Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Protea Boekhuis

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Youth’ Category

“Boekrakke maak my ongelooflik hartseer” – Keina Swart oor Die potlooddief se bruid en ander stories

Keina Swart se nuwe bundel rubrieke, Die potlooddief se bruid en ander stories, het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn en Phyllis Green het ‘n onderhoud met haar gevoer oor die stories agter haar rubrieke.

Die potlooddief se bruid en ander storiesBloujaarBleek Bennie se woeste hoesHoekom praat grootmense so snaaks?

 
Swart gesels oor haar liefde vir kinderboeke en deel haar wens om eendag ‘n kinderboek te skryf wat kinders en grootmense sal laat lag en huil.

Daar het reeds twee kinderboeke uit haar pen verskyn, Bleek Bennie se woeste hoes en Hoekom praat grootmense so snaaks?, asook ‘n jeugroman, Bloujaar.

Die skrywer vertel hoe moeilik dit was om Bloujaar te skryf en gesels meer oor die rubrieke in haar nuutste boek en die mense waaroor sy skryf.

Lees die artikel:

Watter rubriek in hierdie bundel lê vir jou na aan die hart en waarom?

Raai hoe lief is ek vir jou? is my gunsteling. Dis die storie van al die boeke in ons huis, en van my kinders se grootwordjare reg van die Babalela-dae af tot deur die @Thomas-reeks en Fiela se kind. Totdat ek op ’n dag besef het die tyd van Fees van die Ongenooides is nie ver nie. Boekrakke maak my ongelooflik hartseer. Veral boekrakke met kinderboeke in. Ek weet nie hoekom nie (of miskien weet ek hoekom, maar dis weer ’n storie vir ’n ander dag).

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

’n Nuwe uitgawe van Skooldae deur Franz Marx stel dié verhaal aan nuwe generasies bekend

Skooldae‘n Heruitgawe van die bekende jeugverhaal Skooldae, deur Franz Marx, verskyn eersdaags op Protea Boekhuis se rakke:

Skooldae was ʼn jeugreeks op die televisie : 1981 tot 1984 (SAUK). Daar was drie reekse in totaal en 36 episodes. Skooldae is ook in 1982 as roman gepubliseer.

Dis ‘n nuwe skooljaar en soos gewoonlik sien die graad 12′s op na die vervelige geskiedenisperiodes. Maar tot hulle verbasing maak meneer Christo de Wet – die nuwe, onervare onderwyser – dié periodes so interessant dat hulle nie anders kan as om aan sy lippe te hang nie. Die graad 12′s hou sommer baie van meneer De Wet, dis net jammer van die ander personeellede is nie altyd te vinde vir sy unieke manier van skoolhou nie. Die graad 12′s leer egter hierdie jaar meer as net geskiedenis – met meneer De Wet se ondersteuning en aanmoediging leer hulle ook hoe om probleme op ‘n volwasse manier te hanteer.

Oor die outeur

Franz Marx is ʼn bekroonde akteur, draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger met verskeie films, televisiereekse, enkeldramas en minireekse agter sy naam. Sy toekennings sluit in die SAUK-prys vir televisiedramas vir die draaiboek van Die buitestaander (1986) en ʼn erepenning vir rolprentkuns (1995). Marx het gedurende die vroeë jare tagtig met die jeugreeks Skooldae sy debuut as televisieskrywer en –regisseur gemaak. Vanweë die sukses van dié reeks het twee opvolgreekse gevolg. Skooldae is in 1982 as roman gepubliseer.

Boekbesonderhede


» read article

Lees die wenartikel van Keina Swart en Die Pos se skoolkoerantkursus vir jong leerders

Die potlooddief se bruid en ander storiesBloujaarKeina Swart en die redaksielede van Die Pos het verlede maand ‘n skoolkoerantkursus by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong aangebied.

Die Bloujaar-outeur en redakteur van Die Pos het vanjaar haar nuutste boek, Die potlooddief se bruid en ander stories, by Protea Boekwinkel in Hatfield bekendgestel.

Leerders van die Laerskool Eugene N Marais en Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool het die geleentheid bygewoon en die wenartikel het in Die Pos verskyn en R200 vir die jong skrywer in die sak gebring.

Lees die wenartikel deur Elodie van Emmenes:

Tydens ’n werksessie wat op Donderdag, 5 Maart 2015, by Hoërskool Hans Strijdom, gehou is, het personeel van Die Pos-koerant die redaksielede van Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool, Laerskool Eugene N Marais en Hoërskool Hans Strijdom meer vertel oor die fynere kunsies verbonde aan die koerantwese.

Die opgewonde leerders het vroeg Donderdagoggend, gewapen met pen en papier, aangemeld. Bea Emslie, hoof van advertensies, het die eerste lesing aangebied en meer vertel oor die waarde van bemarking.

Boekbesonderhede


» read article

Keina Swart: Party drome moet 25 jaar gelos word totdat hulle eendag self huis toe kom

Die potlooddief se bruid en ander storiesBloujaarKeina Swart het onlangs ‘n rubriek geskryf vir Netwerk24 oor drome wat soms gelos moet word om self terug te kom na jou toe.

Die Bloujaar-outeur het hierdie maand haar jongste versameling rubrieke, Die potlooddief se bruid en ander stories, by Protea Boekwinkel in Pretoria bekendgestel.

Swart onthou die blou bakkie waarmee sy en haar man so lekker gery het in hul studentedae, die smart toe hulle dit op die plaas moes agterlaat en die vreugde toe hulle 25 jaar later weer agter die stuur kon inskuif.

Lees die artikel:

Dit was warm, die vensters was oop; my hare los en oral in my gesig. Soos destyds. “Kan jy dit glo, hê? Kan jy dit wragtag glo?” het hy in die wind vir my geskree. En toe die Waterberge soos ’n ou, ou kaart voor ons oopvou en sy hand weer op my knie kom lê, het ek opeens gesukkel om die pad voor my gesien te kry.

Want, sien, soms moet jy glad nie maak soos begeesterde motiveringsprekers jou so graag wil oortuig nie. Party drome moenie gejaag of gehaal of gegryp word nie. Hulle moet 25 jaar gelos word totdat hulle eendag self huis toe kom.

 
Verwante skakels:

 
Boekbesonderhede


» read article

Keina Swart: “Dis nie maklik om in vandag se tye ’n kind van 12 te wees nie”

Bloujaar“Dis nie maklik om in vandag se tye ’n kind van 12 te wees nie.”

Só skryf Keina Swart in ’n rubriek vir Netwerk24 oor die onstellende stories wat sy Sondae by haar twaalfjarige studente hoor.

Die Bloujaar-outeur vertel van haar Sondagskoolklas waar sy kinders aanmoedig om oor hul lewens te skryf. Soms mag sy van dié stories lees, wat haar dan weereens opnuut laat besef dat dit nie maklik is om ’n kind te wees nie.

Lees die artikel:

Dié skryfsels wat ek ontvang, bêre ek op ’n geheime plek. Saans wanneer ek nie kan slaap nie (wat nogal gereeld gebeur), lees ek dit oor en oor, en dan kan ek nóg minder slaap.

“Ek haat vir juffrou so-en-so. Ek haat, haat, haat haar en sy haat my ook,” sal daar staan.

“My lewe is amazing en lekker. My ma skei nou vir die derde keer, maar dit kry my nie onder nie. Alles sal regkom, want ek het vriende wat omgee,” lui nog een.

“Tannie, toe ek klein was, het my ouma se man in die aande in my kamer ingekom as my ouma slaap,” lees ek.

Boekbesonderhede


» read article

Uittreksel: ’n Jong seun vorm ’n ongewone vriendskap met ’n posduif in Skrik kom huis toe

Skrik kom huis toeDie buitestander word as’t ware gebore uit verhoudings wat verkeerd loop. – Dolf van Niekerk

Die eerste uitgawe van Dolf van Niekerk se jeugboek, Skrik kom huis toe, is in 1968 deur Nasionale Boekhandel Beperk uitgegee. Tog bly die temas van eensaamheid, gebroke families en tekort aan aandag en liefde vandag nog relevant en Protea Boekhuis het verlede jaar weer die geliefde verhaal beskikbaar gestel.

Albert is ’n eensame jong seun met ’n skerpsinnige verbeelding en ’n liefde vir die natuur. Hy ontsnap sy strak familielewe deur toevlug te vind in die sipresboom wat soos ’n naald lyk, die miershope soos natgereënde langwolskape, die laksman met sy manelpak aan.

In hierdie uittreksel ry Albert se pa amper ’n posduif dood, maar die seun red hom net betyds. Sy ma weier om die duif in die huis toe te laat, maar sy pa bied aan om die ou hoenderhok reg te maak.
 

* * * * * * * *

 

    My ma beveel my om my Sondagmiddagklere aan te trek.

    Langbroek en wolkouse en skoene. Ek maak die kamerdeur toe en sit op die bed, al mag ek nie. My regtergroottoon se nael is die vorige week deur ’n klip afgeruk. Die gedagte aan ’n skoen laat pyne uit die toon se kop skiet tot in my verstand. Ek raak aan die langbroek wat oor ’n stoel se leuning hang. My hele lyf slaan hoendervel uit. Die langbroek is van growwe materiaal, dit krap my vel en ek jeuk en sweet tot ek my lyf wil losruk uit die klere.

    My pa trek die kar voor die huis. Die son weerkaats in die kar se vensters en in my pa se bril – ek kan my pa nie sien nie, so toe is alles onder die son.

    “Albert!”

    Spring op die een been tot by die voordeur. Die langbroek skaaf tussen my bene.

    “In hemelsnaam, Albert! Moenie so lawaai nie!” Op die stoeptrap lê ’n waterplassie waar die geut lek. Ek hou die geut dop. Onder sy ronde maag kruip ’n waterdruppel uit. Hy word ronder en vetter. Skielik maak hy ’n punt, los en val dat hy so spat. Nog een. Ek wag. Die druppel bewe en ek spring. Te stadig – die druppel breek op my kop en dis heerlik.

    “Kom jy of kom jy nie?”

    Voor die huis staan ’n sipresboom wat soos ’n naald lyk. Op sy punt sit ’n laksman met sy manelpak aan. Hy wieg heen en weer, maar dit pla hom nie.

    “Albert!”

    My pa kies die grondpad rivier toe. Hy ry stadig asof hy dit geniet om die kar sulke diep spore in die nat pad te laat trap.

    Ek kyk agtertoe en dis mooi om die merke so te sien lê.

    “Sit stil.”

    Daar is nie gras op die veld nie. Die ysterklippe blink, die miershope lyk soos natgereënde langwolskape. Baie valkies sit op die telegraafdrade en slaap. Wanneer die motor naby hulle is, val hulle skielik agteroor en vlieg laag oor die grond weg.

    My pa ry so stadig dat ek die pale maklik kan tel. Maar by honderd en twaalf swenk die pale onverwags regs, weg die veld in.

    Ons is naby die rivier.

    Rivierwilgers en riete, wildeals. My pa kyk stip voor hom, want die brug is smal. Ek kyk gespanne waar hy kyk, want die brug het nie relings nie. Die kar se skaduwee loop voor hom uit. Toe sien ek die duif reg voor die motor in die son – skaars vyftien tree van ons af.

    “Briek, Pa!”

    “Bly stil.”

    “Pa sal hom doodry!”

    “Wil jy hê jou pa moet die motor omsmyt en ons laat verongeluk?”

    Die kar het reeds oor die duif geloop. Miskien het my pa tog effens gerem, want ek het nie geval toe ek uitspring nie.

    Ek swaai om en val met my knie op die brug se betonblad. Die duif sit vyf tree van my af en hy is heel. Hy druk sy snawel op ’n nat kol in die sement. Ek kom nader, hy roer nie. Dit lyk nie of hy staan nie – hy lê half op sy voete en hy wieg op en af. Nog nader. Dit lyk of sy oë opgedroog het. Ek hurk voor hom. Sy snawel tik op die sement. Hy lyk vaak.

    Ek steek my hande uit – hy gee nie pad nie. Hy is blou en geruit. Ek kan nie sy bene sien nie, so naby is sy lyf aan die grond. Daar sit ’n wit kolletjie in die hoek van sy linkeroog.

    Dit lyk meteens of die wit kol te swaar vir sy kop is om te dra. Sy vere is deurmekaar.

    Ek hou my hande bak. Ek kan my hart hoor klop. Ek sien hy sal nie vlug nie. My hande bewe nie meer nie, maar my mond is droog. Ek vang hom en hy spartel nie.

    Die motor staan vyftig tree van die brug af. My pa het nie uitgeklim nie. Ek hardloop met die warm duif tussen my hande.

    “Jy kon jou nek gebreek het!”

    “Hy gaan dood van dors!”

    “Jy het ons byna verongeluk!”

    “Kan ons nie huis toe gaan nie, Pa?”

    “Los die ding – hy gaan net die kar bemors.”

    “Hy gaan dood van dors.”

    Sy is nie my ma nie, sê my kop vir die duif.

    “Dis sommer onsin.”

    Die duif is sagter as die lug.

    “Waar gaan jy vir die ding kos kry?”

    “Hy wil water hê, Pa.”

    Ek het nog nooit so iets vasgehou nie.

    “Dis ’n belaglike spul,” sê my ma.

    “Klim in.”

    Die duif gee ’n wit poeierigheid aan my hande en klere af. Dit voel glad en skoon.My pa ry ’n bietjie vinniger as tevore. Miskien druk ek die duif te hard vas, want my hande sweet. Ek weet nie hoe ek hom behoort vas te hou nie.

    “Jy moenie dink jy gaan toegelaat word om die duif in jou kamer te hou nie,” sê my ma.

    Daaraan het ek nog nie gedink nie.

    “Miskien kan ’n mens die draad van die ou hoenderhok agter die motorhuis regmaak,” sê my pa.

Boekbesonderhede


» read article

Keina Swart onthou AB de Villiers as die skaam blondekopseun wat gedurig in die plaaslike koerant was

BloujaarKeina Swart, gesoute joernalis en outeur van Bloujaar, het jare gelede op Warmbad, nou Bela-Bela, gewerk as verslaggewer by die plaaslike koerant. Sy moes byna elke week dieselfde seun by die laerskool gaan afneem, elke keer vir ‘n ander prestasie.

Toe AB de Villiers anderdag rekorts laat spat op die krieketveld onthou sy dié seuntjie en gaan krap in haar argief.

Lees haar rubriek oor haar kennismaking met krieket en die skaam blondekopseun wat so uitgeblink het:

By die laerskool, net ’n paar blokke verder, loer ek in om die week se presteerders af te neem. “Dis weer vandag net klein AaBee de Villiers,” sê die onderhoof. Klein AaBee. Dís hoe almal hom noem. Nie AB nie. AB is sy pa, die dokter op die dorp.

“Waarvoor vandag?” wil ek weet. “Weer vir tennis? Of dalk gholf?”

“Nee, dié keer vir rugby,” word ek ingelig.

Laas week was dit krieket. En die week voor dít die hoofleiers.

Die blondekopseun kom kantoor toe nadat sy naam afgekondig is. “Môre, Tannie,” groet hy vriendelik. Soos bykans elke Dinsdag die afgelope jaar.

Boekbesonderhede


» read article

Keina Swart oor die sagtes van hart: “Die nuwe aarde sal hul erfporsie wees”

BloujaarKeina Swart het onlangs ’n rubriek geskryf vir Netwerk24 oor haar dogter se sagte hart.

Die Bloujaar-outeur beskryf ’n familietoer na Mosambiek waar haar dogter alles wou koop, van tamaties tot ’n vlegsel in die hare, omdat sy jammer voel vir die verkopers. “Ons almal ken sulke mense. Dis hulle wat hul kop laat sak wanneer hulle verbyry by ’n plek waar ’n boom afgekap word,” skryf sy.

Lees Swart se rubriek:

Dis hulle wat hulself aan die slaap huil as die pa’s muisgif in die plafon sit, want: “Die muis het ’n naam en ’n familie. Dis Susara, en sy het elke aand teen die plafon gekrap om nag te sê.” Dis hulle van wie siniese mense sê: “Sy gaan nog swaarkry in die lewe; sy sal nog wragtag eendag trou met iemand vir wie sy jammer is.”

Hopelik nie, want “sag van hart” beteken nie “onnosel” nie. Inteendeel, diesulkes se ingeboude monitors begin gewoonlik kliphard skree in die teenwoordigheid van alles wat vals en gemeen en hardvogtig is.

Hierdie wêreld is inderdaad nie vir hulle nie. Die nuwe aarde sal hul erfporsie wees – net soos dit opgeskryf staan.

Boekbesonderhede


» read article

’n Middeleeuse hofnar neem ’n gevange kroonprins onder sy vlerk in Mimus deur Lilli Thal

MimusProtea Boekhuis stel bekend Mimus deur Lilli Thal, vertaal deur Amelia de Vaal:

Vir langer as wat kroonprins Florin oud is, is die twee koninkryke Monfiel en Vinland in ’n wrede oorlog verwikkel. Tot daar op ’n dag ’n bode die goeie tyding bring dat die twee konings vrede gesluit het. Florin word na die vredesfees in Vinland genooi, maar daar aangekom, wag die grootste skok op die jong prins: Die sogenaamde vredesverdrag was ’n lokval. Sy pa, koning Philip, en sy gevolg is gevange geneem en Florin verloor in ’n oogwink alles wat hy het: sy pa, sy titel, sy koninkryk en sy eer. Koning Theodo laat hom leef, maar verdoem hom om opgelei te word as hofnar deur Mimus – Theodo se onvoorspelbare, enigmatiese en met tye gemene hofnar.

Saam met Mimus moet Florin dag na dag leer hoe om die laagste skepsel aan die hof te wees en sy kop te behou deur die koning te laat lag. Maar daar is meer aan Mimus as donkieore, ’n narmasker en lawwe toertjies, wat Florin laat wonder of Mimus dalk sy vertroueling en vriend kan wees… of ’n pop wat slegs na Theodo se pype dans?

Mimus is ’n verhaal van konings en narre, mag en vernedering, humor en hartseer, en in die middel ’n enkele hofnar wat terselfdertyd lig én donker verteenwoordig. Dit is ’n intrige wat oud en jonk sal meesleur na die Middeleeue en tot op die laaste bladsy sal boei.

Oor die outeur

Lilli Thal het ’n meestersgraad in Middeleeuse geskiedenis en is sedert 2000 voltyds skrywer. Mimus is in 2004 vir die Deutscher Jugenliteraturpreis benoem. Haar ander suksesvolle jeugboek, Joran Noordewind, is in 2012 deur Protea Boekhuis uitgegee.

Boekbesonderhede


» read article

Nuwe uitgawe van ou bekende jeugverhaal: Skrik kom huis toe deur Dolf van Niekerk

Skrik kom huis toeSkrik kom huis toe deur Dolf van Niekerk is nou opnuut beskikbaar by Protea Boekhuis:

’n Jeugverhaal wat ook geskik is vir volwassenes. Met Dolf van Niekerk se intieme kennis van die kind, skryf hy vanuit ’n kind se oogpunt oor “die buitestaander/outcast”. Verskeie kwessies wat ’n kind na aan die hart lê word aangeraak, soos: gebroke families, tekort aan aandag en liefde, drome en standvastigheid.

Albert is eensaam. Hy kom uit ’n gebroke huis waar daar baie gehuil en min gelag word. Hy ken nie sy stiefma nie en dis asof sy pa net ’n kuiergas in die huis is. ’n Posduif bring nuwe hoop en opwinding in sy lewe. Die tuin word sy veilige hawe – die plek waar hy net homself kan wees en vrylik mag liefhê.

’n Jeugboek wat meer as net ’n ontspanningsboek is. As jou kind hierdie eers gelees het, sal sy vir die res van haar lewe opkyk as sy die geruis van duifvlerke hoor. Sy sal deernis hê met haar maats wat uit gebroke huise kom, want sy sal besef dat hulle dit nie maklik in die lewe het nie. Sy sal nooit net niks kan voel as sy ’n dooie posduif in die pad sien lê nie. As sy dikbek of sleg voel, sal sy uitwyk na die stilte van die tuin. En as iemand haar drome bedreig, sal sy hulle op ʼn afstand by die diere stilletjies sit en vloek. – Keina Swart

Oor die outeur

Rudolf Johannes van Niekerk (Dolf) is op 22 Februarie 1929 in Edenburg gebore. Hy het sy debuut in 1953 in die literêre tydskrif Standpunte, gemaak. Hy het begin prosa skryf, asook verskeie werke vir radio wat insluit dramas en reekse.

Boekbesonderhede


» read article