Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘South Africa’ Category

’n Leeftyd Later: Herinneringe aan Angola ’n wonderlike lewensverhaal uit die pen van ’n sterk, intelligente vrou

Marthie Voigt (nooi Prinsloo) is in 1931 in Suidwes-Afrika gebore; die vierde van ses kinders.

Wat volg is ’n groot avontuur. Marthie word groot in die wye en ongetemde vlaktes van Angola. Die Prinsloo-gesin trek baie rond agter goeie weiding en gesonder toestande aan. Die lewe in ongerepte Angola het ook sy gevare en Marthie beleef groot hartseer toe haar sussie op 19 sterf aan malaria.

Nadat Marthie trou met Carl-Wilhelm Voigt en hulle hul gevestig het op haar skoonouers se koffieplaas, begin die onheil in Angola roer. Ongelukkig breek daar oorlog uit en die Voigts moet hulle plaas net so los. Hulle speel ’n groot rol daarin om vlugtelinge uit Angola te versorg.

Marthie Voigt het haar ongelooflike herinneringe aan hierdie historiese en persoonlike gebeurtenisse neergeskryf sodat wanneer ’n mens dit lees, dit glashelder voor jou geestesoog afspeel.

’n Wonderlike lewensverhaal uit die pen van ’n sterk, intelligente vrou.
 

Boekbesonderhede


» read article

“Ek wou ’n swaar, seer bundel met ’n korrel hoop eindig” – Fourie Botha bespreek Krap uit die see

Krap uit die see is die tweede bundel van die jong digter Fourie Botha.

Soos sy debuutbundel Donkerkamer wat op die kortlys vir die 2013 Ingrid Jonkerprys was, sluit Krap uit die see aan by die debat oor manlikheid, wat sowel geweld, lyflikheid, die vaderfiguur, homo-erotiek en doodgewone huislikheid van twee mans wat saamwoon insluit.

Die see is ’n deurlopende motief, die oerbron waaruit alle lewe kruip, in gedigte oor familieverhoudings, die liefde en erotiek. Grense tussen lewe en dood, droom en werklikheid, mens en dier vervloei op surrealistiese wyse.

Fourie word groot in Bethal op die Hoëveld en op Nietverdiend in die Marico-Bosveld. Aan die Universiteit van Pretoria studeer hy Uitgewerswese en Engels en gee vir ’n paar jaar opvoedkundige boeke uit.

In 2008 voltooi hy ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en skryf daarna by die Universiteit van Kaapstad in vir ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk onder Joan Hambidge. Sedert 2008 werk hy as redakteur van die Umuzi drukmerk by die uitgewershuis Penguin Random House in Kaapstad.

Sy gedigte word opgeneem in die versamelbundel Nuwe Stemme 4, waarna hy debuteer met die digbundel Donkerkamer in 2011.

Louis Esterhuizen het onlangs Krap uit die See met Fourie bespreek. Hulle gesprek is op Versindaba se webblad geplaas:

Fourie, van harte geluk met jou tweede digbundel, Krap uit die see. Volgens my is hierdie bundel nie net ’n bestendiging van jou digterskap nie, maar ’n baie sterk vooruitbeweeg sedert jou reeds debuut, Donkerkamer (2011: Queillerie). Uiteraard is daar altyd meer druk op ’n skrywer met ʼn tweede publikasie ten einde aan die verwagting wat met die debuut gestel is, te voldoen. Hoe voel jy persoonlik, terugskouend, oor die openbare reaksie op jou debuutbundel?

Baie dankie, Louis. Ek was dankbaar vir die ontvangs van Donkerkamer. Dit was ’n bundel waaraan ek lank gewerk het en waarmee baie mense my gehelp het. Ek sal die persoonlike boodskappe van lesers en digters uit die bloute altyd onthou.

In welke mate het jy met Krap uit die see probeer voortskryf op jou debuut en in watter opsig(te) gaan jy vernuwend te werk?

Sommige temas in Krap uit die see sluit aan by Donkerkamer, maar dié slag is daar geen visuele materiaal in die boek nie. Die toonaard van die tweede bundel is ook anders. Baie van die gedigte is kort ná Donkerkamer begin, so ek hoop lesers wat van die eerste gedigte gehou het, hou ook van die nuwes.

Die omslag van jou digbundel vind ek besonder interessant. Hoekom juis dié foto en watter verband bestaan daar tussen dié foto en die gedigte?

Dit was die eerste voorstel wat my uitgewer vir my gestuur het en ek het onmiddellik daarvan gehou. Die beeld het sy in ’n boek wat in 1907 verskyn het opgespoor en dit het vir my baie goed by die bundel gepas. Die man wat met die krap worstel, of miskien dans. Amper een gedierte word. Die feit dat dit ’n Oosterse man op die omslag is, was ook ’n gelukskoot: dit het my forseer om ’n gedig wat ek reeds in Donkerkamer se dae probeer skryf het, uiteindelik klaar te maak: “Chang Bunker aan sy Siamese broer, Eng”.

Die gedigte in hierdie bundel is in vier afdelings verdeel, met ’n enkele gedig, “Krappegesang”, as programgedig. Die vier afdelings is: Laagwater, Vuisneste, Rakende en Dryf. Volgens watter ordeningsprinsipes het jy op hierdie indeling besluit?

Ek wou gedigte oor jeugervarings vroeg hê, om aan te sluit by die jeugverse van die vorige bundel. Dan verloop die gedigte chronologies, amper soos ’n lewe: daar is woedende liefdesteleurstellings, daarna gedigte wat met die buitewêreld te make het. Die laaste afdeling wou ek ligter hê; sonder die skuim om die mondhoeke wat die gedigte vroeër in die bundel het.

Twee van die aangrypendste gedigte in dié bundel is volgens my die twee sluitverse: “See” (p.58) en “Mosambiek” (p.59). In eersgenoemde lees ons van die see as reliëf van verlies, terwyl laasgenoemde weer daarop dui dat die wêreld (moontlik) met laagwater sou kon terugtrek soos ’n krap in sy nuwe dop. “Geseënd is jy, geseënd,” sing die see. Volgens my lê die tematiek van hierdie bundel in die teenstelling tussen dié twee gedigte vasgevang: enersyds die reliëf van verlies, dog andersyds die seën van ’n nuwe begin. Sou jy kon akkoord gaan met so ’n beskouing?

Die ou idee van die ouroboros, die slangetjie wat sy eie stert sluk, was in my gedagtes toe ek dié twee gedigte gekies het om die bundel mee af te sluit. Ek wou ’n swaar, seer bundel met ’n korrel hoop eindig. Met ’n weerbegin. Dieselfde truuk as met die slotgedig in Donkerkamer. Om iets uit te krap is nie net seer nie, dit bring ook verligting.

’n Besonder interessante tematiese inspeling wat ek met die lees van hierdie gedigte registreer, is Peter Blum se “Man wat mal word”; by tye baie direk soos met “On the rebound 11” (p.25) ) en dan weer meer subtiel soos met “Mondwerk” (p.51). Ook in ander gedigte is daar suggesties van waansin. Trouens, reeds met die openingsgedig, “Krappegesang” (p.7) lees ons: “Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie / in hierdie skedelpan van my kop? / Ek wil jou skud soos ’n blik spykers, / witvleise uit jou doppe skraap.” Na die beste van my wete is dit die eerste keer in afgelope tye dat waansin so deurlopend as leitmotief in ’n Afrikaanse bundel ontgin is. Is daar ’n bepaalde rede hiervoor, gegewe die tydsgewrig waarbinne hierdie verse tot stand gebring is?

Dit was vir my ’n interessante eksperiment om te sien hoe ek my ingehoue self tot by die rand van ’n “rant” kon kry. Ek wou die tipe waansin van liefdesverhoudings wat aan die misluk was as ’n soort waansin of selfs ’n besetenheid uitdruk. Ek het met Wordsworth se “emotion recollected in tranquility” gestoei. Hoe hou jy die woede woedend as jy die besigheid netjies in ’n gedig moet verpak?

Lees die res van hulle onderhoud hier.
 

Krap uit die see

Boekbesonderhede


» read article

Oupa se eiland vertel ’n mooi, maar hartseer storie op ’n avontuurlustige manier oor hoe kinders ’n geliefde grootouer groet

Oupa se eilandSimon kuier graag by sy oupa vir wie hy baie lief is. Eendag toe hy daar kuier, wys Oupa vir hom ’n swaar deur op die solder wat, sodra jy daardeur stap, op die dek van ’n groot skip beland.

Oupa en Simon seil saam na ’n wonderlike eiland waar hulle allerhande mooi dinge ontdek en ’n huisie bou. Toe hulle moet terugkeer, besluit Oupa egter om te bly.

Hierdie boek vertel ’n mooi, maar hartseer storie op ’n avontuurlustige manier oor hoe kinders ’n geliefde grootouer groet, hetsy dit vir altyd is of tydelik.

 
 
 
 
 
 
 
Boekbesonderhede


» read article

Slot van die dag en Afskeid van Europa: twee van Karel Schoeman se laaste drie boeke

Slot van die dag: Gedagtes is die skrywer se mymeringe oor ouderdom en die einde van die lewe, saam met verspreide herinnerings van ’n algemene aard, om ’n ryk geskakeerde beeld te verskaf van ’n skrywerslewe van byna tagtig jaar. Die reeks outobiografiese boeke wat met ’n Duitser aan die Kaap, Merksteen en Die laaste Afrikaanse boek begin het, word hiermee afgesluit.

Dit is ‘n baie persoonlike boek oor ouderdom, die skryfproses en selfbeskikking met kommentaar op oud word en wees, met inbegrip van praktiese wenke, en heelwat inligting oor die moontlike en waarskynlike einde van die lewe. Die element van afskeid en gelatenheid is deurlopend. Die ouderdom is teenswoordig die vernaamste onderwerp van sy oorpeinsing, en die vernaamste element in sy daagliks ervarings.

Die verwysings en aanhalings is treffend en spreek van iemand wat sy leeswêreld ook sy leefwêreld maak. Ten slotte verduidelik die skrywer sy bevrydende besluit oor selfdood.

In Afskeid van Europa lewer Karel Schoeman verslag van sy laaste twee besoeke aan Nederland, Duitsland en Oostenryk gedurende die herfs van 2011 en 2013.

Dit is veral die stede Amsterdam, Berlyn, Dresden, Salzburg en Wene wat aandag kry en ook met Schoeman se vermoë om mense en plekke wat hy waarneem, in woorde tot gestalte te bring. By dit alles is daar ’n ondertoon van heimwee en gelatenheid omdat die skrywer voortdurend bewus is daarvan dat dit werklik sy laaste besoeke is en hy dikwels aan sy ouderdom herinner word: “‘Elderly,’ lees ek op my vliegkaartjie, ‘can’t walk long distance can sit gate close 15 minutes prior to departure.’ Dit is ék.”

Maar afgesien van die element van afskeid, is dit Schoeman se belesenheid en sy vermoë om hede en verlede te skakel wat opval en hierdie boek ’n ryk leeservaring maak. Nie alleen die politieke geskiedenis nie, maar ook die verhale van die gewone mens soos dit in die letterkunde uitgebeeld is, word in verband gebring met die strate, parke, kerke en paleise van die groot stede wat hy besoek. Onvermydelik skryf hy oor die twee wêreldoorloë se impak op mens en omgewing, maar ook die vasberade inisiatiewe om te restoureer en te herstel in stede soos Berlyn en Dresden. Die hede met sy massatoerisme, die gewonde daaglikse gang van sake en veral ook die tipiese geregte van die plekke wat hy besoek, verseker dat die boek vir eietydse reisigers ook relevant is.

Karel Schoeman was een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers en het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is talle male bekroon, o.a. met die Hertzogprys, die Recht Malan-prys en die N.P. van Wyk Louw-toekenning van die FAK. Hy is op 1 Mei 2017 oorlede.

Boekbesonderhede


» read article

Ons praat Afrikaans: diverse mense – een taal ’n skitterende fotoboek wat die Afrikaanse kultuur en taal raakvat

Ons praat AfrikaansOns praat Afrikaans – diverse mense – een taal is meer as net nog ’n fotoboek: dit is die eindproduk van ’n projek wat sy ontstaan gevind het in een individu se liefde vir die Afrikaanse kultuur en taal, Douw Greeff.

Die projek is geloods in 2016 toe fotograwe (amateur en ook professioneel) genader is om werke in te skryf wat hulle voel die Afrikaanse kultuur en taal raakvat.

Verskeie inskrywings is ontvang en die top foto’s het deurgegaan na ’n beoordelings-rondte, waar ’n paneel die beste foto’s gekies het om in hierdie pragpublikasie te pronk.

 
 

Boekbesonderhede


» read article

Ontmoet die vlieënde dokters wat kwale reg kan maak: ’n ridder en ’n prinses en Zok – die dapper draak

Ontmoet die vlieënde dokters wat kwale reg kan maak:
’n ridder en ’n prinses
en Zok – die dapper draak.

 

 
Prinses Mynie se oom sluit haar in ’n toring toe omdat hy nie dink prinsesse kan dokters wees nie – tot hy die dag self siek word! Die arme koning se gesig word oranje van ’n seldsame siekte – sal die drietal dokters hom te hulp snel?

Julia Donaldson is in 2012 benoem as die VK se “Children’s Laureate”, en is die outeur van verskeie blitsverkopers vir jong lesers. Sy woon in Glasgow, Skotland, saam met haar man, Malcolm.
Axel Scheffler se bekroonde titels sluit in: Room on the broom en The snail and the whale. Sy illustrasies is in meer as 30 lande gepubliseer. Hy woon in Londen, Engeland. Donaldson en Scheffler is ook die skeppers van die immergewilde Die Goorgomgaai (Human & Rousseau, 2014).

Oor die vertaler:
Philip de Vos (1939) is veral bekend as fotograaf, skrywer en digter. Hy doen baie rymvertalings en het heelwat lirieke vir animasieprogramme op TV geskryf. Hy is ook al bekroon met die ATKV-kinderboektoekenning (1989), M.E.R.-prys (1996) en die Alba Bouwer-prys (1998). In 2004 het hy ’n IBBY-toekenning ontvang vir sy vertaling van Die spree met foete.

Boekbesonderhede

  • Zok en die vlieënde dokters deur Julia Donaldson, geïllustreer deur Axel Scheffler
    Vertaal deur Philip de Vos
    EAN: 9781485306849
    Find this book with BOOK Finder!

» read article

Voor Bettie van Riet en Stokkies van Graan kan trou, moet hy haar eers red van ’n ander ou!

Bettie van Riet en ou Stokkies van Graan
het reg langs mekaar in die weiland gestaan.
Hul was lief vir mekaar en wou graag trou,
maar hy moes haar eers red van ’n ander ou!

 

 
Terwyl Stokkies van Graan alles vir die bruilof in orde probeer kry, neem Albertus van Hooy sy intrek op die weiland … Albertus probeer Bettie se hart wen met sy sierlike maniertjies en sy Kubaanse sigare, maar strooi en sigare is nie ’n goeie kombinasie nie! Sal Stokkies van Graan betyds terug wees om sy liewe Bettie te red?

Julia Donaldson is in 2012 benoem as die VK se “Children’s Laureate”, en is die outeur van verskeie blitsverkopers vir jong lesers. Sy woon in Glasgow, Skotland, saam met haar man, Malcolm.

Axel Scheffler se bekroonde titels sluit in: Room on the broom en The snail and the whale. Sy illustrasies is in meer as 30 lande gepubliseer. Hy woon in Londen, Engeland. Donaldson en Scheffler is ook die skeppers van die immergewilde Die Goorgomgaai (Human & Rousseau, 2014).

Philip de Vos (1939) is veral bekend as fotograaf, skrywer en digter. Hy doen baie rymvertalings en het heelwat lirieke vir animasieprogramme op TV geskryf. Hy is ook al bekroon met die ATKV-kinderboektoekenning (1989), M.E.R.-prys (1996) en die Alba Bouwer-prys (1998). In 2004 het hy ’n IBBY-toekenning ontvang vir sy vertaling van Die spree met foete.

Boekbesonderhede

  • Die voëlverskrikkertroue deur Julia Donaldson, geïllustreer deur Alex Scheffler
    Vertaal deur Philip de Vos
    EAN: 9781485306832
    Find this book with BOOK Finder!

» read article

Die Afrikaanse vertaling van The Storm Whale sal jong kinders betower

Noi woon by die see, saam met sy pa en ses katte. Hy is eensaam omdat sy pa as visserman baie hard werk en heeldag weg is. Eendag spoel daar ’n klein walvis op die strand uit. Noi sorg vir hierdie walvis en ’n vriendskap ontwikkel wat hulle al twee se lewens verander.

Benji Davies is ’n illustreerder, skrywer en animasieregisseur. The Storm Whale is sy debuut kinderboek en het die Oscar’s se eerste boekprys in 2014 gewen en was op die kortlys van die Booktrust se toekennings vir beste boek. Sy tweede boek, Grandad’s Island het die prys AOI Wêreld Illustrasietoekennings in 2015, kategorie kinderboeke gewen en het de prys beste kinderboek van die jaar by die Sainsbury se Kinderboektoekennings in 2015 gewen. Hy het animasie studeer en werk aan ’n reeks projekte; van kinderboeke tot geanimeerde kortfilms, musiekvideo’s en advertensies.

Boekbesonderhede


» read article

Die span is vasbeslote om ’n stokkie voor ’n wrede kewermodebaas se planne te steek in die tweede boek in M.G. Leonard se kewertrilogie

Wrede kewermodebaas Lucretia Cutter het ’n plan om die wêreld voor haar kewerkloue te laat buig.

Hierdie keer behels dit ’n besoek aan die jaarlikse Filmtoekennings in Los Angeles, ’n stel pragtige maar gevaarlike kewerrokke vir bekende aktrises en ’n weermag van bose lieweheersbesies.

Darkus, Virginia en Bertold is vasbeslote om ’n stokkie voor haar planne te steek, maar Darkus se pa het hom verbied om verder ondersoek in te stel, die gruwelike skelms, Humphrey en Pickering is weer uit die tronk en die kewers van Kewerberg se lewens word ernstig bedreig.

Hierdie is die tweede boek van die kewertrilogie van die jong skrywer M.G. Leonard. Dit is vertaal deur Kobus Geldenhuys.

M.G. Leonard is ’n skrywer van boeke, gedigte en draaiboeke. Sy het ’n honneursgraad in Engelse letterkunde en ’n MA in Shakespeare Studies van King College in Londen. Sy werk in Londen as ’n senior digitale regisseur vir die Nasionale Teater, en was voorheen werksaam by die Royal Opera House en Shakespeare’s Globe. Sy was ook vroeër betrokke by die musiekindustrie en het as akteur en regisseur opgetree voordat sy besluit het om haar stories neer te skryf. Sy woon in Brighton saam met haar man en twee seuns.

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboekvertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015). Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Boekbesonderhede


» read article

Wenners van die Verbeel dit! Kinderboek-illustrasiekompetisie bekendgemaak

Hierdie jaar het Protea Boekhuis weer, saam met drie internasionale uitgewers, ’n internasionale kinderboekillustrasiekompetisie organiseer. ’n Groep professionele beoordelaars – in Suid-Afrika Piet Grobler, Alida Bothma en Marisa du Toit – het die drie beste inskrywings in elke betrokke land gekies. In Suid-Afrika is 50 uitstekende inskrywings ontvang en die kompetisie was geweldig sterk. Baie geluk aan Angela Banks, Neeske Alexander en Hjalmar Pretorius wat in Suid-Afrika as die wenkunstenaars aangewys is.

Die wenwerk van Angela Banks

Die beoordelaars vind dat haar uitnemende tekentegniek haar ’n plek onder die wenners laat besorg. Sy voeg ’n verrassingselement toe aan haar illustrasies wat die kyker innooi en vervoer na ’n betowerende verbeeldingswêreld.

 
 
’n Illustrasie uit Neeske Alexander se storie ‘Jump’.

Die beoordelaars vind dat die kunstenaar weet hoe om haar tekentalent in te span om atmosfeer te skep en ’n storie te vertel. Haar geloofwaardige en poëtiese uitbeelding het die beoordelaars oortuig.

 
 

’n Illustrasie uit Hjalmar Pretorius se “The Princess and the Squire”.

Hjalmar Pretorius se vertellende illustrasiestyl is ideaal vir aksie-gelaaide avonture. Hy het die vermoë om ’n verhaal op interessante manier te vertel deur van verskillende perspektiewe en gloeiende kleure gebruik te maak.

 
Hierdie kompetisie is ʼn uitstekende geleentheid om internasionale blootstelling te kry. Die werk van die twintig wenkunstenaars gaan deel wees van ’n internasionale reisende tentoonstelling. Die finale keuse van wenillustrasies gaan ook in ’n internasionale katalogus gepubliseer word en voorgestel word aan die bekendste internasionale kinderboekuitgewers by die Bologna-kinderboekebeurs in 2018.

Protea publiseer topkwaliteit kinderboeke. Die meeste hiervan is oorsese produksies wat in eerste instansie elders gepubliseer is. Vertaal-en publikasieregte word gewoonlik oorgekoop van internasionale uitgewers, die boeke word vertaal en aan ’n plaaslike mark in Afrikaans en/of Engels bekendgestel. Op dié manier kry Suid-Afrikaners toegang tot van die beste kinderboeke wat internasionaal gepubliseer word.

Hierdie kompetisie is egter ’n manier om die teenoorgestelde te doen: om naamlik Suid-Afrikaanse illustreerders en kunstenaars aan ’n internasionale mark voor te stel. Die kinderboekbedryf is beslis ’n internasionale bedryf met boeke wat in verskeie tale regoor die wêreld vertaal word. Vir illustreerders om naam te maak, is dit vandag noodsaaklik om internasionale blootstelling te kry. Protea wil met hierdie kompetisie aan ’n internasionale gehoor wys watter talent daar plaaslik skuil.


» read article