die lewe. Dan tree die Eerste Wêreldoorlog op die toneel.

Van kant gemaak vertel ’n broeierige verhaal vol dorpsgefluister. Vir almal verloop die toekoms anders as wat hulle verwag.

OOR DIE OUTEUR
Kris van Steenberge (1963) is (toneel)skrywer, regisseur en dosent. Stories van sy oupa, wat by hulle ingewoon het, oor die “Groot Oorlog” vorm die kiem vir sy debuutroman Woesten. Sy tweede roman, Blindelings, het in 2016 verskyn.

OOR DIE VERTALER
Fanie Olivier is ’n bekende Afrikaanse digter en akademikus, maar ook joernalis en regsgeleerde. Hy het ses digbundels gepubliseer en was die samesteller van drie ander, waarvan Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte reeds vyf uitgawes gehad het. Die Nederlandse Reina Prinsen-Geerligsprys is aan hom toegeken vir die manuskrip van sy eerste, gom uit die sipres. Naas sy studiejare in Utrecht, het hy ook vir die grootste deel van sy akademiese loopbaan kontak met Nederlands behou as dosent in Nederlandse letterkunde. Hy het in hierdie proses heelwat Nederlandse poësie vertaal, maar dit nooit gepubliseer nie. As deel van sy werk as besoekende professor by die Adam Mickiewicz-universiteit in Pole tussen 2004 en 2016, het hy ook begin met ’n projek om Poolse gedigte saam met studente in Afrikaans te vertaal. Naas enkele vroeëre gepubliseerde vertalings uit Engels, was hy ook verantwoordelik vir die vertaling van J.M. Coetzee se Disgrace.

Boekbesonderhede


» read article

Die debuutroman van ‘Nederland se Jonathan Franzen’ is pas in Afrikaans vertaal

Die lewenslustige Siem Sigerius is ’n briljante wiskundige, kranige judoka, rektor magnificus van die Universiteit van Enschede, en daar wink ook vir hom ’n belowende toekoms in die politiek. Sy vrou, sy pragtige, intelligente stiefdogters en ’n gemaklike, pastorale huis op die platteland voltooi die beeld van idille en sukses.

Wanneer Sigerius egter agter die kap van die byl van sy stiefdogter Joni se duistere bedryf kom en sy misdadige seun boonop ook nog sy opwagting maak, dreig alles in sy idilliese bestaan om op katastrofiese wyse te ontplof.

Die kaleidoskopiese sederoman Bonita Avenue verhaal die ondergang van die Sigerius-gesin teen die agtergrond van Enschede se vuurwerkramp in 2000. Peter Buwalda se debuutroman is ’n portret van ’n era wat die gaping tussen generasies op meesleurende wyse aanpak.

Peter Buwalda is ’n Nederlandse skrywer en redakteur by verskeie uitgewershuise. Hy is een van die stigters van die literêre tydskrif Wah-Wah. Bonita Avenue is sy debuutroman en is deur die Nederlandse uitgewershuis De Bezige Bij gepubliseer.
 

Zandra Bezuidenhout behaal in 2005’n doktorsgraad in eietydse poësie van Afrikaans- en Nederlandstalige vroue. Sy werk onder meer as vertaler, onderwyser en deeltydse dosent, en tans as vryskuttaalpraktisyn. Haar debuutbundel Dansmusieke (2000) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon en die tweede bundel Aardling verskyn in 2006 by Protea Boekhuis.

Boekbesonderhede


» read article

Cas Wepener se Johanna ’n aangrypende roman oor die impak van een vrou se lewe binne ’n beperkte milieu en kultuur

Johanna van Cas Wepener is ’n roman oor die dood van ’n vrou, Johanna, en haar impak op die mense rondom haar se lewens. Johanna is lesbies in ’n tyd waar dit in die George waar sy grootword en meeste van haar lewe woon, nie sosiaal aanvaarbaar is nie.

Die verhaal word geskryf vanuit verskillende perspektiewe: Vanuit haar geliefde Muriel se oogpunt, haar wyse bediende Nonna, haar suster, haar dominee en haar susterskind Willie. Hulle almal probeer haar dood verwerk en sin maak van sekere dramatiese gebeurtenisse in haar lewe as klein dogtertjie.

Johanna is ’n aangrypende roman oor die impak van ’n lewe binne ’n sekere milieu en kultuur. Dit getuig van goeie vakmanskap en ’n fyn aanvoeling vir menseverhoudinge, omgewing en atmosfeer.

Cas Wepener (1972) is sedert Julie 2010 aangestel as professor aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van talle akademiese en populêre artikels, asook ’n boek Aan tafel met Jesus en ’n bundel liturgiese voorstelle, Soos ’n blom na die son draai (2011). Sy bundel kortverhale Dubbelfoto het in 2000 by Protea Boekhuis verskyn en sy debuutroman Syferfontein in 2016. Syferfontein is vir die UJ prys vir skeppende skryfwerk genomineer.

Boekbesonderhede


» read article

Verwerkte weergawe van Leon van Nierop se Doodloopstraat tref die rakke

DoodloopstraatSy draai stadig om. “Hy is die doodsengel.”

“Ekskuus?”

“Die dood trap elke dag in sy spoor,” sê sy sag. “Oral waar hy gaan, sal die dood hom inhaal. Hy kan nie meer daarvan vlug nie. Sy tyd het aangebreek.”

Lourens Schoeman veroorsaak ’n beroering met sy aankoms op ’n dorpie in Botswana. Die gemeenskap wonder hoekom die aantreklike jong man ’n pak klere dra ten spyte van geweldige hitte en waarom daar soveel hartseer in sy oë skuil. Maar hy swyg soos die graf oor sy verlede. Toe Elzaan Jonker dit regkry om Lourens effens beter te leer ken, besluit sy om ondersoek in te stel. Sy is vasbeslote om uit te vind wat hom jaag en hoekom ’n plaaslike inwoner glo dat hy die doodsengel is.

Doodloopstraat het oorspronklik in 1997 as ’n vervolgverhaal in Keur verskyn, en is in 2002 as roman gepubliseer. Hierdie boek is ’n verwerkte weergawe van die 2002-publikasie.
 
 
 
Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, skrywer van romans, radio- en televisievervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling en die draaiboeke van die roplrente gebaseer op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprent op.

Boekbesonderhede


» read article

Fantasie-liefhebbers kan nou Die hobbit in Afrikaans lees

Wanneer Bilbo Baalens uit sy gerieflike hobbitgat weggevoer word deur Ghandalf die towenaar en dertien vrypostige dwerge, word hy onverwags meegesleur in ’n samesweerdery om die dwerge se verlore skatte terug te steel by Smaug die Vreeslike: ’n reusagtige en baie gevaarlike draak…

Die hobbit is al vir tagtig jaar lank een van die mees geliefde fantasieverhale ter wêreld en word met reg as ’n klassieke werk beskou.

“’n Knapgeskrewe sage oor dwerge en elwe, vreesaanjaende aardgeeste en trolle.” Observer

“’n Foutlose meesterstuk.” The Times

J.R.R. Tolkien is in 1892 in Suid-Afrika gebore. Nadat hy as luitenant in die Eerste Wêreldoorlog gedien het, het hy hom as akademikus onderskei en word gereken as een van die beste letterkundiges in die wêreld. Hy het verskeie professorate beklee en is talle kere bekroon. Hy is in 1973 oorlede. The Hobbit, professor Tolkien se debuutwerk, is die eerste deel van die verhaal wat in die drie volumes van The Lord of the Rings hervat en voltooi word. In die 1930’s het Tolkien die verhaal van The Hobbit aan sy kinders begin vertel – na publikasie was dit onmiddellik suksesvol. Die boek is wyd vertaal en was sedertdien nog nooit uit druk nie.

Janie Oosthuysen is ’n gerekende naam in Suid-Afrikaanse vertalerskringe en met meer as 300 publikasies agter haar naam ook skrywer in eie reg. Haar werk is al verskeie kere bekroon, onder andere met die SAVI-toekenning en die Akademie-prys vir haar Harry Potter-vertalings, asook die ATKV-prys en die C.P. Hoogenhout-medalje vir kreatiewe skryfwerk. Sy het ook by ’n aantal internasionale konferensies opgetree, soos die Harry Potter-vertalers-konferensie in Parys, die SCBWI-konferensie in Goudini en die UNESCO-skryfskool in Windhoek.

Boekbesonderhede


» read article

Die span is vasbeslote om ’n stokkie voor ’n wrede kewermodebaas se planne te steek in die tweede boek in M.G. Leonard se kewertrilogie

Wrede kewermodebaas Lucretia Cutter het ’n plan om die wêreld voor haar kewerkloue te laat buig.

Hierdie keer behels dit ’n besoek aan die jaarlikse Filmtoekennings in Los Angeles, ’n stel pragtige maar gevaarlike kewerrokke vir bekende aktrises en ’n weermag van bose lieweheersbesies.

Darkus, Virginia en Bertold is vasbeslote om ’n stokkie voor haar planne te steek, maar Darkus se pa het hom verbied om verder ondersoek in te stel, die gruwelike skelms, Humphrey en Pickering is weer uit die tronk en die kewers van Kewerberg se lewens word ernstig bedreig.

Hierdie is die tweede boek van die kewertrilogie van die jong skrywer M.G. Leonard. Dit is vertaal deur Kobus Geldenhuys.

M.G. Leonard is ’n skrywer van boeke, gedigte en draaiboeke. Sy het ’n honneursgraad in Engelse letterkunde en ’n MA in Shakespeare Studies van King College in Londen. Sy werk in Londen as ’n senior digitale regisseur vir die Nasionale Teater, en was voorheen werksaam by die Royal Opera House en Shakespeare’s Globe. Sy was ook vroeër betrokke by die musiekindustrie en het as akteur en regisseur opgetree voordat sy besluit het om haar stories neer te skryf. Sy woon in Brighton saam met haar man en twee seuns.

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboekvertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015). Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Boekbesonderhede


» read article

Boekbekendstelling: Die Bergengel deur Carina Stander

Protea Boekhuis nooi u vriendelik uit om die boekbekendstelling-met-kuns van Carina Stander se nuwe publikasie, Die Bergengel, oor ‘n glasie wyn en ‘n versnapering te vier.

Matthys Boshoff gaan die gespreksleier wees.


» read article

Carina Stander se Die Bergengel ’n allegoriese fantasieverhaal van grootword

“ … daar is sekere vermoëns wat alle Bergengele oor alle eeue heen in hul wese moes inweef. Vermoëns soos die Dissipline van Feesviering (om elke klein vredesverdrag te vier), die Dissipline van Geheimhouding (om vir twee dekades aaneen die nasie sonder erkenning te dien, vermom as gewone werker) en die Dissipline van Gemeenskap en Afsondering.

Vir ’n Bergengel is daar altyd die wisseling tussen binne en buite: of hy is ’n alleenloper wat tevrede is met sy eie geselskap, maar deur meegevoel gedryf word na die trop, of hy is ’n kuddewese wat moet leer om gelukkig te wees as ’n eenkantling.

Om ’n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van ’n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms.”

In Gabriëllië het nege jaar reeds verloop sedert daar enige teken was van ’n Bergengel en glo die jonger generasie byna nie meer aan die bestaan van dié mitiese kreature nie.

Eron Verberger, seun van die klokmakersegpaar Gibor en Alida Verberger, word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie én werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op ’n lewensveranderende avontuur vertrek.
 
 
Wie is die misterieuse Reënboogmaker met wie hulle pad elke nou en dan kruis?

Is die brande wat deur die land trek werklik net vure van vernuwende “skoonbrand”, soos die Regiohoofde beweer, of is dit die gevreesde Vuurstorms waarvan die geskiedenis vertel?

’n Mistieke en allegoriese fantasieverhaal van grootword en groei wat tot volwasse sowel as jong volwasse lesers sal spreek.


Carina Stander
is benewens gepubliseerde skrywer en digter (Die vloedbos sal weer vlieg (2006), woud van nege en negentig vlerke (2009) en Wildvreemd (2011)) ook ’n talentvolle kunstenaar met ’n honneursgraad in Beeldende Kunste. As vryskutjoernalis vir onder andere Finesse en Lééf het sy reeds twee Media24-toekennings ingepalm en haar reisartikels verskyn gereeld in tydskrifte soos soos Weg! en Sarie. In 2016 het ’n vervolgverhaal uit haar pen, “Die naakte waarheid”, in Beeld verskyn. Sy woon in die Tsitsikamma saam met haar man en twee seuns.
 

Bergengel

Boekbesonderhede

 
 
 

Die vloedbos sal weer vlieg

Boekbesonderhede

 

Woud van nege en negentig vlerke

Boekbesonderhede


» read article