Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Short stories’ Category

Die groot sand en ander stories: Kortverhale deur die meesterverteller Doc Immelman

Die groot sand en ander storiesDie groot sand en ander stories deur Doc Immelman is nou by Protea Boekhuis beskikbaar:

In Die groot sand en ander stories kry die leser die geleentheid om verhale te lees wat onder meer in Ster, Die Brandwag, Republikein en Huisgenoot verskyn het. Die titelverhaal, Die groot sand, speel af in die genadelose Namibwoestyn waar twee diamantsmokkelaars hul buit gaan haal. Ná ’n moordende staptog kry hulle die diamante, maar ’n sandstorm steek op. Onder die gekerm en geloei van die wind besef een van die smokkelaars dat daar net genoeg water oor is vir een man… Trek die koffiekan nader en lees ook oor ’n olifantjag in Angola, oor die vul wat treine gejaag het en die fabel oor die leeumannetjie wat Oukat moes opvolg.

Oor die outeur

Meer as 40 boeke het uit die meesterverteller Doc Immelman (1928–2013) se pen verskyn. Sy liefde vir Namibië en sy kennis van en liefde vir jag vind in byna al sy verhale neerslag – en sorg vir ’n tydlose soort ontspanningsliteratuur wat by gevestigde aanhangers van sy boeke sowel as nuwe lesers sal aanklank vind.

Boekbesonderhede


» read article

Wicus Luwes ondersoek die konsep “spoorsnyer” in Heilna du Plooy en GR von Wielligh se werk

Versamelde BoesmanstoriesIn die landskap ingelyfIn ‘n inskrywing op Versindaba stel Wicus Luwes ondersoek in na die kuns en betekenis van spoorsny, met verwysing na die werk van Heilna du Plooy en GR von Wielligh.

In die artikel bespiegel Luwes oor die nomadiese eienskappe van die San en hoe ons meer oor hulle te wete kan kom, asook oor die skrywer as spoorsnyer. In sy soektog na die San volg Luwes nie net fisiese spore nie, maar raadpleeg hy ook stories wat spore agterlaat.

Luwes vind hierdie spore in Von Wielligh se stories in sy bundel, Versamelde Boesmanstories 1:

“Die verhale van die San is ’n verdere manier om die spore van die spoorsnyers te volg:

“Ou ‘Ga (Nag) en sy ou vrou ‘Gagen (Duisternis) het in ’n klipspelonk gewoon. Hulle het nie seuns gehad nie, maar drie dogters.”

“Kou, die oudste van die drie dogters, is in die berge verander. Haar man, die seun van Hottentotsgot, is verander in ’n voël, of windvoël.”

Luwes spekuleer oor die skrywer as spoorsnyer: “Om spoor te sny deur die gedagtes of drome verg ander vaardighede, maar gelukkig oorvleuel heelwat van die sintuie. Die skrywer as spoorsnyer moet ook die habitat leer ken en weet waar om die wippe of droomvangers vir hierdie doeleinde op te hang.”

Heilna du Plooy se gedig “In hierdie land” wys hoe die skrywer spoorsny. “In hierdie land” verskyn in haar bundel, In die landskap ingelyf:

hoe gelukkig golf verdrukking oor die land
al op die een voet, dan op die ander een

die smart elke keer ’n huppelende band
al op die een voet, dan op die ander een

rooi uitgeflap vanaf die Kaap, die Baai tot in Ixopo
al op die een voet, dan op die ander een

in elke dorp en stad tot in die bog van die Limpopo
al op die een voet, dan op die ander een

Boekbesonderhede


» read article

Potgooi: Susan Beyers lees “Tant Martjie” uit Amper my mense deur Dot Serfontein

Vertel! Vertel!Amper my menseTer viering van Dot Serfontein se nege-en-tagtigste verjaardag het Margot Luyt vir Susan Beyers genooi om een van Serfontein se kortverhale voor te lees op die RSG-program, Kortom.

Luister na die potgooi waar Beyers een van die verhale uit Serfontein se bundel Amper my mense voorlees. Die verhaal se titel is “Tant Martjie”:

Boekbesonderhede


» read article

Cas Wepener gesels oor Dubbelfoto en predikant-skrywers in die Afrikaanse kanon

DubbelfotoCas Wepener se bundel kortverhale, Dubbelfoto, bevat ‘n versameling verhale wat ’n familiegeskiedenis uitbeeld. Wanneer Wepener nie skryf nie praktiseer hy as predikant in die NG Kerk. Die Kerbode het met hom gesels oor sy debuut-kortverhaalbundel, waarom hy juis kortverhale skryf en sy sprong van dramastudies na die Kweekskool.

Die onderhoudvoerder vra onder meer ook uit oor die feitlikheid van Wepener se verhale, waarop hy antwoord: “Dubbelfoto is fiksie, dat ek wel uit ’n Afrikaanse familie kom wie se wortels ook in die Oos-Kaap lê, is nie fiksie nie, maar ek wou nie ’n boek oor myself skryf nie.”

Wie is Cas Wepener?

Ek is Clara se man en Aloise, Adriana en Casper se pa. Verder is ek ’n voltydse dosent en laat nie ’n dag verbygaan dat ek nie iets, wat ook al, (her)skryf nie.

Daar is baie predikante wat skryf, maar net ’n paar van wie gesê kan word dat hulle die Afrikaanse literêre skat verryk het – dalk net Totius, Izak de Villiers, Cas Vos, Barend Vos … en nou ook Cas Wepener met die kortverhaalbundel, Dubbelfoto. Is daar ’n spanning tussen jou predikantskap (of dan: jou teologiese professorskap) en jou (literêre) skrywerskap, Cas?

Jy noem groot name hierbo, ek het met die eerste lees ’n wind gesluk toe ek sien my naam word in dieselfde sin as hulle opgeneem. En ja, daar is verseker ’n spanning, maar dit is ’n goeie spanning. Waaroor kan ’n mens skryf? Die lewe, die dood, die verhoudings wat ons aanknoop of opgelê word tussen ons eerste asemteug en die laaste een. Dit is waaroor ek skryf en ek dink dit is maar waaroor teologie ook in ’n groot mate gaan.

Boekbesonderhede


» read article

Protea Boekhuis se skrywers by Woordfees 2014

TirzaVertel! Vertel!In die afwesigheid van sinMaties en AfrikaansPotent PastimesAsterix en die feesmaaltydBloujaar

 
Die US Woordfees vind vanjaar vanjaar plaas van 6 tot 16 Maart en dit is om die draai! Daar is ‘n hele paar opwindende Protea Boekhuis-skrywers op die program, onder meer Lina Spies, wie se vertaling van Tirza deur Arnon Grunberg pas verskyn het; Albert Grundligh; Sonya van Schalkwyk-Barrois en Pieter Kapp. Daar is ook toneelstukke met die gedigte van Lina Spies, Susan Smith en die verhale van Dot Serfontein om na uit te sien.

Protea Boekhuis se skrywers wat vanjaar by die Woordfees’n draai sal maak:

Lina Spies: Sonder woorde en musiek is die hemel hel
Datum: Vrydag, 7 Maart
Tyd: 12:00
Plek: JS Gericke Biblioteek: Ouditorium
Koste: R50
Die bekroonde digter deel interessante gegewens oor haar skrywersloopbaan, waarna items uit die Lina Spies-dokumentversameling in die Dokumentesentrum besigtig kan word.

Lina Spies, 75
Datum: Maandag, 10 Maart
Tyd: 16:00
Plek: Boektent
Koste: R50
Lina Spies is nie alleen alombekend op Stellenbosch nie, maar het met haar herkenbare digterstem ’n wye aanhang verwerf by sowel leerders en studente as by die breë publiek. Die afgelope jare het bekronings gebring vir haar vertaling van Anne Frank se dagboek uit Nederlands. Kom luister hoe Murray La Vita haar uitvra oor haar beskouings. Alida Potgieter gesels oor haar werk en Hendrik Hofmeyr lewer saam met Minette du Toit-Pearce ’n gloednuwe toonsetting van Lina se verse, geskryf in opdrag van die US Woordfees!

My mense
Datum: Maandag, 10 Maart
Tyd: 20:30 – 21:40
Plek: Radio Helderberg Klein Libertas Teater
Koste: R80
’n ABSA KKNK-produksie. Ondersteun deur die LW Hiemstra Trust

Teks: Dot Serfontein. Met Antoinette Kellermann.

Samestelling en regie: Juanita Swanepoel

Madeleine van Biljon het gesê: ‘Wanneer jy aan jouself twyfel, bied dit groot vertroosting om die vastigheid van ’n Vrystaatse agtergrond te deel met Dot Serfontein. Dit is werk wat lewensblyheid bevorder en jou elke keer by die lees daarvan laat wens jy het iemand naas jou om dit mee te deel.’ Hier is nou jou kans!

Albert Grudlingh: Potent Pastimes
Datum: Woensdag, 12 Maart
Tyd: 11:00
Plek: kykNET Erfurthuis
Koste: R40
Hierdie ongewone blik op die Afrikaner se geskiedenis betrek areas wat die konvensionele geskiedskrywing oor die hoof sien, soos die obsessie met rugby, die ondergang van hondewedrenne in Johannesburg in die 1940’s en die aantrekkingskrag van die strand by Hartenbos in die 1930′s. Kom luister na die skrywer se gesprek met Hermann Giliomee.

Karina Magdalena Szczurek: Invisible Others
Datum: Donderdag, 13 Maart
Tyd: 14:00
Plek: kykNET Erfurthuis
Koste: R40
Writer, critic and editor Karina Magdalena Szczurek discusses her first novel Invisible Others (Protea, 2014) with novelist and painter Ingrid Winterbach. The novel, set in Paris, tells the story of a South African writer running away from the aftermath of a scandal and a Polish academic recovering from a deep personal loss.

Tweesprong
Datum: Donderdag, 13 Maart; Sondag, 16 Maart
Tyd: 20:30; 11:00
Plek: Radio Helderberg Klein Libertas Teater
Koste: R80
Deur Sanet Taljaard, met gedigte van Susan Smith. Met Sanet Taljaard; Alma Nel en Karli Heine.Oorspronklike musiek en regie: André Gerber. Produksiehuis 95c

Ons dek saam feëtjie-tafeltjies, hou later moeder-en-dogter-tee’s, glimlag hartlik vir die wệreld en byt mekaar agteraf. Kry ’n glas wyn en kom giggel saam met dié aktrises. Teug diep aan jou glasie oor die plofbare, maar altyd nimmereindigend liefdevolle verhoudings tussen ma’s en hul dogters.

Pieter Kapp en Jacques du Preez: Maties en Afrikaans
Datum: Vrydag, 14 Maart
Tyd: 09:00
Plek: kykNET Erfurthuis
Koste: R40
In die geskiedenis van Suid-Afrika was daar vyf groot taaldebatte oor die plek en rol van Afrikaans. Twee het op Stellenbosch afgespeel: die eerste debat was tussen Hollands en Afrikaans en die erkenning van Afrikaans as die nuwe universiteit se onderrigtaal; die tweede debat tussen Afrikaans en Engels as onderrig- en gebruikstaal. Pieter Kapp gesels met Jacques du Preez van die FW de Klerk Stigting oor sy besondere boek Maties en Afrikaans.

Sonya van Schalkwyk-Barrois: Asterix in Afrikaans
Datum: Saterdag, 15 Maart
Tyd: 09:00
Plek: Boektent
Koste: R50
Getafix is nou Kasterolix, Cacophonix is Liederlix en Dogmatix herdoop na Witblix. Maar Astrix en Obelix se streke bly dieselfde – en lesers kan dit geniet in sprankel-Afrikaans, danksy die vertalings van Sonya van Schalkwyk-Barrois. Sy het ook al Kuifie (Tintin) Afrikaans laat praat. Zandra Bezuidenhout en Johanna Steyn praat oor die uitdagings van dié vertaling en die towerkuns wat dit verg.

Storievuur 2 by De Vette Mossel
Datum: Saterdag, 15 Maart
Tyd: 17:30 tot 20:30
Plek: De Vette Mossel
Koste: R220

Met Johan Bakkes, Amore Bekker, Keina Swart, Albert Maritz en Melt Myburgh

Musiek deur Victor Wolff en Les Javan

Nog gevierde storievertellers vroetel saam met Johan in die storiehoed en pluk allerlei verrassings uit. ʼn Toweragtige agtgang seekos-feesmaal, met wonderbaarlike stories en heerlike musiek uit ’n ander wêreld!

Keina Swart is die outeur van van Bloujaar wat vroeër die jaar by Protea Boekhuis verskyn het.

Boekbesonderhede


» read article

André Pretorius op Uys Krige se spoor in die Abruzzi-gebergte oos van Rome

Eilande en enklaves“In die nanag word ek wakker gehou deur die tevrede snorkies van my tweejarige seun, Daniel, hier neffens my. Ons lê op die vloer van ’n ‘glaskas’ op stelte in die Abruzzi-gebergte oos van Rome. Sewentig jaar gelede het ’n Afrikaanse digter ook hier naby oornag,” skryf André Pretorius, outeur van Eilande en enklaves.

Pretorius het onlangs na Italië gereis om uit te vind waar Uys Krige se paaie heen gelei het toe hy in 1943 “uit ’n Italiaanse krygsgevangenekamp voor die Duitsers” moes vlug. Lees oor sy bevindinge:

Onder die gevange offisiere in Campo PG 78 by Fonte d’Amore aan die voetheuwels van die Morrone-berge naby Sulmona was Uys Krige. Hy het in 1941 oor die oorlog verslag gedoen toe hy ook by Tibi Zagreb gevange geneem is.

In September en Oktober 1943 het hy en ’n bende kamerade met die hulp van plaaslike Italianers suidwaarts gevlug.

Krige se verhaal van sy ontsnapping – van die ongekunstelde Italianers wat aan hom herberg gegee het ondanks die risiko van dodelike Duitse vergelding, van sy innigheid met hierdie landskap, van die vrees en die naelskraapse ontkomings – verdien om gelees te word, selfs sewe dekades later.

Boekbesonderhede

e-Boek opsies – Laai nou af!



» read article

Potgooi: Dot Serfontein se kortverhaal “Poeding” uit Vertel! Vertel!

Vertel! Vertel!Vertel! Vertel! deur Dot Serfontein bevat ‘n versameling stories geïnspireer deur die land se voorste storievertellers wat rondom die kaggelvure en op stoeptrappies vergader om lang-vergete verhale te deel.

Susan Beyers het onlangs een van dié verhale op RSG se program Kortom voorgelees. “Poeding” gaan oor Willem Olivier, die vet seuntjie by die skool wat deur die jonger kinders Ou Poeding genoem word. Die verhaal vertel van die bullebakke wat hom afknoei op die skoolgronde en die swaarkry tuis oor sy gewig.

Luister om te hoor wat van hom geword het:

Boekbesonderhede


» read article

Potgooi: Pieter van Zyl lees twee kortverhale deur Cas Wepener

DubbelfotoPieter van Zyl het onlangs twee kortverhale deur Cas Wepener voorgelees op RSG se program Kortom. Die eerste verhaal heet “Kleinbaas” en gaan oor die karakter Joseph se verheerliking in die skaapkrale op ‘n Karooplaas en die geel Mazda wat hom soveel plesier verskaf wanneer hy teen die koppies opjaag om op die kruin te sing tot hy een voel met die aarde.

Die tweede verhaal, “Die Kind”, speel ook op ‘n Karooplaas af en vertel van ‘n fotograaf se struweling met iets wat hy moes afneem. “Hy het ‘n weersin in die gebeure. Dit walg hom. Die mense sou dalk beter af wees sonder hierdie foto.”

Albei verhale verskyn in Wepener se bundel Dubbelfoto wat verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn het.

Boekbesonderhede


» read article

Geliefde verteller Dot Serfontein se kortverhaalbundel Vertel! Vertel! heruitgegee

Vertel! Vertel!Dot Serfontein se Vertel! Vertel! word vandeesmaand deur Protea Boekhuis heruitgegee:

“Ek het so baie storievertellers leer ken: langs misvure, voor kaggels, op trappies met my ma se warm witbrood en vyekonfyt langs my. Hulle praat uit ou vergeelde dokumente, sterfkennisse, poskaarte; uit my eie herinneringe … Waarheid en verdigsel het tot legendes in myself verspring.”

Alles in hierdie kortverhaalbundel deur geliefde verteller Dot Serfontein, is nie noodwendig waar nie. Nee, maar alles is moontlik waar mense geslagte lank onder die dassiebruin velkaros van die Noord-Vrystaat slaap teen brak winters en taaibosharde somers.

’n Versameling stories, van toeka tot nou, oor alles van die liefde tot siekte, delwery en dagga. Oorvertel en neergepen soos net die meesterlike Dot Serfontein kan.

Oor die outeur

Uit Dot Serfontein se pen het verskeie kroonboeke verskyn, onder andere Tiendes van anys (1962), Rang in der Staaten Rij (1979), Systap onder die juk (1982), Galery van Reënmakers (1986), Vertel! Vertel! (1995) en Vrypas (2009). Sy is in haar tagtigs en woon tans in Kroonstad.

Boekbesonderhede


» read article

Potgooi: Johann Nel lees voor uit Dubbelfoto deur Cas Wepener

DubbelfotoJohann Nel het tydens RSG se program Kortom twee van Cas Wepener se kortverhale voorgelees. “Memento Mori” en “Hotel California” verskyn albei in Wepener se debuutbundel, Dubbelfoto, wat onlangs verskyn het.

Boekbesonderhede


» read article